Belowende kultivars in die pyplyn

Petru Fourie, navorsingskoördineerder en landbou-ekonoom, Graan SA
Gepubliseer: 7 September 2020

1287

Graan SA se sorghum-kultivarproefprojek is in sy vyfde seisoen. Die projek vind in samewerking met die sorghumsaadmaatskappye (Agricol, K2 Agri, Pannar en AGT Foods Africa) en produsente plaas. Die doel van die projek is om die winsgewendheid en volhoubaarheid van sorghumproduksie in Suid-Afrika te bevorder deur die aanpasbaarste kultivar vir elk van die produksiegebiede te identifiseer.

Lokaliteite
Strookproewe is die afgelope seisoen op vier lokaliteite aangeplant. Die beplanning was om twee proewe in Mpumalanga en twee proewe in Limpopo aan te plant weens die onsekerheid van klimaatstoestande asook moontlike kweleaskade wat ’n proef negatief sou affekteer. Die proef wat in Devon (Mpumalanga) aangeplant is, het tot 80% kweleaskade gehad. Die ander drie lokaliteite se resultate word in dié artikel bespreek.

Kultivars en kontrole
Kultivars wat kommersieel beskikbaar is sowel as potensieel “goeie” kultivars wat nog nie kommersieel beskikbaar is nie, word in die proewe ingesluit. Daar heers ’n nuwe opwinding onder Graan SA en sorghumprodusente, aangesien die betrokke saadmaatskappye daadwerklik skouer aan die wiel sit om nuwe kultivars vir produsente beskikbaar te stel. Wanneer die resultate in die artikel van nader bekyk word, is dit opmerklik hoeveel nuwe kultivars die laaste vyf seisoene in die proewe ingeskryf is. Pannar se PAN 8816 is as kontrole in Mpumalanga (Standerton) gebruik, terwyl K2 Agri se Mr Buster as kontrole in Limpopo (Settlers, Lehau) gebruik is.

Resultate
Strookproefresultate kan gebruik word om die beste kultivars met die regte eienskappe te identifiseer en sodoende die aanpasbaarste kultivar vir die omgewing aan te plant. Die tabelle verskaf die opbrengs per kultivar, die gemiddelde opbrengs per gebied en elke gebied se koëffisiënt van variasie (KV). Die KV dui die statistiese korrektheid van ’n proef aan. ’n Waarde laer as 15 word as statisties goed beoordeel. Met ander woorde, hoe laer die KV, hoe meer aanvaarbaar die proef se akkuraatheid. Met die plaaslike vraag hoofsaaklik na soetsorghum, word soetsorghumkultivars grotendeels in die proewe ingesluit. Bittersorghumkultivars word met ’n ¹ aangedui.

Mpumalanga (Standerton)
In Tabel 1 word die opbrengsdata vir Standerton vir die 2019/2020-produksieseisoen aangetoon. Die KV was baie laag (1,95%); die proef is dus uiters goed uitgevoer en die resultate is betroubaar. Die saadmaatskappye het in totaal twaalf kultivars in die Standerton-proef ingeskryf, waarvan vier vir die eerste keer in dié proef aangeplant is.

¹ Bittersorghumkultivars
2019/2020: SG12471 – standprobleme
** Nie kommersieel beskikbaar nie

Dit is die eerste seisoen dat AGT Foods Africa se SG11668 in die proef ingeskryf is en dié kultivar het die hoogste opbrengs in die 2019/2020-seisoen behaal. Arrow, wat ook ’n kultivar van AGT Foods Africa is, het tweede beste presteer. Dit is belangrik om daarop te let dat albei hierdie kultivars nog nie kommersieel beskikbaar is nie, maar baie belowend lyk. Agricol se Avenger en Pannar se PAN 8625, albei bittersorghumkultivars, het die derde en vierde plekke behaal. ’n Besonder goeie gemiddelde opbrengs van 7,1 t/ha is vir die proef behaal.

Nuwe inskrywings vir 2019/2020

  • AGT Foods Africa (SG11668, SG12472, SG12471)
  • Agricol (Ag Swift)

Die opbrengsdata vir kultivars wat langer as twee jaar in die Standerton-proef ingesluit is, se gemiddeldes word in Tabel 2 aangetoon. Kultivars wat slegs een seisoen in die proef ingesluit is of nie meer kommersieel beskikbaar is nie, is nie in die tabel gelys nie. Die gemiddelde strookproefopbrengs (t/ha) sowel as KV kan per seisoen vergelyk word. Agricol se Enforcer en Pannar se PAN 8816 is die enigste twee kultivars wat vyf jaar deel van die proef was. Enforcer het die hoogste vyfjaar- gemiddelde opbrengs met 7,2 t/ha gehad, gevolg deur PAN 8816 met 6,75 t/ha. Die kultivars wat twee en drie jaar in die proef ingeskryf is se gemiddeld is ook bereken.

¹ Bittersorghumkultivars
2017/2018: Avenger – standprobleme
** Nie kommersieel beskikbaar nie

Limpopo (Settlers)
Limpopo het die afgelope seisoen ernstige droogtetoestande ervaar, met reën wat laat voorgekom en die afskop van die seisoen vertraag het. Heelwat nuwe sorghumkultivars is die afgelope vyf seisoene in die Settlers-proef ingeskryf; vyf kultivars is vir die eerste keer in die 2019/2020-proef ingeskryf. In Tabel 3 word die opbrengsdata vir Settlers vir die 2019/2020-produksieseisoen aangetoon. Die proef is goed uitgevoer en die resultate is betroubaar ten spyte van die bietjie hoër KV-waarde weens die moeilike produksieseisoen en droogtetoestande. PAN 8625 se bittersorghumkultivar het die beste opbrengs vir die 2019/­2020-seisoen gelewer, terwyl K2Agri se Mr Buster die tweede beste opbrengs die afgelope seisoen behaal het.

¹ Bittersorghumkultivars
** Nie kommersieel beskikbaar nie

Agricol se Ag Swift het derde beste presteer, gevolg deur Mr Taurus van K2Agri. Die KV was 15,8% vir die 2019/2020-seisoen en ’n gemiddelde opbrengs van 1,39 t/ha is behaal.

Nuwe inskrywings vir 2019/2020

  • AGT Foods Africa (SG11668, SG 12472, SG12471)
  • Agricol (Cracka, Rippa)

Die opbrengsdata vir kultivars wat langer as twee jaar in die Settlers-proef ingesluit is, se gemiddeldes word in Tabel 4 aangetoon. Soos by Standerton is die kultivars wat slegs een seisoen in die proef ingesluit was of nie meer kommersieel beskikbaar is nie, uit die tabel gelaat. Die gemiddelde strookproefopbrengs(t/ha) sowel as KV kan per seisoen vergelyk word. Volgens die data is dit opmerklik dat die afgelope seisoen baie moeilik was en is dit die laagste gemiddelde opbrengs wat gedurende die vyfjaartydperk gestroop is. Agricol se Enforcer, K2 Agri se Mr Buster en Pannar se Pan 8816 is die enigste drie kultivars wat al vyf jaar in die proef ingeskryf is. Enforcer het die hoogste vyfjaar- gemiddelde opbrengs met 3,09 t/ha, gevolg deur Mr Buster met 2,86 t/ha. Die kultivars wat twee en drie jaar in die proef ingeskryf is, se gemiddeld is ook bereken en word in Tabel 4 getoon.

¹ Bittersorghumkultivars
2017/2018: Mr Buster – standprobleme

Limpopo (Lehau)
Dit is die eerste seisoen dat ’n proef in Lehau (Settlers) aangeplant is. In Tabel 5 word die opbrengsdata vir Lehau (Settlers) vir die 2019/2020-produksieseisoen getoon. Die KV was bietjie aan die hoë kant (17,79%), aangesien dit ’n baie moeilike seisoen was en uiters lae gemiddelde reënval voorgekom het. ’n Besonder lae gemiddelde opbrengs van 1,19 t/ha is vir die proef behaal. Daar was nie uitermatige opbrengsverskille tussen die eerste paar kultivars nie. Die saadmaatskappye het in totaal 13 kultivars vir die proef in Lehau (Settlers) ingeskryf. K2 Agri se Mr Buster het die hoogste opbrengs in die 2019/2020-seisoen behaal, gevolg deur AGT Foods Africa se SG 11668. Agricol se Ag Swift en Rippa het die derde en vierde plekke behaal.

¹ Bittersorghumkultivars
** Nie kommersieel beskikbaar nie

Slotsom
Graan SA spreek sy dank uit aan elke individu wat saamwerk om plaaslike sorghumproduksie te bevorder deur dié projek te ondersteun. So ’n taak kan nie aangepak word sonder toegewyde, doelgerigte produsente asook die samewerking en bystand van K2Agri, Agricol, AGT Foods Africa en Pannar nie. Die resultate kan op Graan SA se webblad by www.grainsa.co.za onder die graannavorsingopskrif besigtig word.

Graan SA bedank ook die Sorghumtrust vir hulle finansiële steun, waarsonder die projek nie moontlik sou wees nie.