September 2015

image

CORNÉ LOUW, senior ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA

Dit is weer tyd vir insetaankope

Die nuwe plantseisoen vir somergrane lê voor die deur en meeste produsente koop nou hul insette aan. Hoe weet produsente wat is die regte prys om te betaal?

Uit die verlede is geleer dat die tyd van aankope, handelsnaam en ekonomiese toestande die prys van ‘n inset op ‘n sekere tydstip bepaal.

Met die aankoop van insette moet produsente seker maak dat hulle die “regte prys” vir hul insette betaal. Vind uit wat jou buurman betaal het; kry kwotasies by soveel as moontlik ander maatskappye (vir dieselfde produk); neem kennis van internasionale en plaaslike tendense, of Graan SA-lede kan die organisasie kontak. Moenie altyd net die eerste, beste prys aanvaar nie. Die prys en kwaliteit van ‘n produsent se inset kan die verskil tussen wins en verlies beteken.

In hierdie artikel probeer Graan SA ‘n tendens ten opsigte van verskillende insette vasstel vir sy lede om hul insetpryse teen te meet. Vergelyk daarom pryse wat nou aangebied word met hierdie tendense én dit wat verlede jaar betaal is.

Kunsmis

Omdat Suid-Afrika so ‘n groot hoeveelheid van sy kunsmisbehoeftes invoer, behoort plaaslike en internasionale pryse goed te korreleer. Tabel 1 toon internasionale pryse in randwaarde oor ‘n jaartydperk aan, terwyl Tabel 2 gemiddelde plaaslike kunsmispryse aandui (pryslyste).

Dit is weer tyd vir insetaankope

Dit is weer tyd vir insetaankope

Uit dié tabelle is dit duidelik dat plaaslike fosfaatpryse, internasionale pryse nouliks nagevolg het. Plaaslike stikstofpryse (KAN en ureum) het egter heelwat meer as internasionale pryse gestyg. Plaaslike kaliumchloriedpryse het weer nie tot dieselfde mate as internasionale pryse gestyg nie.

Onthou egter dat hierdie pryse ten doel het om die tendense aan te dui en daar nie noodwendig na die fisiese prys gekyk moet word nie, aangesien die internasionale pryse vry-aan-boord in ‘n inter nasionale hawe is en die plaaslike pryse gemiddelde pryslyspryse is.

Wenke met die aankoop van kunsmis

  • Kry kwotasies by verskillende maatskappye vir dieselfde produkte wat benodig word.
  • Vind uit wat groothandelaars vir grondstowwe vra (byvoorbeeld Sasol vir stikstof en Foskor vir fosfaat), daar is ook heelwat groothandelaars (wat kunsmis invoer) wat vanaf die hawens handeldryf.
  • Bereken die koste per eenheid plantvoeding.
  • Vind uit wat is die verskillende betalingsterme wat die beste pas.
  • Bestel vroegtydig.
  • Hou altyd die kwaliteit van produkte ‘n prioriteit.

Saad

Mieliesaadpryse het vir die nuwe seisoen op ‘n gemiddelde basis met 5,6% sedert verlede jaar gestyg. Volgens Graan SA se Produksie/Insetwerkgroep het mieliesaadpryse van gewilde kultivars egter met 6,8% gestyg. Op ‘n gemiddelde basis het sonneblomsaadpryse met 6,6% ge-styg; graansorghumsaadpryse met 10,2% en soja boonsaadpryse met 5,6% gestyg. Vir die volledige saadpryse per kultivar verwys na SA Graan/Grain se Julie-uitgawe vanaf bladsy 70 (skandeer die QR-kode).

Landbou-chemikalieë

Basies 100% van die aktiewe bestanddele benodig om landbou-chemikalieë te vervaardig, word na Suid-Afrika ingevoer. Internasionale tendense en die wisselkoers gaan dus ‘n bepalende rol in plaaslike prystendense speel.

Tabel 3 en Tabel 4 dui tendense in internasionale landbou-chemikalieë (aktiewe bestanddele) pryse aan. Uit die tabelle is dit duidelik watter groot impak die wisselkoers op plaaslike pryse kan hê.

Dit is weer tyd vir insetaankope

Dit is weer tyd vir insetaankope

Wanneer na insekdoderpryse gekyk word, kan gesien word dat pryse in dollarterme gedaal het, maar as gevolg van die wisselkoers, kan pryse vir die plaaslike mark styg. Dit is net die prys van Imidacloprid wat plaaslike behoort te daal.

Wat internasionale onkruiddoderpryse betref, het pryse, behalwe vir dié van Trifluralin, in dollarterme gedaal. Die verswakking van die rand veroorsaak egter dat hierdie dalings nie in die plaaslike mark deurvloei nie. Die pryse van plaaslike glifosaatprodukte behoort egter meer as 10% laer te wees as verlede jaar dieselfde tyd.

Brandstof

Aangesien die groothandelprys van diesel gereguleer word, behoort daar nie groot verskille te wees tussen wat produsente vir diesel betaal nie. Behalwe vir die verskille tussen sones, is daar egter al wel opgemerk dat produsente binne dieselfde sone, verskillende pryse betaal.

In Augustus verlede jaar was die groothandelprys van diesel in Gauteng R12,85 per liter, terwyl dit in Augustus 2015, R10,95 per liter was. Met ander woorde ‘n daling van 14,8%. Dié groothandelprys behoort vir produsente ‘n goeie aanduiding te gee teen watter prys hulle diesel kan aankoop, aangesien dit op groot maat gedoen word.

Landboumasjinerie

Tabel 5 toon prysveranderings in die landboumasjineriemark aan. Om op te som – Graan SA probeer deurlopend in setpryse moniteer en inligting aan ons lede beskikbaarstel om deursigtigheid en ook kompetisie in die insetomgewing te bevorder. Maak hierdie seisoen bietjie meer oproepe, kry meer kwotasies en vir lede, kontak Graan SA om seker te maak die regte insette word teen die regte prys aangekoop.

Dit is weer tyd vir insetaankope

Publication: September 2015

Section: On farm level