Ons bydrae tot ’n meer stabiele landbou-omgewing

Gepubliseer: 6 Februarie 2020

1292
Jannie de Villiers
HUB, Graan SA jannie@grainsa.co.za

Ek het verlede maand geskryf oor hoe onstabiliteit of stabiliteit ’n mens se emosies kan laat wipplank ry tussen kwaad wees en om te floreer. Graan SA gaan in 2020 daarop fokus om meer stabiliteit vir ons graanprodusente te skep sodat die bedryf en die produsent kan floreer.

Daar is ’n lang lys van sake wat onstabiliteit meebring waaraan ons net mooi niks kan doen nie, maar dís nie waarop ons tyd en energie gaan spandeer nie. Alhoewel reën baie hoog op die lys van destabiliserende sake is, is daar relatief min wat ons daaraan kan doen. Ons taak hiermee is egter nie gering nie, aangesien stabiliteit en voorspelbaarheid hand aan hand loop.

Naas die weer is die markte en pryse ewe onvoorspelbaar. Tog kan ’n mens met goeie markinligting en kundigheid analises doen en dan, met behulp van verskansing, hierdie onvoorspelbaarheid se risiko’s verminder. As al ons markinligting (JSE, SAGIS, oesskattings en vraag-en-aanbod-syfers) betroubaar en deursigtig is, dra dit by tot stabiliteit – selfs al is die voorspellings waarin dit gebruik word nie altyd so akkuraat nie. Die graderingsreëls van grane en oliesade dra weer by tot stabiliteit in verhandeling en verseker aankopers van die kwaliteit van ons produkte.

Die monitering van kunsmisgehalte is Graan SA se poging om te verseker dat daar meer geloofwaardigheid is in die bydrae wat kunsmis lewer ten opsigte van opbrengste. Saadkwaliteit en -data word deur middel van kultivarproewe gemonitor en opbrengskompetisies help om die potensiaal van kultivars te bevestig. Ons samewerking met die Registrateur van Wet 36 wat die registrasies van nuwe chemiese middels beheer, dra by om te verseker dat ons produsente toegang het tot die nuutste moontlike tegnologie. Die feit dat elke Jan Rap en sy maat nie sommer allerhande middels aan produsente kan verkwansel nie, help ook stabiliteit aan. Die dieselrabat is een van die areas waaraan Graan SA heelwat tyd en energie spandeer om te verseker dat produsente hul rabat kan terugeis, maar verder ook dat die vereistes en reëls vir die terugeis daarvan wel voorspelbaar en stabiel is.

Een area waar Suid-Afrika heelwat kan verbeter, is die onstabiliteit wat ons beleidsomgewing veroorsaak. Hier speel georganiseerde landbou se insette asook ons verhouding met die regering ’n deurslaggewende rol. Ons beleidsomgewing is egter polities gelaai en dit dra tot ’n groot mate van onstabiliteit by. Eskom se beurtkrag is sekerlik tans een van die beste voorbeelde van hoe onstabiliteit mense negatief en kwaad maak. Die negatiewe impak op beleggings en ekonomiese groei is moeilik kwantifiseerbaar, maar daar is geen twyfel dat dit ’n beduidende invloed op die algehele sentiment het nie.

’n Aspek waaraan Graan SA baie hard werk, is om ’n betroubare spreekbuis vir graanprodusente te wees en te bly. Dit behels skoon oudits en goeie korporatiewe bestuur van die prosesse en fondse wat aan Graan SA toevertrou word. Ons geloofwaardigheid in die media en die verantwoordelike manier waarmee ons in die media kommunikeer kan so maklik tot onstabiliteit bydra. Selfs veranderinge in leierskap kan tot onstabiliteit lei as daar nie behoorlike opvolging in plek is en prosesse en beleid wat die oorgang bestuur nie.

Mense wat kwaad is (weens onstabiliteit), raak irrasioneel en gaan dan strate toe om te betoog of spreek menings uit op sosiale media wat net meer onstabiliteit veroorsaak. Hierdie tipe druk lei weer tot politici wat beleid (of selfs die Grondwet van die land) sonder meer verander – wat tot groter onsekerheid lei. Graan SA het daarom ten doel om seker te maak dat waarmee ons ook al in 2020 namens graanprodusente besig is, sal bydra tot ’n stabieler omgewing sodat dinge meer voorspelbaar word en groei kan gedy.