Sleutelrol vir sorghum

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain
Gepubliseer: 9 September 2020

1689

Sorghum is inheems aan Afrika en ’n stapelvoedsel vir miljoene mense. Tog is dié graan onderbenut en word dit dikwels onderskat.

Behalwe vir sy besonderse voedingseienskappe en gesondheidsbevorderende komponente, bied sorghum ook biobrandstofgeleenthede, dien dit as veevoer en kan dit verder vir die ontwikkeling van voedselprodukte aangewend word.

Met Suid-Afrika se ekstreme klimaatskommelinge en die vooruitsig dat toestande selfs warmer en droër kan word, is dit belangrik om gewasse soos sorghum, wat betreklik bestand teen droogtetoestande is, se rol in voedselsekerheid uit te lig.

SA Graan/Grain het die saadmaatskappye Pannar Saad, Limagrain Zaad SA (Link Seed, K2 en Seed Co SA), Agricol en AGT Foods Africa genader om meer uit te vind oor die vermeerdering en invoer van sorghumsaad, die kommersialiseringsproses asook die nuutste in kultivarontwikkeling.

Hoe word bepaal hoeveel saad om te vermeerder of in te voer?
Volgens Pieter Rademeyer, hooflandboukundige by Pannar Saad, word daar eerstens na die geskiedenis van produksie gekyk. Daarna word die Oesskattingskomitee se opname van voorneme om te plant in ag geneem. “Ons doen ook ’n interne opname van voorneme om te plant. Dit alles word bymekaargesit om die beplanning hieroor te kan doen.”

Anita Janeke, produkontwikkelingsingenieur verbonde aan Limagrain Zaad SA, sê vooruitskattings van bemarkers en hul bemarkingsafdeling speel hier die grootste rol.

Joubert Swanepoel van Agricol sê hulle voer gewoonlik saad in op grond van die vraag wat in die mark ontstaan. “Dit is egter moeilik as dit by invoere kom, want dit neem ’n geruime tyd om die saad in te voer en die situasie in die mark kan vinnig verander soos die plantseisoen nader kom. Indien daar ’n tekort aan saad in die mark ontstaan as gevolg van die verandering in die mark, is dit nie maklik om dan weer vinnig genoeg saad in te voer om die tekort aan te spreek nie. Ons probeer dus die mark so effektief moontlik opsom wanneer saad ingevoer word om seker te maak dat daar genoeg saad beskikbaar sal wees vir ons produsente,” verduidelik hy.

Alwyn Prinsloo, produksiebestuurder by AGT Foods Africa, sê hulle het nie tans ’n teelprogram vir sorghum in Suid-Afrika nie, maar het ’n samewerkingsooreenkoms met S&W Seed Company in Australië. “Saad kan nie net vermeerder en binnelands verkoop word as dit nie op die variëteitslys verskyn nie. Indien die saad reeds geregistreer is op die OECD-lys, kan ons dit in Suid-Afrika vermeerder en weer uitvoer. Die hoeveelheid saad word bepaal deur vraag en aanbod en ook die kliëntedatabasis. Wat hier verder van belang is, is om die variëteit in ander lande geregistreer te kry sodat dit ook uitgevoer kan word indien die vraag in Suid-Afrika minder is as wat geproduseer word.”

Deur watter prosesse gaan ’n lyn of kultivar voordat dit gekommersialiseer word?
Pieter (Pannar Saad) verduidelik dat nuwe kultivars eers deur ’n reeks proewe gaan. “Vandag word nuwe produkte in ’n P3-formaat aangeplant. Dit behels dat dit vir twee jaar in stroke getoets word. Wat in gedagte gehou moet word, is dat dit produkte is wat reeds in ander wêrelddele die toets geslaag het. Agronomiese aspekte soos staanvermoë, stroopbaarheid en siekteverdraagsaamheid word ondersoek.”

Die proses by Limagrain Zaad SA is ten minste twee jaar se proewe, onderhandelings en variëteitslysregistrasie, verduidelik Anita.

Volgens Joubert (Agricol) vereis Suid-Afrika se variërende seisoene dat ’n kultivar vir ’n paar seisoene geëvalueer word voordat dit gekommersialiseer kan word. “Sekere seisoene bevoordeel sekere gewasse asook sekere kultivars. ’n Nuwe kultivar kan in die eerste jaar van toetsing baie goed presteer en niks makeer nie. Die volgende seisoen se klimaatstoestande kan dalk heeltemal verskil van dié van die eerste seisoen en die kultivar kan anders reageer in die tweede jaar van toetsing. Ons doen dus deeglike toetsing van al ons akkerbougewasse voordat dit in die mark verskyn.”

Alwyn (AGT Foods Africa) verduidelik dat graansorghumbas­tersaad ingevoer en getoets word op sekere proefpersele, onder meer met die Graan SA-proewe. “Afhangende van die uitslae bepaal ons of die variëteit aangepas is vir Suid-Afrikaanse toestande en of dit kan kompeteer met die opbrengs van variëteite wat reeds in Suid-Afrika beskikbaar is. Gedurende die proses kyk ons ook na weerstand teen sekere siektes soos noordelike blaarskroei.”

“Indien daar ’n belowende variëteit is, word dit deurgegee om op die variëteitslys te kom. Die proses vat gewoonlik so twee jaar en dit kan goedgekeur of afgekeur word. Indien dit goedgekeur word, word ouersaad ingevoer vir produksie en vermeerdering in Suid-Afrika. Ons behou gewoonlik twee variëteite wat reeds getoets is en voer drie nuwe variëteite vir die proewe in. Hierdie is ’n lang proses, maar ook noodsaaklik sodat ons vertroue het in die variëteite wat in Suid-Afrika bemark word,” verduidelik hy.

Wat is nuut in die pyplyn?
Pannar se PAN 8950 word die komende seisoen ingebring as ’n nuwe baster. ’n Beperkte hoeveelheid saad van hierdie baster – wat baie belofte inhou – sal beskikbaar wees.

Agricol het ’n besonder opwindende kultivarpyplyn vir al hul akkerbougewasse (sonneblom, sojabone, graansorghum en mielies). Wat graansorghum betref, kan produsente gerus op die uitkyk wees na nuwe soet- en bitterkultivars met ’n kort groeiseisoenlengte.

AGT Foods Africa het twee belowende nuwe variëteite: Arrow en SG11668. Arrow is reeds ingedien en behoort binnekort op die variëteitslys te wees. SG11668 is ’n nuwe variëteit wat vanjaar vir die eerste keer getoets is.