Om te verkoop … of nie?

Gepubliseer: 6 Februarie 2024

288

Beste Grootneef

Soos vir mielies en sojabone gaan die markpryse vir edelmetale ook op en af, maar nie noodwendig in daardie orde nie. As ’n mens vandag kon weet watter perd môre sou wen, was almal skatryk. Of wat die hoofberigte in môre se koerante sou wees – dan kon immers daarvoor beplan word.

Maar dis nie hoe die lewe werk nie. Meestal vind ons in die Suidland saam met die res van die wêreld uit wanneer nuus reeds gebreek het. En dan is dit te laat om te koop of te verkoop. En soos die aardbol draai van dag na nag, so volg die finansiële wêreldmarkte die tendense van bere of bulle op die markvloere. Gedryf deur óf angs óf gulsigheid van die mensdom.

Vele volg dus ’n strategie van kuddebeskerming met hul spaargeldjies versprei oor verskeie risikolyne, met die hoop dat die bulle op die mark tog aan die einde van ’n lopie vir ’n wins sal sorg. Om in en uit die mark te klim soos die bulle en die bere teen mekaar beur, maak ook geen sin nie – dit is gewoonlik óf te vroeg óf te laat.

Die vraag is dus wanneer genoeg genoeg is. Wyle dr Kit le Clus het boere destyds warm onder die kraag gehad op ’n boeredag naby die mieliehoofstad toe hy gesê het dat boere nie van stygende markte hou nie – want hulle verkoop eers as die pryse begin daal!

Na Kersfees en Nuwejaar se mooi reën in die Vrystaat, staan die jong mielies, sonneblom en sojabone ewe kordaat in rye aangetree, reg vir die seisoen en vol hoop op tydige reën vir blomtyd en bestuiwing.

En dit maak “Februworry” ’n maand van onsekerheid. Wat gaan die weer maak? Hoeveel mielies is in die plaaslike en wêreldmarkte se pyplyne? Gaan in- en uitvoere plaasvind en hoeveel tonne? En moet jy afteken op Junie of Julie se Safex-pryse? Sal daar genoeg gestroop kan word om die tonne wat vasgemaak is, vol te maak? Of moet jy dalk nog ’n week wag om eers die kat uit die boom te kyk? Want die Oesskattings­komitee reik eers teen einde Februarie ’n verslag van aanplan­tings uit.

Ou Neef, sterkte vir al die besluite wat geneem moet word in die volgende paar weke. Luister na jou makelaar, lees al die markverslae, maar besluit wanneer is genoeg vir jou genoeg. Al maak die mark nog ’n bul-lopie nadat jy ’n deel van jou oes vasgeteken het, moenie rande tel wat jou dalk ontwyk het nie. Wanneer jy jou besluit geneem het met die beste inligting beskikbaar op daardie stadium, was dit ’n goeie besluit. Want soos dr Kit gesê het, as die mark begin val, wil almal gelyk verkoop. En dan is daar dalk nie plek op die bus nie. Die Argentyne praat juis van ’n stewige oes wat hulle in die wêreldmarkte gaan loslaat.

Wanneer effe verder as die Vrystaat gekyk word, is dit insig­gewend wát die wêreld se sakeleiers laat wakker lê. Die Wêreld- Ekonomiese Forum reik jaarliks ’n verslag uit na ’n opname van risiko’s wat wêreldwyd ’n impak kan hê. Vir 2024 het 1 490 topsakeleiers wêreldwyd aan die opname vir die Davos-beraad deelgeneem. Die vyf risiko’s wat die planeet se topsakelui in die nag laat rondrol, is die impak van ekstreme klimaatstoestande (66%), vals nuus wat versprei word (53%), politieke onrus (46%), lewenskoste (42%) en kuberaanvalle (39%). Die waarskynlikheid en die impak van elke risiko word ook gemeet.

Afgesien van ’n kuberaanval op die plaas, is al die ander risiko’s net so relevant vir my en my buurman. Die Suidland mag ver van alles af wees, maar gebeure wêreldwyd het ook ’n impak op ons. Dankie tog vir Graan SA wat op die graan- ekonomiese front anderkant die plaashek namens ons graanboere praat.

Ou Neef, mag die reën in die midsomer op die regte tye val. En mag jy geseën word met wysheid en insig om die regte besluite op die regte tyd te neem.

Groete

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.