Beskerm jou opbrengs

Gepubliseer: 13 Desember 2023

319

As een van die produsente wat vanjaar ’n opbrengs­rekord gebreek het, meen Danie Bester die Groei vir Goud-opbrengskompetisie bied ’n gulde geleentheid aan die hele graanbedryf om te verbeter en grense te verskuif.

Bester, ’n voormalige dubbelgoudwenner in die kompetisie, voel verder dat dit nie net gaan oor die spogregte wat hierdie tipe kompetisie meebring nie, maar veel eerder om te bepaal wat die potensiaal van ’n spesifieke gewas op ’n produsent se plaas is.

“Dit is belangrik om teen jou vorige beste prestasies te kompe­teer en jouself teen jou eie praktyke en opbrengste te meet. Wanneer ek sien wat produsente in ander streke vermag, dien dit as inspirasie vir my om te kyk hoe ek nog kan verbeter. Ek meet my deesdae teen die Amerikaners om te sien hoe ek met hulle vergelyk. Ek word baie deur hulle gemotiveer. Dit is goed om te sien waarmee ’n mens sukses bereik, maar ewe belangrik om te kyk hoe ’n mens met klein verstellings nog meer doeltreffend kan boer en beter kan doen,” het hy tydens die prysoorhandigingsgeleentheid gesê.

Bester het vanjaar gelyktydig twee trappies op die kompetisiepodium vir sojaboonproduksie in die oostelike Hoëveld betree. Hy het ’n eerste plek behaal met ’n opbrengs van 6,24 t/ha met die Agriseed-kultivar RA565R. Hy was ook derde in dieselfde afdeling met ’n opbrengs van 5,794 t/ha met die Agricol-Don Mario-kultivar DM5351. Beide hierdie opbrengste oortref die vorige kompetisie­rekord van 5,77 t/ha.

Hy het die gewasse die afgelope seisoen met ’n Case Earlyriser 2150-planter asook ’n DBXtreme-planter geplant. Tussen die twee inskrywings het hy in die een blok 190 000 plante/ha in die grond gesit met ’n finale plantestand van 188 000 en op die ander blok 245 000 plante/ha met ’n gerealiseerde plantestand van 235 000.

Op Rietbult Estates in die Balfour-omgewing produseer Bester sojabone en geelmielies onder droëlandtoestande in ’n minimum­bewerkingstelsel. Hy plant 55% mielies, 45% sojabone en elke tweede jaar sonneblom om ’n gedeelte van die sojaboonhektare te vervang. Na strooptyd bewei die beeste die oesreste, maar hy maak seker dat daar genoeg materiaal op die lande gelos word.

Danie Bester (middel) saam met sy pa, Dawie (links), en broer, Arno, in die sojaboonlande.

Hou grondgesondheid voorop
Bester se wetenskaplike benadering tot sy boerdery is alombekend. Hy skoei sy hele boerdery op grondgesondheid. “Die dag toe ek op my grond se gesondheid begin fokus het, was die dag wat my boerdery verander het. Ek het nog nooit teruggekyk nie,” sê hy.

Presisieboerdery, grondgesondheid en wisselbou vorm die drie bene waarvolgens hy sy boerdery bestuur. Presisieboerdery is egter meer as net netjiese rye teen ’n bepaalde plantestand, verduidelik hy.

Bester volg ’n tweejaarwisselbousisteem waarin die mielies en sojabone of sonneblom met mekaar afgewissel word. Hy het nie oorlêlande nie, maar hy plant wel dekgewasse tussen seisoene as die tyd en seisoen dit toelaat.

Hy meen 80% van sy opbrengs word deur die toestand van die grond bepaal. “Produktiwiteit is inherent in die grond. Die beskikbaarheid en opneem van voedingstowwe saam met grondpraktyke en vog bepaal opbrengs. Dit is slegs deur biologiese aktiwiteit in die grond wat voedingstowwe beskikbaar is vir plante om op te neem. Die oorblywende 20% van die opbrengspotensiaal word deur die kultivar, implemente en plantpresisie bepaal,” meen hy.

Potensiaal- en bestuursones is twee van die kardinale beginsels wat eerste aandag moet kry in presisieboerdery en word gebruik om die teoretiese potensiaal van elke stukkie grond te bepaal, sê Bester. “Kartering gee ’n aanduiding van die grondtipes en as dit saam met die stroper se opbrengsdata gebruik word, kan ’n mens vasstel of jy optimaal op elke stukkie grond produseer. Elke jaar se opbrengs­evaluasies is hierop geskoei en as een land minder gegee het as wat verwag is, begin die naspeurwerk daar.”

Bester neem gedurende die jaar grond- en blaarmonsters wat hy indien vir ontleding. Die doel van die ontledings is om beskikbare vlakke van voedingstowwe te bepaal. Hy vergelyk die opbrengs wat hy op ’n bepaalde land behaal het met die resultate van die monsters en die daaropvolgende regstellings wat hy gemaak het om te bepaal of hy die regte of beste besluit geneem het.

Deur die monsters met mekaar en met vorige seisoene se stroperdata te vergelyk, kan hy bepaal of swak wortelontwikkeling, stres, tekorte in die grond of verdigtingslae die oorsaak was van swakker prestasie. Die inligting help om bewerkingsfoute te identifiseer en gevolglik kan implemente reg gekalibreer word. “As die probleem geïdentifiseer is, kan regstellende stappe geneem word,” beklemtoon hy.

Hierdie resultate bepaal in ’n groot mate die varieerbare plantestand en ander chemiese toedienings.

Grondbestuur is nie ’n bestuurspraktyk wat op sy eie bene staan nie. “Grondbestuur moet deel wees van die totale bestuursopset. Daarom volg ek ’n minimumbewerkingstelsel om grondvog optimaal te bestuur en om voordelige grondmikrobes te vermeerder. Omdat ek my lande slegs bewerk as dit absoluut noodsaaklik is, verminder ek ook kompaksie en onnodige vogverlies.”

“In my minimumbewerkingspraktyke, gee nou rye van 76 cm vir my ’n mikroklimaat in die lande tot voordeel van die plante se opbrengspotensiaal.”

Hy beklemtoon dat vogbestuur hand aan hand met grondgesondheid gaan. “Ons moet ons beskikbare waterbronne so doeltreffend en optimaal as moontlik bestuur. Vir gewasse om te gedy benodig hulle genoeg grondvog – om vog in die grond vas te vang het ons gesonde grond nodig. Gesonde grond vol voedingstowwe is die sleutel tot my sukses. Genoeg organiese materiaal en die regte verhouding tussen die mikro-elemente dra daartoe by dat die plante die sonlig beter kan benut en deur fotosintese in opbrengs kan omsit.”

Volgens Bester is plantdatum deurslaggewend, veral as dit by sojaboonproduksie kom. “Ek glo daaraan om vroeg in die seisoen te plant. Grondtemperatuur is uiters belangrik om genetiese potensiaal uit te druk. Deur vroeër te plant, maak ek seker dat die plante meer sonlig ontvang, wat hulle meer tyd bied om te blom en meer peule te vorm,” verduidelik hy.

Bester het ’n eerste plek behaal met ’n sojaboonopbrengs van 6,24 t/ha.

Data uit vorige jare is belangrik
Vorige jare se inligting is nuttig in die beplanning vir die komende seisoen. Om winsgewend en volhoubaar te produseer, is kennis en inligting noodsaaklik vir beplanning. “Hoe meer sinvolle data ’n mens op jou plaas versamel, hoe beter prentjie het jy van wat werklik aangaan.”

Onkruidbeheer vorm ’n belangrike deel van Bester se produksiesiklus en hy glo tydige bespuitings is uiters belangrik. “As ’n mens te laat spuit, gaan jy die res van die seisoen sukkel. Ek plant mielies na ’n algehele bespuiting wat ek partymaal reeds vroeg in die winter gedoen het om onkruid, veral skraalhanse, te beheer. Na plant volg ek op met ’n vooropkoms- en na-opkomsstandaardprogram. Voor ek sojabone plant, doen ek ook ’n algehele bespuiting, maar ek verminder die vooropkomsdosisse van die vooropkoms­produkte, want ek het agtergekom dat hierdie produkte my opbrengs benadeel. Die veiligste produk vir my om op sojabone te gebruik, is glifosaat.”

Hy vertel dat die 2022/2023-seisoen baie nat begin het. “In planttyd was dit nodig om meer aandag aan my invoor-program te gee om seker te maak dat ek nie later in die seisoen met siektes gaan sukkel nie. En toe kom Januarie. Dit was die droogste Januarie wat ons nog ooit op die plaas aangeteken het. Die 9 mm reën moes die mielies en sojabone deur die reproduktiewe fases vat. Ek het wel opbrengs ingeboet, maar dit was hier waar my praktyke om vog te bewaar en op plantgesondheid te fokus, die deurslag kon gee. Dit het die impak van die droë toestande redelik goed gebuffer.”

Benewens die data wat Bester jaarliks opbou, glo hy ook aan proewe. “Ek toets eers nuwe kultivars, bestuurstegnieke, implemente en bewerkings op klein skaal. As dit in die proewe werk, sal ek dit met aanpassings op groter skaal implementeer. “Ek vergelyk jaarliks die opbrengs van verskillende kultivars op verskillende grondtipes en lande. Hierdie vergelykings wys tekorte uit wat reggestel kan word. Behoorlike kultivarproewe kan in komende seisoene ’n groot bydrae lewer om insetkoste in toom te hou.

“Ek het ’n blok waarin ek elke jaar mielies en sojabone plant. Daar probeer ek uiterstes. So kon ek gedurende die afgelope seisoen my persoonlike beste op 1 ha opskuif na 7,78 ton. Die waarde van die data wat daar gegenereer is, is vir my goud werd. Ek gebruik dit dié jaar om die res van my hektare te bestuur. Dit vorm my persoonlike nuwe bemestingshandleiding,” sê hy.

In sy sojaboon- en mie­lie­proewe het hy heelwat proefpersele opgestel waarin hy nuwe kultivars met mekaar en ook met ouer kultivars vergelyk om te bepaal wat vir sy plaas en omstandighede geskik sal wees. Hy kyk verder na die uitwerking wat verskillende maatskappye se chemiese pro­­dukte en voedingstowwe op kultivars het. In die sojaboonkultivar en -standproewe vergelyk hy die opbrengs in strookproewe met ’n stand van 60 000 tot 300 000 plante/ha.

“As ’n mens stapsgewys planne implementeer wat gebaseer is op noukeurige proefdata en wetenskaplike ontledings, skakel dit raaiwerk uit. Leer uit jou foute en pas aan. Jy kan nie jaar na jaar dieselfde dinge doen en ander resultate verwag nie,” sê hy.

Bester hou daarvan om met ander produsente te gesels en steek gereeld kers op by sojaboonprodusente in die VSA. “Al is daar streeksverskille, bly sekere beginsels universeel.”

Hy waarsku egter om nie sommer jou ore aan enigiemand uit te leen nie. “Nie almal in die bedryf het voldoende kennis om jou van die beste raad vir jou plaas te bedien nie. Voordat jy iets nuuts op groot skaal aanpak, toets eers die idees op klein skaal of gaan praat met meer ervare produsente, anders kan jy jou vingers lelik verbrand,” waarsku hy.

Bester deel graag sy kennis en sê as hy net ’n paar ander produsente kan inspireer en help, kan die gesamentlike resultate ’n groot bydrae lewer om die grond te verbeter en volhoubaarheid te verseker.