Konferensie fokus op navorsing

Mariëtta Cronjé, SA Graan/Grain medewerker

141

Agri SA se Kommoditeit- en Korporatiewe Kamer het onlangs ’n insiggewende konferensie oor landbounavorsing en -ontwikkeling by die Universiteit van Pretoria (UP) aangebied. Breedvoerige aandag is aan die huidige status van landbounavorsing en moontlike oplossings vir die uitdagings op hierdie terrein gegee. Navorsing, as ’n manier om landbou-ontwikkeling en -hervorming te weeg te bring, is ook onder die loep geneem.

Besteding van navorsingsbegrotings
Dr Pieter Prinsloo (voorsitter van Agri SA se Kommoditeit- en Korporatiewe Kamer) het ook die resultate van ’n opname bekendgemaak wat bepaal het hoe kommoditeitsorganisasies hul navorsingsbegrotings bestee. Die opname toon dat 75% van die navorsingsbegroting vir nywerhede aan private instellings, universiteite en ander regeringsagentskappe toegewys word, terwyl slegs 8% van die navorsingsbesteding aan die Landbounavorsingsraad toegewys is. Dit is in kontras met wat in die verlede waargeneem is.

“Ons mededingendheid word ondermyn deur ons onvermoë om die hulpbronne in ons instellings ten volle te benut en ook om samewerkende navorsing in die private sektor te bevorder,” sê dr Prinsloo.

“Landbou het nie die luukse om te verwag dat mislukte staatsinstellings binnekort sal herstel nie. Derhalwe moet ons sonder versuim beheer neem van ons toekoms deur kommoditeite te koördineer en vennootskappe met akademiese instellings en organisasies wat ons denkwyse deel, te verskerp. Die uitgangspunt moet samewerking wees ten einde duplisering te vermy.”

Vennootskappe belangrik
Dr Marinda Visser (bestuurder van die Navorsing- en Beleidsentrum, Graan SA), het die belangrikheid van vennootskappe tussen die regering en die private sektor beklemtoon ten einde die navorsing- en ontwikkelingsbehoeftes van produsente te bevredig.

Sy het ook gesê dat die behoeftes van produsente, soos aangedui deur Graan SA, onder meer gewasverbetering, klimaatsbestendigheid en landbou-ontwikkeling is. Navorsing het al baie bygedra om gewasproduksie in Suid-Afrika te ondersteun. ’n Kritiese evaluering van die huidige navorsingsomgewing is egter noodsaaklik om te verseker dat navorsingsprojekte relevant is en dat die uitkomste die produsent se behoeftes voldoende aanspreek. Dit geld vir beide kommersiële produsente en ontwikkelende boere. Dr Visser het ook daarop gewys dat dit nie net belangrik is vir ontwikkeling nie, maar ook vir transformasie.

Verbetering van voedselsekerheid
Prof Sheryl L Hendriks (hoof van die Departement Landbou-ekonomie, Voorligting en Landelike Ontwikkeling aan UP) het die onderwerp van die verbetering van voedselsekerheid, -veiligheid en -navorsing toegelig. Volgens haar is die finansiering van produsente en die aansienlike verbetering in voorrade, beskikbaarheid en voedingsgehalte van voedsel, belangrike vereistes vir die verbetering van voedselsekerheid in die land.

Sy het daarop gewys dat Suid-Afrika op die oomblik die 45ste plek uit 113 lande op die globale voedselsekerheidsindeks beklee. Prof Hendriks het die volgende aanbevelings gemaak ten einde voedselsekerheid in Suid-Afrika te verbeter, wat die land na ten minste die 35ste plek sal laat opskuif wanneer die 2023-indeks verskyn:

  • Implementeer die ondernemings, soos byvoorbeeld die Nasionale Ontwikkelingsplan, waartoe Suid-Afrika hom verbind het. Dit bied ’n raamwerk vir die bereiking van ontwikkelingsdoelwitte en voedselsekerheid.
  • Baie van die data wat deur Suid-Afrika aan die internasionale domein voorsien word, is verouderd weens ’n gebrek aan eietydse data. Data moet derhalwe opgeknap word.
  • Ten einde die vraag na landbou- en voedselprodukte te stimuleer, moet die bruto nasionale produk ’n groeikurwe handhaaf.
  • Die kapasiteit van die stedelike bevolkingsgroei is ’n belangrike faktor. ’n Groeiende stedelike bevolking vereis voedselsoorte wat vinnig gaargemaak kan word en wat ook voedsaam en goedkoop is.
  • Finansiering vir produsente sal voedselproduksie verbeter en geleenthede skep vir ontwikkeling in die res van die voedselketting.
  • Verminder voedselverliese en -vermorsing. Suid-Afrika se gebrek aan ’n behoorlike stelsel om verliese te meet, lei tot ’n tekort aan data.
  • Verbeter die voorsiening, beskikbaarheid en gehalte van voedsel. Volhoubaarheid en die veerkrag van die voedselbedryf is van groot belang. Dit sal pryse stabiliseer en sake- en werksgeleenthede vir baie mense skep.

Transformasiebesteding
Mnr Vuyo Jack (Empowerdex) het verskeie punte wat belangrik is om die transformasiebesteding van organisasies meer optimaal aan te wend, uitgewys:

  • ’n Langtermynbeskouing word benodig vir volhoubare transformasie.
  • ’n Realistiese benadering, wat kleiner veranderinge oor ’n tydperk maak, is meer volhoubaar as radikale benaderings.
  • Transformasie-inisiatiewe moet waarde skep vir volgehoue ekonomiese groei.
  • Opbrengs op beleggings is uiters belangrik aangesien dit ’n vereiste is vir die skepping van meer werksgeleenthede en die gebruik van staatsfondse.
  • Organisasies se navorsingsinisiatiewe moet ’n bydrae lewer tot transformasie deurdat dit die operasionele vermoëns van ontwikkelende boere sal verhoog.