Effektiwiteit van chemiese onkruid- en plaagdoders – doen dit reg en spaar

Pietman Botha, SA Graan/Grain redaksiespan

2713

Onkruide is een van ’n graanprodusent se grootste bestuurbare vyande en dit is in ’n groot mate die produsent self wat die effektiwiteit van onkruiddoders bepaal.

In baie gevalle is vuil lande gespuit, maar as gevolg van een of ander fout het die onkruide oorleef. Hoekom het die onkruiddoder nie effektief gewerk nie? Was dit foutief, was daar ’n toedieningsfout, was dit as gevolg van toerustingsfoute of as gevolg van klimaat?

As produsente die effektiwiteit en doeltreffendheid van die werking van die chemiese middels kan verhoog, sal hulle die voordele in hul sak voel. Let gerus op hierdie paar praktiese probleme wat dikwels waargeneem word:

Wees op hoogte
Dit is nou die begin van die nuwe seisoen. Maak weer seker presies wanneer, waar en hoe spuitwerk gedoen moet word.

  • Neem ’n besluit oor wat gedoen gaan word as die spuitomstandighede nie ideaal is nie.
  • Weet hoe om die toerusting in te stel en te gebruik.
  • Die produsent sowel as die arbeiders moet tyd neem en weer op hoogte kom van spuitwerk.

Deur onkruide nie te beheer nie en die gewas volgens potensiaal te bemes, kan so veel as 50% van die produksie verloor word.

Tydigheid is net so belangrik. Deur twee weke te laat te bespuit, kan tussen 15% en 20% van die oes en die wins verloor word.

Diens die spuittoerusting
Indien spuittoerusting nie vooraf gediens word nie, is daar probleme wat op die hals gehaal kan word en soms nie. Onthou: Die effek van toerusting wat nie behoorlik werk nie, sal eers later gesien word en dan is die skade reeds gedaan.

Dit is belangrik dat die spuittoerusting binne sowel as buite sorgvuldig skoongemaak moet word. Dit sluit spuitpunte, pype asook alle filters in.

Van die chemiese middels veroorsaak ’n aanpaksel in die pype en sodra die spuit weer begin werk, kom dit los en blokkeer die filters en spuitpunte oor tyd. Daar is verskeie metodes en middels beskikbaar om die spuittenk en -pype skoon te maak. Die chemiese adviseur sal kan help om die beste middel te identifiseer.

Dit is veral raadsaam om ’n addisionele stel filters te installeer om die spuitpunte te beskerm.

Vloeiratiotoets
Veral met groot selfaangedrewe spuite is dit belangrik om een maal per jaar ’n sorgvuldige vloeiratiotoets te doen om te verseker dat spesifieke spuitpunte se lewering (liter/ha) en druk waarteen gespuit word, korrek is. Sodra die spuit begin werk en die spoed varieer, moet die druk ook kan varieer om die lewering per hektaar konstant te hou.

Spuitpunte
Die spuitpunte is ’n verdere aspek wat aandag moet kry. Dit doen ook slytasie op en moet soms vervang word. Gaan veral die lewerings asook spuitpatrone na en vervang dit indien dit van die spesifikasies afwyk. As die spuit oor meer as een seksie beskik wat afsonderlik beheer en deur verskillende pype voorsien word, moet elke seksie apart nagegaan word.

Sommige spuitpunte, soos luginduksiespuitpunte, het die vermoë om groter luggevulde druppels te vorm, wat minder spuitdrif veroorsaak en teen hoër druk kan spuit. Maak seker die spuitpunte wat gebruik word, is geskik vir die taak.

Die spuitpomp is die kerngedeelte van die spuit – kontroleer die lewering daarvan. Gaan die olievlak asook die olie se kleur na. Verseker dat die spuitpomp die regte druk, soos vereis, kan lewer. Indien die druk te laag is, sal die chemiese middels nie die teikenarea kan bereik nie en ’n te hoë spuitdruk sal te veel spuitdrif veroorsaak – met dieselfde effek.

Beperk spuitstofdrif
Spuitstof wat weggespuit word as gevolg van te hoë drif, gaan verlore. Dit veroorsaak dat te min spuitstof op die plant land wat weer die effektiewe werking verhoed.

Spuitstofdrif word deur verskeie aspekte beïnvloed, naamlik:

  • Druppelgrootte;
  • spuithoogte;
  • spuitspoed;
  • windspoed;
  • lugtemperatuur en humiditeit; asook
  • spuitvolumes.

Druppelgrootte
Wanneer gespuit word, is druppelgrootte die faktor wat spuitstofdrif die meeste beïnvloed. Lae spuitvolumes wat teen ’n te hoë druk gespuit word, lei tot klein druppels wat maklik wegwaai en drif veroorsaak. Maak seker dat die regte spuitpunte en die korrekte druk gebruik word. Die spuitpunte moet die gewenste druppelgrootte vorm wat die minste drif sal veroorsaak en die meeste plantbedekking sal verseker.

Windspoed
Teen ’n windspoed van 5 m/s mag daar nie gespuit word nie. As daar teen ’n laer windspoed van ongeveer 3 m/s gespuit word, sal dit nodig wees om die druppelgrootte aan te pas. Teen ’n windspoed van 3 m/s sal die druppelgrootte vergroot moet word deur die spuitdruk te verlaag. Oor die algemeen veroorsaak luginduksiespuitpunte minder drif en dit kan tot langer spuiture bydra. Onthou: Wind beïnvloed ook hierdie spuitpunte.

Spuithoogte
Spuithoogte bepaal die spuitdrifhoeveelheid. Hoe hoër die spuitbalk van die grond af is, hoe hoër is die spuitdrif. Pas die spuitpunte aan as daar hoog gespuit moet word. Windspoed, temperatuur asook humiditeit sal die hoeveelheid spuitdrif beïnvloed.

Temperatuur
Moenie op die warmste tyd van die dag spuit nie – die effektiwiteit en doeltreffendheid daal sommer baie. Temperatuur het ’n effek op die spuitdrif én op die werking van die chemiese middels. Probeer eerder teen laer temperature en in windstil tye te bespuit en bly binne die spesifikasies van die spuitpuntvervaardiger.

Spuitvolume
Die spuitvolume kan ook tot spuitdrif aanleiding gee. Té lae spuitvolumes kan veroorsaak dat die druk te hoog raak en dat die druppels te klein raak – wat tot meer spuitdrif lei. Probeer om ’n balans tussen spuitvolume en -drif te vind. Neem die chemiese middels wat gespuit word se waterbehoeftes ook in ag as die besluit geneem word.

As dit moontlik is, voeg ’n antiverdampingstof by. Hierdie middels help dat die spuitstof op die plant net ’n bietjie langer kans kry om opgeneem te word en verhoog so die effektiwiteit daarvan.

Ander praktiese probleme wat voorkom
Produsente moet seker maak dat die filters en die spuitpunte op ’n gereelde basis skoongemaak word. As daar iets in die spuitpunt is, sal dit die lewering en die spuitpatroon beïnvloed.

Spuite se kalibrasie moet gereeld nagegaan word. Dit is belangrik dat die kalibrasie reg is en dat die operateur weet teen watter spoed en enjinomwentelinge gery moet word. Heelwat operateurs bly nie binne die riglyne nie en dan werk die middels nie soos dit moet nie.

Die mengvolgorde van chemiese middels is uiters belangrik. Verseker dat die middels in die regte volgorde in die spuit gegooi word en dat die operateur weet hoe om die middels te meng. Kontroleer ook dat dit korrek gedoen word. ’n Mens hoor gereeld dat die spuitstof te min was. Sien toe dat die operateur die regte hoeveelheid middels oor die regte oppervlakte uitgespuit het.

Stof is nadelig vir die chemiese middels wat gespuit word. Die masjiene beweeg vinnig en daar word stof deur die wiele opgeskop. Let veral op die spuitpunte naby die wiele. Sommige produsente en adviseurs sit groter spuitpunte aan weerskante van die wiele – dit beheer in ’n groot mate die stofprobleem. Bespreek maniere om die effek van die stof te beperk met die adviseur.

Water
Voorsiening van kwaliteitwater vir ’n spuit is ’n uitdaging – dit is duur en gewoonlik word groot volumes vereis. ’n Moontlike manier om dit te omseil, is om die spuitvolumes te verminder. Wees versigtig hiervoor, omdat die meeste spuitmiddels by baie hoë watervolumes getoets en aanbeveel word. Praat met die verteenwoordiger en vind uit wat die minste watervolume per hektaar kan wees.

Water wat gebruik word, verskil ook in terme van kwaliteit en suiwerheid. Soms is die water skoon en ander kere lyk dit skoon, maar daar is soveel besoedeling in die water dat die chemiese middels nie kan werk nie.

Verseker dat skoon water (water wat gedrink kan word) ten alle tye gebruik word en dat die nodige middels bygevoeg word om die pH en ander kwaliteite van die water reg te stel. Onsuiwer water veroorsaak ook dat die filter en spuitpunte op die spuite gereeld (ten minste daagliks) skoongemaak moet word. Om die water deur ’n filtersisteem te pomp voor dit in die spuit gegooi word, help klaar baie.

Al lyk die water skoon, is dit nie noodwendig die geval nie. Baie organiese materiaal of ander elemente is in die water opgelos. Sodra die chemiese middels ingegooi word, bind dit daarmee en sodoende word effektiwiteit ingeboet.

Gestel daar is te min spuitkapasiteit om die werk tydig en doeltreffend gedoen te kry. ’n Paar ongunstige spuitdae kan alles omkeer en dan is surplusspuitkapasiteit noodsaaklik. Hou ’n surplusspuit, al is dit van laer spesifikasie, in plek om hierdie tye te kan uithelp.

Tydigheid
Tydigheid van spuit is van kritieke belang. Verseker dat onkruid so klein as moontlik gespuit word en dat die onkruid nie onder stremming is nie. Pas veral op vir winteronkruide. Dit lyk asof winteronkruide nie groei nie, maar intussen is die wortels besig om diep en sterk te ontwikkel.

Maak seker dat die dosis sterk genoeg is om die onkruid te dood en nie net te skroei nie. As die onkruid eers begin groei, is dit uiters moeilik om dit dood te spuit. As onkruid onder stres is, kan dit die werking van die onkruiddoder beïnvloed. Bespreek hierdie saak met die adviseur om seker te maak dat daar in die spesifieke omstandighede gespuit kan word.

Onkruiddoderweerstandigheid
Talle produsente is nie heeltemal bewus van die onkruidspektrum op die plaas nie. Soms word die dosis van die spuitstowwe dan verkeerd bereken en word daar in ’n sekere mate vir onkruiddoderweerstandigheid geteel. Die gereelde afwisseling van die aktiewe bestanddele in die onkruiddoder maak ook ’n bydrae om dit te bekamp.

Indien daar nog nie van satelliettegnologie gebruik gemaak word om die rybane uit te wys nie, maak seker dat die drywer presies weet waar om te ry en watter gewasrye gebruik moet word om dubbel spuit te voorkom. Die dubbele spuit van stroke is net so oneffektief as om stroke nie te spuit nie.

Wees versigtig indien eie chemiese middels gemeng word (wat in die meeste gevalle buite spesifikasie en aanwendingriglyne is): Dit kan dalk goedkoop koop wees wat duur koop raak. Lees die pamflette en bly binne die riglyne.

Hierdie is net ’n paar gedagtes. Raadpleeg chemiese adviseurs om die beste oplossing vir jou plaas se probleme te kry. Pas hierdie aanbevelings nougeset toe en onthou om aanpassings te maak sodra omstandighede verander het.