Aalwurmbeheer op eenjarige gewasse: Is dit regtig nodig?

3318
Dr Sonia Steenkamp,
LNR-Graangewasse, Potchefstroom

Die spreekwoord “groot gif in klein pakkies” is die perfekte beskrywing vir aalwurms. Plantparasitiese aalwurms is inderdaad een van die groot skobbejakke tussen die grondorganismes.

Hulle is skelm (’n mens kom altyd te laat agter hulle is daar) en as hulle die dag skade aanrig, is dit groot en skud dit die produsent se sak. Omdat hulle so klein is, “vergeet” die produsent dikwels van hulle en is aalwurmbeheer ’n laer prioriteit.

Dit is veral droëlandprodusente wat kanse vat met plant sonder om aalwurmbeheer toe te pas, want aalwurmdoders is duur en dit jaag hulle insetkoste op.

Aalwurmgetalle skiet die hoogte in
Tydens die afgelope somerseisoen is die Nematologie-eenheid van die LNR-Graangewasse se analitiese laboratorium druk besig gehou met al die grond- en wortelmonsters wat deur produsente en maatskappye ingestuur is.

Die kommerwekkende realiteit? Aalwurmgetalle het die hoogte ingeskiet en word ’n al hoe groter probleem. Om dit te illustreer, is die resultate van monsters wat vanaf Oktober 2018 tot en met April 2019 ontvang is, bestudeer en in hierdie artikel uiteengesit.

Die groot moeilikheidmakers
Letselaalwurm (Pratylenchus spp.) en knopwortelaalwurm (Meloidogyne spp.) is keer op keer as die moeilikheidmakers uitgesonder. Van al die monsters wat ontvang is, het 77% op ernstige aalwurmprobleme gedui. Uit hierdie 77% van monsters het 6% beide knopwortel- en letselaalwurm in hoë getalle onderhou, terwyl 4% daarvan hoë letselaalwurmgetalle gehad het.

Die topbullebak bly maar die knopwortelaalwurm. In 90% van die wortelmonsters is kommerwekkend hoë knopwortelaalwurmgetalle gekry, wat strek vanaf 209 knopwortelaalwurms per 50 g wortels tot net so kort duskant 1 miljoen knopwortelaalwurms per 50 g wortels.

Van die 90% monsters met hoë knopwortelaalwurmgetalle, het 4% se getalle bo 100 000 gestyg, 20% het tussen 10 000 en 100 000 knopwortelaalwurms per 50 g wortels onderhou en 34% het getalle tussen 1 000 en 10 000 knopwortelaalwurms per 50 g wortels getoon. Produsente wat sulke swaar aalwurmbesmettings gehad het, het gewis nie ’n goeie oes afgehaal nie.

Weet hoe voed die parasiet
Wat beteken hierdie hoë knopwortel- en letselaalwurmgetalle vir die plant? Om dit te kan verstaan, moet ’n mens weet hoe hierdie parasiete voed.

Letselaalwurms voed beide binne in en buite om die wortel. As letselaalwurm van buite die wortel af voed, vernietig hulle die buitenste sellaag van die wortel (waar die wortelhare natuurlik ook voorkom). Buite om die wortel kan letselaalwurmskade gesien word as bruin letsels. Dié letsels word dikwels verdoesel deur meganiese skade of skade wat deur ander organismes/siektes veroorsaak is. As letselaalwurm die plant penetreer, beskadig dit die selle binne in die plant en kan dit soms ook die vaatbondels verstop.

Knopwortelaalwurm veroorsaak weer galle aan die wortels van besmette plante (Foto 1). Hierdie aalwurm penetreer die wortel net nadat sy uit die eiertjie uitgebroei het en bly dan haar hele lewe lank binne in die wortel. Sy vorm reuseselle uit die plant se eie selle wat dan vir haar kos produseer.

Die galle van knopwortelaalwurm kan baie maklik op die wortels van besmette plante herken word en bestaan uit reuseselle. Die galle is basies die “kombuis” van die knopwortelaalwurmwyfie.

Beide letsel- en knopwortelaalwurm beskadig die wortels van die plant deur die onderskeie maniere waarop hulle voed. Water en voedingstowwe kan dus nie effektief opgeneem word nie. Dit lei daartoe dat die plante geel en soms verdwerg voorkom (voedingstekorte) en in sekere gevalle verlep ten spyte van die teenwoordigheid van genoeg water (die plant se vermoë om water op te neem word belemmer). Vandaar die geel/siek kolle wat in ’n aalwurmbesmette land waargeneem kan word (Foto 2).

Afhangende van die graad van besmetting kan aalwurms die oes negatief beïnvloed of die plante kan selfs vóór oes al vrek. Hoe dit ook al sy, volgens die ontleding van die grond- en wortelanalises wat in die 2018/2019-seisoen vir produsente gedoen is, het aalwurms die produsente deeglik pak slae gegee.

Beheer van aalwurms
Aalwurms kan egter beheer word as produsente slim en tydig te werk gaan. Ongelukkig is dit so dat daar nooit ontslae geraak kan word van die aalwurms nie – hulle sal altyd teenwoordig wees.

Die mikpunt van die produsent moet wees om die getalle so laag te kry en te hou dat die skade wat die aalwurms die plante berokken nie ekonomies realiseer nie. Dit is beter om voorkomend op te tree in die geval van aalwurms.

As ’n produsent vermoed dat hy aalwurmbesmette lande het, moet hy reeds met plant beheer toepas. Indien hy aalwurmdoders gebruik, moet hy seker maak dat dit op die gewas wat hy wil behandel, geregistreer is.

Dit is ook belangrik om streng by die aanbevole dosis op die etiket te hou. As die produsent minder of meer van die aalwurmdoder toedien as wat daar op die etiket voorgeskryf word, mors hy sy geld.

Te veel aalwurmdoder is oorvernietiging (overkill) en te min sal nie die aalwurms doodmaak nie. Indien moontlik en beskikbaar, kan kultivars wat weerstand het teen die spesifieke aalwurm wat ’n probleem is, ook in ’n plaagbeheerprogram ingesluit word.