Oorweeg dekgewasse vir somersaai-dele ook

Gepubliseer: 4 November 2021

142
Dirk Coetzee,
agronoom, Limagrain Zaad Suid-Afrika

Landboukundiges reg oor die wêreld kan getuig van die sukses wat produsente uit alle klimaatsones met bewarings­landboupraktyke behaal. Hierdie praktyke sluit die plant van dekgewasse in.

Medeprodusente wat hierdie praktyke self toepas, kan daarvan getuig. Dit is egter oor en oor bewys dat hier­die getuienisse eers tot aksie sal lei indien die produsent wat dit aanhoor, self die kopskuif maak dat bewaringslandboupraktyke ondersoek moet word. Hierdie kopskuif vind gewoonlik plaas as die konvensionele manier van boer nie meer volhoubaar winsgewend genoeg is nie.

Daar kan onderskeid tussen ’n dekgewasmengsel en ’n weidingsmengsel getref word. Enige iets kan as ’n dekgewas beskou word, indien dit geplant word om ’n spesifieke uitdaging biologies op te los, met die bykomende voordeel dat dit bewei kan word. ’n Multispesieweidingsmengsel word gewoonlik slegs met die oog op voerproduksie geplant, alhoewel dit ook ander voordele kan inhou. Verskeie uitdagings kan aangepak word deur ’n dekgewasmengsel te plant. In sommige gevalle hoef dit nie eers ’n mengsel te wees nie, maar ’n diversiteit van gewasse is gewoonlik meer voordelig.

Suid-Afrikaanse klimaatsfaktore
Suid-Afrika is ’n droë land, met ’n gemiddelde reënval van ongeveer 460 mm/jaar. Plaaslike produsente moet wesenlike uitda­gings trotseer, met klimaatsfaktore soos ondergemiddelde reënval en uiterste temperature van die grootstes. Hierdie uitdagings verhoog die finansiële risiko wat produsente elke jaar voor planttyd neem. Reënvalpatrone is buite die produsent se beheer, maar die effektiewe benutting van die reën wat wel ontvang word, kan beheer word – deur die grond se waterinfiltrasietempo en waterhouvermoë te verhoog. Die plant en korrekte bestuur van dekgewasse kan hier ’n rol speel, veral in die droër dele van die somersaaigebied.

Daar is verskeie dekgewaskomponente wat in mengsels gebruik kan word om spesifieke doelwitte te bereik. In Tabel 1 word van die algemeenste eenjarige gewasse gelys. Die dekgewaskomponente het elk ’n vermoë om individueel of in kombinasie spesifieke doelwitte te bereik. Hulle is ook almal relatief droogteverdraagsaam. Die komponente van ’n dekgewasmengsel hoef nie noodwendig hoë produksie te lewer om ’n uitdaging effektief te help trotseer nie. Slegs die teenwoordigheid van die komponent se wortelstelsel en goeie grondbedekking deur die mengsel as geheel, behoort in baie gevalle al ’n beduidende impak te maak.

Unieke behoeftes
Dit is selde dat twee produsente presies dieselfde uitdagings gaan hê wanneer daar besluit word om ’n dekgewas te plant. Daarom is dit belangrik om vir elkeen ’n voorskrifmengsel te maak op grond van die doelwit wat hy wil bereik, die stelsel waarin die aanplanting moet inpas, die toerusting tot sy beskikking, die reënval wat hy verwag, ensovoorts. Die tydsberekening rondom die kontantgewasse moet ook voorkeur geniet. Dekgewasverbouing moet by ’n produsent se praktyke inpas en daar moet nie groot
kapitale uitgawes aangegaan word om daarmee te begin nie.

’n Paar faktore moet by die maak van ’n voorskrifmengsel in ag geneem word:
1. Wat is die hoofdoelwit van die aanplan­ting?

  • Verbetering van fisiese grondeienskappe
    Waterinfiltrasie, waterhouvermoë, ver­ligting van kompaksie, verhoeding van erosie, ensovoorts.
  • Sirkulering van grondnutriënte
    Binding van stikstof, opraping van stikstof, fosfaat, ensovoorts.
  • Verligting van grondtoksisiteite en wanbalanse
    Swaarmetale, soute, ensovoorts.
  • Plaagbestuur
    Onkruid, aalwurms en ander plae.
  • Biodiversiteit
    Verbetering van algemene grondgesondheid.

2. Met droëlandaanplantings moet vogbeskikbaarheid altyd in ag geneem word. Die dekgewasaanplanting moet nie ’n nadelige invloed op vogbeskikbaarheid vir die kontantgewasverbouing hê nie:

  • Oor heelwat dele van die somersaaigebied is die waarskynlikheid op goeie reën die hoogste in die laat somer en herfs. Winterdekgewasse wat in die herfs aangeplant word, moet betyds geplant word om genoeg reën te ontvang. Dit kan plaasvind na ’n somerkontantgewas wat vroeg gestroop word, na ’n somerdek­gewas of weidingsgewas wat vroeg getermineer word of na ’n somerhooi- of kuilvoergewas wat vroeg gesny word.
  • ’n Winterdekgewas wat goed gevestig het, sal vog deur die winter en vroeë lente benut. Die grondprofiel kan gevolglik kurkdroog wees wanneer die volgende somerseisoen aanbreek. Dit is nie noodwendig ’n probleem indien ’n produsent in elk geval wag vir die eerste ordentlike somerreën voordat daar geplant word nie. Met die ekstra grondbedekking en koolstof wat die dekgewas agterlaat, behoort die eerste reën ook meer effektief te wees.
  • Dit mag nodig wees om die dekgewas te termineer (fisies of chemies) teen die tyd dat die eerste reën val om verdere kompetisie vir vog te verhoed. Indien ’n produsent die grond nie erg wil versteur nie, kan die dekgewasmengsel ook saamgestel word uit komponente wat makliker getermineer kan word of swak kompetisie in die warmer maande sal bied.
  • Die mengselsamestelling van so ’n winterdekgewas sal baie afhang van die hoeveelheid reën wat verwag word. Mengselkoste gaan hier ’n bepalende rol speel. Indien min reën (byvoorbeeld 50 mm tot 100 mm) verwag word op ’n later herfsaanplanting, sou ’n goedkoper mengsel met goedkoper komponente (in ag genome die hoofdoelwit) ’n beter opsie wees. Indien meer reën (byvoorbeeld 100 mm tot 300 mm) op ’n vroeër aanplan­ting verwag word, kan ’n meer volledige mengsel met duur­der, meer effektiewe komponente geplant word.
  • Somerdekgewasse kan enige tyd deur die somer geplant word wanneer daar vog beskikbaar is en mits daar nog genoeg groeityd oor is. Kontantgewasaanplan­tings geniet voorkeur, so gewoonlik sal somerdekgewasse daarna geplant word. Somerdekgewasse sal selfs in die droogste dele van die somersaaigebied heeltemal genoeg reën kan ontvang om uiters effektief te wees. Somerdekgewasse sal ’n opsie wees waar daar op oorlêlande nie kontantgewasse geplant gaan word nie of waar ’n persentasie van die swakker lande opgeoffer word, juis om die uitda­gings die hoof te bied. Somerdekgewasse kan strategies getermineer word (fisies of chemies) om vroeg ’n winterdekgewas aan te plant of om herfsvog op te gaar vir die daaropvolgende someraanplanting.Somermengsels kan ook gelos word om in die winter as staande hooi te benut. Deur sekere winterkomponente in somermengsels te gebruik (wat sal groen bly in die winter) kan die benutting as staande hooi verbeter, met die bykomende voordeel van die lewende wortels deur die winter.

3. Niemand wil vir saad betaal en die koste aangaan om dit te plant as dit nie ’n funksie gaan verrig nie. Al die verskillende komponente van ’n dekgewasmengsel moet tot hulle reg kom. Te veel spesies gaan nie noodwendig saam kan presteer nie, veral in laereënvalgebiede waar interspesiekompetisie vir vog hoog kan wees. Dis belangrik om genoeg diversiteit in ’n mengsel te hê, maar nie te veel dat dit ten koste van sommige spesies is nie. Komponente moet ook so gekies word dat hulle mekaar kan komplementeer, in ag genome hoe dit bestuur gaan word.

  • Die ideaal is om ’n dekgewasmengsel tot volwassenheid te laat uitgroei en dan eenmalig te bewei onder hoëdrukrotasiebe­weiding.
  • Indien herhaaldelike beweidings van ’n dekgewasmengsel verwag word, moet die mengsel sodanig aangepas word deur die komponente met ’n goeie hergroeivermoë te verhoog.

4. Dit is moontlik om dekgewasse deel van ’n stelsel te maak sonder om ’n groot kapitale uitleg aan te gaan. Daar is planters op die mark met verskillende saadbokse waarmee dekgewasmengsels met verskillende saadgroottes effektief geplant kan word. Dit is egter moontlik om mengsels op ander maniere te plant of selfs die mengselsamestelling te verander indien ’n komponent se saad­grootte nie by die res van die mengsel s’n inpas nie.
5. Die produsent se saadbegroting sal altyd ’n rol speel wanneer ’n mengsel gemaak word. Daar kan goedkoper en duurder mengsels gemaak word op grond van die begroting. Afhangend van die doelwit wat bereik moet word, kan ’n duurder mengsel meer effektief wees om uitdagings die hoof te bied. Die weidingswaarde van ’n dekgewas behoort in ag geneem te word wanneer die aanplanting se koste bereken word.

Behalwe vir die aanplant van dekgewasse is daar ander aspekte van bewaringslandbou waarop ’n produsent kan fokus. Dit sluit onder meer die gebruik van minimumbewerkingspraktyke in, die agterlaat of beweiding van reste (eerder as om materiaal te baal en te verwyder) en die regte beweidingspraktyke. In die meeste gevalle moet saaipro­dusente eerder op ’n klein skaal begin met dekgewasaanplantings. Die hoeveelheid biomassa wat deur dekgewasse geproduseer word op ’n klein skaal (relatief tot ’n groot saai-oppervlakte) is meestal steeds te veel om effektief met vee te benut (relatief tot die grootte van die veekomponent). Die effektiewe benutting van dekgewasse deur vee lewer ’n belangrike bydrae tot die sukses daarvan, danksy die nutriëntsirkulasie wat plaasvind. Soos wat produsente die sukses van dekgewasverbouing op klein skaal waarneem en stelselmatig vergroot, kan die veekomponent daarmee saam groei.

Dekgewasaanplantings is een van die waardevolste bewa­ringslandboupraktyke en kan die eerste tree wees in die rigting van volhoubaar winsgewende kontantgewasproduksie. Dit is egter nie ’n kitsoplossing nie: Kunsmis- en chemie-insette kan nie onmiddellik verlaag word nie en dit sal ook nooit heeltemal uitgeskakel kan word nie. Uiteindelik gaan die hoogste winsgewendheid volhoubaar behaal kan word waar die kunsmis- en chemie-insette op ’n gebalanseerde manier met die bewaringslandboupraktyke gebruik word.