Sorghumproewe: Belowende nuwe kultivars

2079
Petru Fourie,
navorsingskoördineer-der en produksiekoste-analis, Graan SA

Graan SA se sorghumkultivarproefprojek is in sy vierde seisoen. Die projek vind plaas in samewerking met produsente en sorghumsaadmaatskappye (Agricol, Pannar, K2 en AGT Foods Africa). Die doel van die projek is om die winsgewendheid en volhoubaarheid van sorghumproduksie in Suid-Afrika te bevorder deur die aanpasbaarste kultivar vir elk van die produksiegebiede te identifiseer.

Lokaliteite
Strookproewe is die afgelope seisoen by vier lokaliteite (Vredefort, Devon, Standerton en Settlers) aangeplant. Dit was ’n uitdagende seisoen met reën wat heelwat later as normaal voorgekom het.

Die proef op Vredefort (by mnr Johan Venter) is deur swerms kweleas getref omdat daar baie min soetsorghum in daardie omgewing aangeplant is en kon dus nie gestroop word nie. Die koëffisiënt van variasie (KV) van die Devon-proef (by mnr Nkateko Mathebula) was hoog en nie statisties aanvaarbaar nie. Die beplande proef in Bloemfontein (by mnr George Truter) kon weens droogtetoestande nie aangeplant word nie.

Settlers en Standerton, die ander twee lokaliteite, is wel gestroop en die resultate word in hierdie artikel bespreek.

Kultivars en kontrole
Kultivars wat kommersieel beskikbaar is, sowel as potensiële “goeie” kultivars wat nog nie kommersieel beskikbaar is nie, word in die proewe ingesluit. Daar is groot opwinding onder Graan SA-personeel en sorghumprodusente, aangesien die betrokke saad­maatskappye daadwerklik skouer aan die wiel sit om nuwe kultivars vir produsente beskikbaar te stel.

Wanneer die resultate in Tabel 1 en Tabel 2 van nader bekyk word, is dit opmerklik hoeveel nuwe kultivars die afgelope vier seisoene in die proewe ingeskryf is. Pannar se PAN 8816 is as kontrole gebruik.

Resultate
Strookproefresultate kan gebruik word om die beste kultivars met die regte eienskappe te identifiseer en sodoende die aanpasbaarste kultivar vir die omgewing aan te plant. Die tabelle verskaf die opbrengste per kultivar, gemiddelde opbrengs per gebied en elke gebied se KV.

Die KV dui die statistiese korrektheid van ’n proef aan. ’n Waarde laer as 15 word as statisties goed beoordeel. Met ander woorde: Hoe laer die KV, hoe meer aanvaarbaar die proef se akkuraatheid. Met die plaaslike vraag hoofsaaklik na soetsorghum, word daar grotendeels soetsorghumkultivars in die proewe ingesluit.

Bittersorghumkultivars word met ’n ¹ aangedui.

Standerton
In Tabel 1 word die opbrengsdata vir Standerton vir die afgelope vier produksieseisoene aangetoon. Die KV vir die 2018/2019-seisoen was baie laag, naamlik 4,68%. Die proef is dus baie goed uitgevoer en die resultate is betroubaar.

Die kultivar van Agricol (Enforcer) het die hoogste opbrengs in die 2018/2019-seisoen behaal en het ook die beste presteer as die vierjaargemiddeld in ag geneem word.

KGS 007 (K2) en Arrow (AGT Foods Africa) is albei nuwe inskrywings en het die tweede en derde beste opbrengste die afgelope seisoen behaal. Pannar se PAN 8625, wat vir ’n tweede jaar in die proewe ingeskryf is, het die vierde plek behaal.

Waar kultivars twee tot vier jaar in die proef was, is die gemiddeld bereken.

Alhoewel dié proef baie klimaatsuitdagings deurstaan het, is ’n goeie gemiddelde opbrengs van 5,41 t/ha behaal.

Settlers
Heelwat nuwe sorghumkultivars is die afgelope vier seisoene in die Settlers-proef ingeskryf. Mr Buster en Mr Taurus, twee van K2 se inskrywings, het die beste en tweede beste opbrengste die afgelope seisoen behaal. Dit is ook die eerste keer dat Mr Taurus in die strookproef ingeskryf is.

Die kultivar van Pannar (PAN 8945) het die derde beste presteer, gevolg deur Enforcer (Agricol) wat die beste presteer het as die vierjaargemiddeld in ag geneem word.

Die KV was 18,98% vir die 2018/2019-seisoen – wat ’n bietjie hoër as die aanvaarde norm is – en ’n gemiddelde opbrengs van 2,13 t/ha is behaal.

Waar kultivars twee tot vier jaar in die proef was, is die gemiddeld bereken.

Slotsom
Graan SA spreek sy dank uit aan almal wat saam werk om plaaslike sorghumproduksie te bevorder deur aan dié projek deel te neem. Só ’n taak kan nie aangepak word sonder toegewyde, doelgerigte produsente asook die samewerking en bystand van Pannar, K2, Agricol en AGT Foods Africa nie.

Die sorghumkultivarproef op Standerton word op mnr Ebert du Plessis se plaas aangeplant, terwyl die Settlers-proef op mnr Willem Groothof (Graan SA-hoofbestuurslid vir Streek 13) se plaas aangeplant word. Dit is die vierde jaar dat elk van hulle dié proewe aanplant en Graan SA het groot waardering vir hul moeite en opofferings daarmee.

Resultate kan ook op Graan SA se webblad by www.grainsa.co.za, onder Graannavorsing besigtig word.

Graan SA spreek sy opregte dank aan die Sorghumtrust uit vir die finansiële steun waarsonder die projek nie moontlik sou wees nie.