Aktiewes – van a,b,c tot 1,2,3

Gepubliseer: 8 September 2020

1151
Elbé Hugo,
voorsitter, HRAC-SA

Die Herbicide Resistance Action Committee (HRAC-SA) bestaan uit verteenwoordigers van alle chemiese maatskappye in Suid-Afrika en skakel in onder HRAC-Global. Die oorkoepelende doelwit van HRAC-Global is om opbrengste en kwaliteit van alle gewasse te beskerm teen die opbou van onkruiddoderweerstand.

HRAC-SA werk nou saam met CropLife SA om onkruiddoderweerstand in Suid-Afrika te moniteer, aan te meld en te bestuur. HRAC-SA en verskeie rolspelers het byvoorbeeld onlangs daadwerklik opgetree om die situasie met die gevreesde onkruid, Palmer amarant (Amaranthus palmeri), in die Noord-Kaap te takel, beheerprogramme te ondersoek en die gemeenskap te ondersteun.

Onkruiddoderweerstand is egter ’n voortdurende probleem wat dopgehou en bestuur moet word. Dit is noodsaaklik dat alle relevante rolspelers betrokke raak by ’n organisasie soos HRAC-SA.

Daar is geweldig baie inligting beskikbaar op die HRAC-Global-webtuiste (www.hracglobal.com) oor die voorkoming en bestuur van weerstandbiedende onkruide. ’n Selfoontoep (app) met al die nodige inligting oor die verskillende onkruiddodergroepe kan van Play Store of iStore afgelaai word. Om bewus te wees van hierdie inligting kan produsente en agente help om onkruiddodergroepe af te wissel en sodoende nie elke jaar dieselfde onkruiddodergroep op dieselfde land te spuit nie. Net soos wisselbou voordelig is vir gewasproduksie, is die afwisseling van onkruiddodergroepe ook noodsaaklik om die opbou van weerstand deur sekere on­kruide te vertraag.

Die bekende plakkaat, wat meganisme van werking (mode of action of MoA) aandui, is laas in 2010 hersien en dit was nodig om die groeperings van sekere groepe te herklassifiseer en nuwe aktiewe bestanddele by te sit. Dit het ’n werkgroep bestaande uit verskeie tegniese spesialiste in onkruiddoderchemie, onkruid­wetenskaplikes, plantfisioloë en biochemici, amper twee jaar geneem om die taak te voltooi. Die mees betekenisvolle veran­derings wat aan die 2010-plakkaat gemaak is, is die volgende (Figuur 1):

  • Daar is oorgeskakel vanaf ’n alfabetiese groepering na ’n numeriese groepering.
  • Vier nuwe of hergeklassifiseerde groepe is bygevoeg.
  • 14 nuwe aktiewe bestanddele is bygevoeg.

Volledige inligting oor al die veranderings is verkrygbaar op HRAC-Global se webtuiste.

Figuur 1: Die nuwe, hersiende plakkaat wat meganisme van werking van onkruiddoders aandui.

HRAC-SA gaan met die hulp en samewerking van CropLife SA met ’n bewus­makingsveldtog rakende die nuwe MoA-plakkaat begin. Die komitee sal ook in gesprek tree met die relevante agroche­miese maatskappye asook die Registrateur se kantoor (Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling) om die oorskakeling van alfabetiese letters na nommers te akkommodeer op alle onkruiddoderetikette. Hierdie is ’n proses wat oor tyd ingefaseer gaan word om ook internasionaal in ooreenstemming te kom met alle onkruiddodergroepe (MoA) en die korrekte groepering van aktiewe bestanddele.

Skandeer of klik die QR-kode om die MoA-plak­kaat aanlyn te besigtig.