Grondbone-oesskattings – ‘n provinsiale perspektief

2124
Marda Scheepers,
senior statistikus: Voedselsekerheid en Oesskattings, Departement van Landbou, Grondhervor­ming en Landelike Ontwikkeling

Grondbone is ’n gewas met ’n hoë waarde. Dit word meestal in die noordwestelike streke van Suid-Afrika geproduseer en gewoonlik in gebiede waar die grond sanderig is – soos in die weste en noordweste van die Vrystaat, die Noordwes Provinsie en die Noord-Kaap. In Limpopo en Mpumalanga is die produksie van grondbone kleiner.

Oppervlakte
Die verspreiding per provinsie van die gemiddelde aanplantings (ha) vir grondbone vir die tydperk 2010 tot 2019 word in Grafiek 1 aangedui. Gedurende hierdie tydperk het die meeste aanplantings in die Vrystaat plaasgevind, naamlik 40,9%, gevolg deur Noordwes met 40,7%, die Noord-Kaap met 12,6% en Limpopo met 5,5%.

Suid-Afrika se grondboonmark was die afgelope paar jaar uiters wisselvallig – hoofsaaklik as gevolg van die wisselvallige weerstoestande wat die afgelope twee tot drie jaar in die plaaslike produksiegebiede voorgekom het.

Die skatting van die oppervlakte onder grondbone vir 2019 beloop 20 050 ha – die laagste oppervlakte beplant op rekord. Die huidige oppervlakte aangeplant dui ook op ’n betekenisvolle daling van 64,4% in vergelyking met die 56 300 ha aangeplant in 2018.

Dit is 28 955 ha minder as die afgelope vyf jaar (2014 tot 2018) se gemiddelde oppervlakte van 49 005 ha en ook 30 403 ha minder as die afgelope tien jaar (2009 tot 2018) se gemiddelde oppervlakte van 50 453 ha (Grafiek 2).

Produksie
Die vierde produksieskatting van grondbone vir 2019 beloop 22 705 ton – die kleinste oes sedert 2016 waar daar slegs 17 680 ton gerealiseer het. Dit verteenwoordig ook ’n afname van 60,2% vanaf die 2018-oes van 57 000 ton. Die 2019-oes is 62,6% minder as die afgelope vyf jaar se gemiddelde oes van 60 706 ton en 65,4% minder as die afgelope tien jaar se gemiddelde oes van 65 578 ton (Grafiek 3).

Provinsiale perspektief
Bykans die hele grondboonoes in Suid-Afrika word in vier provinsies geplant, naamlik die Vrystaat, die Noordwes Provinsie, Limpopo en die Noord-Kaap. Gedurende die 2019-seisoen (2018/2019-produksieseisoen) het 57,4% van die aanplantings in die Vrystaat, 27,4% in die Noordwes Provinsie, 9,2% in Limpopo en 6,0% in die Noord-Kaap plaasgevind.

Tans word die verwagte oes in die Vrystaat op 10 925 ton (48%) geraam, gevolg deur die Noordwes Provinsie met 4 950 ton (22%), Limpopo met 4 070 ton (18%) en die Noord-Kaap met 2 760 ton (12%).

Vanuit ’n provinsiale perspektief sien die oppervlakte beplant en verwagte produksie van grondbone oor tyd soos volg daar uit:

Vrystaat
Die skatting van die oppervlakte onder grondbone in die Vrystaat vir 2019 beloop 11 500 ha – 47,7% minder as die 22 000 ha aangeplant in 2018. Dit is 7 100 ha minder as die afgelope vyf jaar se gemiddelde oppervlakte van 18 600 ha (Grafiek 4).

Vir die Vrystaat beloop die vierde produksieskatting van grondbone vir 2019 10 925 ton – die kleinste oes sedert 2016 waar daar slegs 2 920 ton gerealiseer het. Dit dui op ’n afname van 48,3% vanaf die 2018-oes van 21 150 ton. Die 2019-oes is 47,2% minder as die afgelope vyf jaar se gemiddelde oes van 20 694 ton (Grafiek 5).

Noordwes Provinsie
Daar word geskat dat die oppervlakte onder grondbone in die Noordwes Provinsie vir 2019 5 500 ha beloop – 80,4% minder as die 28 000 ha aangeplant in 2018. Dit is 16 960 ha minder as die afgelope vyf jaar se gemiddelde oppervlakte van 22 460 ha (Grafiek 6).

Die vierde produksieskatting van grondbone vir die Noordwes Provinsie vir 2019 beloop 4 950 ton – die kleinste oes sedert 2016 waar daar slegs 3 320 ton gerealiseer het. Dit dui op ’n afname van 77,0% vanaf die 2018-oes van 21 500 ton. Die 2019-oes is 76,8% minder as die afgelope vyf jaar se gemiddelde oes van 21 384 ton (Grafiek 7).

Limpopo
Die skatting van die oppervlakte onder grondbone in Limpopo vir 2019 beloop 1 850 ha – 47,1% minder as die 3 500 ha aangeplant in 2018. Dit is 870 ha minder as die afgelope vyf jaar se gemiddelde oppervlakte van 2 720 ha (Grafiek 8).

Tans beloop die produksieskatting van grondbone vir Limpopo 4 070 ton, wat 44,6% minder is die 2018-oes van 7 350 ton. Die 2019-oes is ook 2,9% minder as die afgelope vyf jaar se gemiddelde oes van 4 190 ton (Grafiek 9).

Noord-Kaap
Daar word geskat dat die oppervlakte onder grondbone in die Noord-Kaap vir 2019 slegs 1 200 ha beloop – 57,1% minder as die 2 800 ha aangeplant in 2018. Dit is die laagste aanplantingsyfer ten opsigte van grondbone op rekord. In vergelyking met die afgelope vyf jaar se gemiddelde oppervlakte van 5 180 ha, dui die huidige aanplantings op ’n daling van 3 980 ha (Grafiek 10). Die daling in die oppervlakte beplant kan onder meer toegeskryf word aan die uitbreiding van pekanneut- en katoenverbouing in die Noord-Kaap.

Op hierdie stadium beloop die produksieskatting van grondbone vir die Noord-Kaap 2 760 ton – wat 60,6% minder is die 2018-oes van 7 000 ton. Die 2019-oes is 80,8% minder as die afgelope vyf jaar se gemiddelde oes van 14 380 ton (Grafiek 11). Omrede die aanplantings van grondbone in die Noord-Kaap meestal onder besproeiing geskied, word die daling in die produksie hoofsaaklik toegeskryf aan die daling in die oppervlakte beplant oor tyd.