Oop gesprekke broodnodig vir volhoubare vooruitgang

Magda du Toit, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 6 November 2023

291

Oop gesprekke in en buite die raadsale is van kritieke belang om oplossings te vind vir die uitda­gings in die graanopbergingsbedryf. Dit was die goue draad wat deur al vier die paneelbesprekings geweef is tydens Agbiz Grain se onlangse Graan-en-Oliesadesimposium wat in Pretoria gehou is.

Toegang tot beskikbare graanvoorraad, deursigtigheid in graanverhandelingsisteme, opbergingskoste, die risiko wat konsen­trasie van graan in sekere sentra inhou, die agteruitgang van infrastruktuur, naspeurbaarheid en versekering was van die punte op die besprekingsagenda wat in die lig van praktiese uitdagings deurgetrap is.

“Die graanverhandelings- en opbergingsbedryf is ’n sentrale rolspeler in die graanbedryf en ook die breër landbousektor. Met die oog op die volhoubaarheid van die bedryf is dit van kardinale belang dat die totale graanbedryf optimaal funksioneer in ooreenkoms met die JSE-reëls en ander regulasies,” het Wessel Lemmer, algemene bestuurder van Agbiz Grain, opgemerk.

Huidige en toekomstige uitdagings
Die landbouwaardeketting lyk vandag heelwat anders as wat dit 100 jaar gelede gelyk het. Die afgelope twee dekades is baie van die veranderinge afgedwing deur verbruikersvoorkeure asook vereistes ten opsigte van veilige kos en betroubare voorsiening binne die waardeketting.

Chris Sturgess (besigheidskonsultant) het die paneelbespreking wat spesifiek op huidige en toekomstige uitdagings in die graanbedryf gefokus het, gelei. Die res van die paneel het bestaan uit dr André van der Vyver (uitvoerende direkteur: SACOTA); Derek Mathews (voorsitter: Graan SA); Willie Dreyer (Pioneer Foods); Anelisa Matutu (JSE) en Jerry Maritz (voorsitter: Agbiz Grain).

Dr André van der Vyver (SACOTA); Derek Mathews (Graan SA); Anelisa Matutu (JSE) en Jerry Maritz (Agbiz Grain) was deel van die paneel wat gefokus het op veranderinge in die graanopbergingsbedryf.

Infrastruktuur
Volgens dr Van der Vyver gaan tot 80% van alle graan, insluitend dit wat vir uitvoer bestem is, op een of ander stadium deur graanopbergingsfasiliteite. Hy het gewaarsku dat indien uitdagings soos die agteruitgang van infrastruktuur soos paaie, spoorweë en ook opbergingsfasiliteite saam met logistieke uitdagings nie ernstig aandag kry nie, die doeltreffende beweging van graan in die gedrang kan kom.

“Infrastruktuur is seker die grootste uitdaging waardeur die bedryf in die gesig gestaar word. Die toestand van ons paaie en die gebrek aan spoorvervoer het ’n geweldige impak – nie net op die vervoer van graan nie, maar ook op die koste en gehalte. Die infrastruktuur by baie van die hawens is ook nie van so ’n aard dat dit die opswaai in uitvoerhoeveelhede kan hanteer nie.”

Hy het daarop gewys dat die verhoging in graanproduksie vereis dat aandag aan hierdie uitdagings geskenk word.

Dr André van der Vyver en Derek Mathews tydens die bespreking oor die uitdagings in die graanbedryf.

Aanpasbaarheid
In reaksie op hoe die opbergingsbedryf op veranderinge in die mark reageer, het Maritz gesê dat silo-operateurs ’n aptyt het om hulle kliënte tevrede te stel. “Sou ’n operateur nie aandag gee aan die behoeftes en vereistes van die mark nie, sal hulle nie meer vir lank besigheid doen nie. Dit is so eenvoudig soos dit.”

Volgens Maritz het die opbergingsbedryf drie kliënte:

  • Produsente
  • Graanhandelaars
  • Meulenaars en verwerkers

“Silo’s word bedryf deur die minimum standaarde volgens die JSE na te kom. Maar dit is moontlik om aan te pas volgens die aankoper se behoefte. Die enigste vereiste is dat die silo van die behoeftes bewus moet wees sodat hulle daarvolgens kan beplan en aanpas.”

Maritz het egter ook daarop gewys dat investering in silo-infrastruktuur dringend aan­dag moet kry. “As die stoorkoste verhoog sou kon word, sal dit die bedryf in staat stel om in hul fasiliteite te belê en in ander hedendaagse behoeftes te voorsien.”

Graan SA-personeel, Corné Louw (hoof: Toegepaste Ekonomie en Lededienste) en Heleen Viljoen (landbou-ekonoom) het die simposium saam met Derek bygewoon.

Integriteit van die mark
Mathews het spesifiek op die integriteit van die mark gefokus en beklemtoon hoe belangrik dit is vir die mark om te funksioneer. “Die mark is die plek waar twee partye bymekaarkom en die mark moet die transaksies fasiliteer. Die mark kan nie die produsent of die koper in die steek laat nie. Die enigste element wat die mark kan laat faal, is ’n gebrek aan integriteit. Ons is gelukkig dat die mark die toets van die tyd deurstaan het en dat ons ons nog op integriteit kan beroep.”

Hy het verder gesê dat hy as produsent altyd die vrye mark sal verdedig. “Ons is nou beter daaraan toe as wat ons was binne ’n beheerdemarksituasie. In die vrye mark word probleme meestal self uitsorteer en dit dwing die mark weer in balans. Ja, dit is nie perfek nie, maar die mark het nog nie iemand gefaal nie,” het hy gesê.

Volgens Mathews is dit verblydend om die fundamentele veranderinge in die graanbedryf te sien. “In die verlede het die onderskeie partye dikwels koppe gestamp. Vandag benader ons uitdagings anders. Ons soek na gemeenskaplike belange en is nie oorbeskermend ten opsigte van eie belange nie. Dit gee ’n mens rede tot baie optimisme.”

Naspeurbaarheid
Graan is lankal nie meer net graan nie – prosesseerders en verbruikers het verskillende en soms uiteenlopende behoeftes en daarom is segregasie en naspeurbaarheid in die bedryf nodig. Daar is ’n ernstige behoefte hieraan.

“Dit klink na ’n maklike proses om graan na te speur, aangesien sowat 80% van alle graan een of ander tyd gestoor word, maar dit is nie so ’n eenvoudige proses nie,” het Jannie de Villiers, voormalige HUB van Graan SA, beklemtoon. “Naspeurbaarheid in ’n situasie waar graan in groot hoeveelhede in massasilo’s gestoor word, bring kompleksiteit. Daar moet gekyk word na kwaliteit, oorsprong, veiligheid en volhoubaarheid. Voedselsekerheid in Suid-Afrika gaan nie net oor veiligheid en verbruikersvoorkeur nie, maar allereers oor beskikbaarheid.”

Hy het beklemtoon dat tegnologie in dié verband ui­ters nodig is, maar ook daarop gewys dat die koste van naspeurbaarheid op een ofander manier deur die waar­deketting geabsorbeer sal moet word. “Behoorlike konsultasie sal met al die skakels in die waardeketting gevoer moet word.”