Die sogenaamde pyplynvoorraad word gereeld, veral deur markontleders, in vraag-en-aanbod-projeksies gebruik. Omdat dit soms verwarring veroorsaak en selfs verwagtinge by markrolspelers kan skep, is dit nodig om die oorsprong en waarde van ’n pyplynvoorraad te bespreek in die hedendaagse vryemarkomgewing, waar kommoditeite soos mielies en koring verhandel word. Witmielies word vervolgens as voorbeeld gebruik.
Gereguleerde era
Voor 1997 was die Mielieraad die enigste wettige koper en verkoper van witmielies in Suid-Afrika en het dit onder die Bemarkingswet in ’n eenkanaal-vasteprysskema gefunksioneer. Die Mielieraad was ook die enigste invoerder en uitvoerder van mielies en dit was dus die raad se statutêre plig om te sorg dat daar ten alle tye genoeg witmielies vir verbruik in Suid-Afrika beskikbaar was.
Omdat mielies ’n seisoenale produksiepatroon volg, was dit nodig om met die oorgang van een produksiejaar na die volgende ten minste ’n buffervoorraad beskikbaar te hê sodat tekorte nie sou ontstaan voordat nuweseisoenlewerings begin het nie. Die algemene gebruiksreël was om ten minste 45 dae se binnelandse witmielieverbruik aan die einde van die seisoen in voorraad te hê. Dit sou genoeg tyd gee om planne te maak vir voedselsekerheid indien daar ’n tekortjaar was. Indien die verwagte voorraad minder as 45 dae sou wees, kon betyds ingevoer word. As die verwagting daar was dat ’n baie groot oorskot bo binnelandse verbruik sou realiseer, kon vroegtydig met ’n uitvoerprogram begin word. Die 45 dae is waarskynlik deur jare se ondervinding as voldoende gesien om logistiese reëlings te tref – veral ten opsigte van tekorte.
Na deregulering
Met die afskaffing van die Mielieraad en die gepaardgaande deregulering van bemarking, het die onus (geen verpligting) om te sorg dat daar genoeg witmielies vir binnelandse verbruik beskikbaar sal wees, van die staat na al die rolspelers in die witmieliebedryf verskuif. Pryse aan produsente word ook nie meer gewaarborg nie en moet in die vrye mark gevind word. Omdat die plaaslike mielieprys nou hoofsaaklik deur internasionale prysvlakke asook die wisselkoers bepaal word, het die sogenaamde invoer- en uitvoerpariteitspryse die aanduidende grense waarbinne ’n plaaslike prys vir witmielies kan beweeg of realiseer, geword.
Dit is welbekend dat indien ’n plaaslike tekort verwag of ondervind word, pryse nader aan – en in sekere gevalle tot by of selfs hoër as – invoerpariteit beweeg. Indien groot oorskotte bo binnelandse verbruik egter bestaan, val plaaslike pryse tot by uitvoerpariteit. Dit is om dié rede dat markontleders soms die 45 dae se verbruik, oftewel die pyplynvoorraad, as riglyn gebruik om te bepaal wat die afsnypunte in voorraadvlakke kan wees om vanaf invoerpariteits- na uitvoerpariteitspryse en andersom te beweeg.
Voorbeeld
Die National Agricultural Marketing Council (NAMC) se vraag-en-aanbod-komitee raam dat die binnelandse behoefte aan witmielies vir menslike en dierlike verbruik in die huidige bemarkingsjaar 6 720 500 ton kan wees. As daar teoreties dus geen oordragvoor-raad aan die begin van die huidige seisoen was nie, sou ’n witmielie-oes van 7 560 562 ton (6 720 500 ton plus 840 062 ton) gelewer moet word om op die sogenaamde skeidslyn te wees. Suid-Afrika sal nie hoef in te voer nie, maar het dan ook niks om uit te voer nie. Die 840 062 ton verteenwoordig die pyplynvoorraad van 45 dae (1,5 maande) wat as balanseersyfer aan die einde van die bemarkingseisoen gesien word. Die pyplynvoorraad word as volg bereken: (6 720 500/12) x 1,5 oftewel die jaar se geraamde verbruik gedeel deur twaalf, maal een en ’n half.
Met die oordragvoorraad wat daar wel was volgens die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (SAGIS), naamlik 473 964 ton, ’n verwagte kommersiële lewering van 8 863 000 ton (afgelei van die Nasionale Oesskattingskomitee se oesskatting) en ’n plaaslike vraag van 6 720 500 ton (verwagte menslike en dierlike behoefte aan witmielies), kan 1 480 000 ton uitgevoer word om nog steeds 45 dae se voorraad aan die einde van April 2021 oor te hê.
Opsommend
Die 45-daepyplyn- of oordragvoorraad is nie ’n magiese syfer wat, wanneer dit bereik word, pryse drasties tot by invoerpariteit sal verhoog nie. Die tyd van die seisoen en die verwagting ten opsigte van die nuwe oes se grootte en wanneer lewering gaan begin asook ander fundamentele faktore, speel alles ’n rol.
Daar kan ook gevra word of die globalisering van wêreldmarkte die 45-daepyplynvoorraad dalk kleiner gemaak het alvorens plaaslike voorraadvlakke so kritiek raak dat pryse drasties daarop sal reageer.
Verder is die pyplynvoorraad nie ’n aanduiding dat die voorraad wat in die land lê wel te koop is nie. Dit mag dalk op ’n sekere stadium 100% in die hande van verwerkers lê, wat ongeag die heersende pryse net eenvoudig nie sal verkoop nie omdat hulle moet aanhou verwerk totdat die nuwe oes inkom.