Jannie Div … aandag! Uittree!

Gepubliseer: 6 Augustus 2021

1338

Jannie de Villiers
HUB, Grain SA jannie@grainsa.co.za

Ek vermoed my laaste dag as HUB hier by Graan SA gaan dalk nie baie anders wees as die laaste dag van my nasionale diensplig nie. Dit was ’n geharwar omdat die bevelvoerder gesê het ons kan ’n paar dae vroeër uitklaar.

Ons moes alle eiendom van die weermag terughandig en seker maak daar is niks uitstaande nie. Daar was min tyd vir groet en emosie – eintlik wou ons maar net so spoedig moontlik ons vryheid na twee jaar se diensplig gaan vier! Buite die hekke het dit skielik nie so goed gevoel soos tydens die twee jaar wat ons oor dié heuglike dag gedroom het nie. So ’n amperse ontnugtering.

Ek het baie gedink en beplan oor hoe ek kruis en dwars oor die produksiegebiede wou ry en vir oulaas al die produsente en landbouvriende groet. Ek het gehoop dat die NAMPO Oesdag in Augustus ’n wonderlike geleentheid sou bied om almal onder een dak te groet en dankie te sê. COVID laat nou egter baie van my mooi drome oor dié heuglike tye op ’n ontnugtering uitloop. Die spasie in hierdie rubriek is heeltemal te min om elkeen se naam te noem wat my pad gekruis het die afgelope tien en ’n half jaar by Graan SA. Dan is daar ook heelwat mense wat ek vriende noem selfs van voor my Graan SA-dae af.

Dankie vir elkeen wat hulle plaashek en hart vir my oopgemaak het in die tyd wat ek hier gedien het. Dankie vir die leierskap wat my toegelaat het om die landbouers van ons land te dien en die mense wat saam met my die vrag gedra het. Voorwaar ’n besonderse span! In besonder dankie aan Nita en Susari wat hier voor my kantoordeur moes diens doen. Aan die SA Graan/Grain-redaksie­span, julle is ysters!

Daar is ook die mense wat ek op kort kennisgewing kon vra om te bid wanneer daar moeilike vergaderings was – die meeste van hulle was nêrens in die landbou betrokke nie. Dan wil ek ook jammer sê aan diegene wat ek dalk teleurgestel het of waar ek tekortgeskiet het. Daar moet sekerlik ook dié wees vir wie ek baie kwaad gemaak het of te na gekom het: “Jammer, julle.” Gesprekke met die regering was verreweg van die grootste uitdagings. Dit sou lekker gewees het om vandag te kon rapporteer dat ons nader aan mekaar gekom het en nou beter saamwerk. Daar is egter beslis werk oor vir die wat my moet opvolg …

Ek gaan beslis die samesyn mis asook die saamstryery totdat ons by ’n oplossing kom. Die mense en verhoudings met elkeen was dit wat die werk moontlik gemaak het. Soms was net ’n oproep genoeg om die probleem te laat verdwyn, soms was ’n paar harde woorde nodig om beweging te kry. Helaas was daar genoeg pap en brood en vleis vir almal en soms selfs ’n bier of twee. Sterkte aan my opvolger, Pieter, en die leierskap van Graan SA om vir ons die pad na volhoubare voedselproduksie in ons Suid-Afrika te vind.

Laastens wil ek ook dankie sê aan my vrou, kinders en familie vir hulle ondersteuning en bemoediging oor die jare. Dankie dat julle in my geglo het en met simpatie en empatie na al my stories geluister het, my aangemoedig het en vir my gebid het. Mag God julle eer daarvoor. Hy is die Een aan wie al die eer toekom.

Dan is dit nou sulke tyd: “Jannie Div, aandag! Uittree!”

Mooi loop, almal.

Jannie Div.