Standaardaftrekking op sorghumlewerings

Luan van der Walt, landbou-ekonoom, Graan SA

1910

Die plaaslike sorghummark is reeds vir die afgelope paar jaar onder druk met plaaslike produksie sowel as verbruik wat sedert die vroeë 2000’s meestal in ’n afwaartse tendens is. Die daling in die plaaslike produksie kan grootliks toegeskryf word aan die onkompeterendheid van sorghum teenoor ander somergrane soos mielies.

Opbrengste van mielies het op ’n gemiddelde basis teen ’n vinniger tempo toegeneem as dié van sorghum, terwyl die insetkoste van hierdie twee gewasse baie na aan dieselfde is. Sorghum kompeteer aan die verbruikskant ook nie meer in die veevoermark nie, maar eerder met witmielies in die meelmark vir menslike verbruik.

Alhoewel sorghummeel baie gesond is en oor goeie voedingswaarde beskik, sukkel dit steeds om mee te ding met mieliemeel in terme van verkope.

Wat is ’n standaardaftrekking?
Standaardaftrekkings se ontstaan dateer terug tot voor die deregulering van die bemarkingsrade in die laat 1990’s. Die rade, wat die enigste koper van die grane was, het destyds ’n standaardaftrekking op die verskillende grane vasgestel om te kompenseer vir verliese wat hoofsaaklik tydens graanhantering plaasgevind het.

Die Sorghumraad het baie navorsing gedoen om vas te stel wat die fisiese verliese op sorghum was en het dit as ’n persentasie-aftrekking uitgedruk. Die industrienorm wat deur die destydse bemarkingsrade gestel is, was 2,28%.

Dit beteken dat wanneer ’n produsent sorghum by ’n kommersiële silo gelewer het, daar 2,28% van die totale massa wat gelewer is, afgetrek is om vir die sogenaamde verliese voorsiening te maak. In praktyk beteken dit dat vir elke ton sorghum wat ’n produsent gelewer het, daar ’n aftrekking van 23 kg was.

Wat veroorsaak hierdie verliese?
Daar is verskeie faktore wat bydra tot die verliese wat plaasvind tydens die opberging en hantering van sorghum. Hierdie faktore sluit die fisiese verliese (sorghum wat verlore gaan as gevolg van vermorsing) asook ander aspekte soos die brekasie van sorghum in, wat veroorsaak dat dit nie meer voldoen aan die graderingsregulasies nie.

Die volgende aspekte is faktore wat bydra tot die fisiese verliese van sorghum by ’n silokompleks:

  • Breekskade as gevolg van die storting van die sorghum in die silobuise.
  • Verliese en breekskade wat plaasvind tydens vervoer van sorghum op kettingbande (sorghumpitte verkrummel na stof of poeier).
  • Vermorsing wat plaasvind weens die aard en struktuur van die silo’s.
  • Skade aan die graan wat plaasvind as gevolg van eksterne faktore soos reënskade, skade wat voëls aanrig en die wegwaai van die graan.
  • Verliese wat plaasvind tydens die skoonmaak van die toerusting.
  • Vogverlies wat plaasvind wanneer die graan lank gestoor word.
  • Doppies om die sorghum wat los kom en in silobuise akkumuleer, moet later weer as vreemde materiaal uitgelaai word.

Is dit steeds ’n industrienorm?
Dit belangrik om in gedagte te hou dat alhoewel die 2,3%-aftrekking steeds meestal in die mark gebruik word as standaardaftrekking vir wanneer sorghum gelewer word, dit slegs ’n riglyn is en nie ’n verpligte aftrekking nie.

Die destydse rade het hierdie persentasie vasgestel deur middel van navorsing en die teendeel kon nog nie deur middel van nuwe navorsing bewys word nie. Die meeste van die kommersiële opbergers gebruik dus steeds die norm van ’n 2,28%-aftrekking wanneer sorghum gelewer word. Die vrye mark kan egter bepaal wat hierdie aftrekking by verskillende leweringspunte is gedurende die seisoen en dit staan produsente vry om dit met die verskillende kommersiële opbergers te onderhandel.

Daar is reeds van die opbergers van sorghum wat hul opbergingspraktyk só bestuur en aangepas het om hul verliese te beperk en tans net ’n 1,5%-aftrekking het wanneer sorghum daar gelewer word.

In ander gewasse, soos mielies, was daar gedurende die tydperk van die bemarkingsrade ’n standaardaftrekking van 1%. Met die ontstaan van die vrye mark het die verskillende kommersiële opbergers ander metodieke begin gebruik om die “standaardaftrekking” van mielies met lewering te bereken.

Alhoewel die standaardaftrekking van mielies tydens die dae van die bemarkingsrade 1% was, wissel dit nou van tussen 0,8% tot 1,2%.

Ten slotte
Alhoewel die standaardaftrekking by die eerste punt van lewering al ’n algemene praktyk geraak het, is dit noodsaaklik vir produsente om te onthou dat dit nie ’n vasgestelde aftrekking is nie. Die meeste opbergers doen dit so om op te maak vir die fisiese verliese tydens hantering en opberging en die huidige norm wat in die sorghumindustrie gebruik word dateer terug uit navorsing wat tydens die dae van die bemarkingsrade gedoen is. Daar is wel spasie vir die onderhandeling van hierdie aftrekking wat produsente tydens lewering met die betrokke maatskappy kan opneem.

Dit is ook belangrik dat produsente in gedagte hou dat hierdie aftrekking slegs by die eerste punt van lewering gedoen word. Produsente moet dus daarop let dat dit nie by kommersiële silo’s en dan weer by die verwerkingsaanlegte verhaal moet word nie.