Dekgewasbestuur se effek in wintergraanstelsels

1063
Rens Smit,
MSc-student: Departe-
ment Agronomie, Uni-
versiteit Stellenbosch en Direktoraat Plantweten-
skappe, Wes-Kaapse De-
partement van Landbou
Dr Johann Strauss,
senior wetenskaplike: Direktoraat Plantweten-
skappe, Wes-Kaapse Departement van
Landbou
Dr Pieter Swanepoel,
senior lektor: Departe-
ment Agronomie, Uni­versiteit Stellenbosch

Deel 2: Die effek op die voedingswaarde vir vee

In die eerste artikel van die reeks is agtergrond gegee ten opsigte van die voordele van dekgewasse, maar ook verwys na die struikelblokke in die gebruik daarvan, veral in die Swartland-produksie-area. Daar is ook spesifiek verwys na die verskillende bestuursmetodes van dekgewasse, naamlik beweiding en die maak van hooi, wat moontlik geld sou kon inbring vir ’n produsent teenoor waar die dekgewasse slegs getermineer en so gelos word.

Daar is gefokus om verskille tussen die metodes uit te wys in terme van die voedingstowwe wat voorkom in die dekgewasmateriaal wat aan die einde van die seisoen oorbly en effektief beskikbaar is vir die gewas wat daarna geplant gaan word.

In die tweede artikel word daar hierdie maand gefokus op die voedingswaarde van die dekgewasse vir die veefaktor.

Die drie bestuursmetodes
Beweiding
Die dekgewasse is bewei toe die grane in die twee mengsels die vlagblaarstadium van ontwikkeling bereik het. Die periode van beweiding was tien dae. Daar is twee ooie in elke kamp geplaas, met ’n gemiddelde liggaamsgewig van 75 kg. Dit is die ekwivalent van 133 ooie/ha.

Nadat beweiding plaasgevind het, is die dekgewasse toegelaat om te hergroei sodat daar nog genoegsame bedekking na die seisoen beskikbaar was. Die hergroei is getermineer voordat are gevorm het.

Hooiproduksie
Die dekgewasmengsels is gesny vir hooi op die sagte­deegstadium van die graan se ontwikkeling. Die materiaal is toegelaat om droog te word en is daarna as hooi verwyder. Die biomassa vir elke perseel is geweeg en die opbrengs is bepaal op ’n droëgewigbasis.

Deklaag
Die dekgewasblokke in hierdie behandeling is met behulp van ’n kneusroller getermineer. Dit is op dieselfde tydstip gedoen as wat die hooipersele gesny is. Die gerolde persele is net so gelaat as ’n deklaag.

Soos in verlede maand se artikel gesien is, kan die implementering van dekgewasse grond se eienskappe en gewasdiversiteit verbeter. Dit kan ook lei tot verhoogde gewasproduksie. ’n Verdere voordeel is die beskikbaarheid van ’n voedsame weiding vir vee.

Alhoewel daar dikwels aanbeveel word dat die dekgewas net so gelos word, het hierdie studie getoon dat dekgewasse benut kan word en nog steeds positiewe voordele kan hê.

Verhoog produksie van vee
Met smaaklike en voedsame weiding kan produsente die produksie van vee verhoog met hierdie mengsels, sonder die koste van voer. Dekgewasse het die potensiaal hiervoor omdat die produsent die voedingswaarde kan verander deur die manipulering van die tydsberekening van beweiding en die samestelling van die mengsel.

Die produksie van hooi skep ’n geleentheid dat produsente voer met ’n spesifieke voedingswaarde kan stoor en die veranderinge in voedingswaarde beperk. Dit is egter belangrik om te besef dat beweiding net ’n natuurlike skakel van die voedselketting is, maar tydens hooiproduksie word voedingstowwe uit die grond verwyder.

Koste
Alhoewel daar ’n koste verbonde is aan die produksie van dekgewasse, is dit moontlik om hierdie uitgawe in vleisproduksie te belê. In Tabel 1 is dit duidelik dat die uitgawe verbonde aan dekgewasse minder is as om skaapvoer aan te koop. Dekgewasse is nou wel nie ’n voer wat in ’n sak gekoop word nie, maar wat voedingswaarde aanbetref, staan hierdie weiding nie terug nie.

Studie
Hierdie aannames is gebaseer op die resultate van ’n studie oor benutting van dekgewasse op die Langgewensnavorsingsplaas (Wes-Kaapse Departement van Landbou) net buite Moorreesburg in die Swartland. Die twee dekgewasmengsels is so saamgestel dat daar ’n 70/30-verspreiding was tussen die graan- en peulkomponente. In die oorwegend peulmengsel het die peulplante 70% van die mengsel uitgemaak en grane 30%, terwyl die oorwegend graanmengsel die teenoorgestelde was.

Vanuit die data in die tabel is dit duidelik dat dekgewasse ’n hoë proteïeninhoud met ’n hoë verteerbaarheid het. Die proteïeninhoud en verteerbaarheid van beide mengsels het afgeneem soos die gewasse ouer geword het. Die graanmengsel het laer proteïene en verteerbaarheid as die peulmengsel op dieselfde groeistadium, maar die graanmengsel produseer meer en dus ook goedkoper voer.

Produsente kan hierdie verskille gebruik om die ideale mengsel vir hul stelsels saam te stel en dan ook hierdie mengsel op die regte tyd te benut. Die voedingswaarde dui daarop dat die beweiding van die oorwegend peulmengsel die groei van vee kan verbeter – veral spiergroei weens die hoë proteïen.

Bestuur van dekgewasse
In praktyk kan dekgewasse meer as een keer bewei word gedurende ’n seisoen, maar die bestuur van die dekgewas moet van so ’n aard wees dat daar genoeg bedekking aan die einde van die seisoen oorbly. Deur beeste deel te maak van die beweiding kan die bestuur vergemaklik word, omrede hulle die dekgewas op ’n baie laat stadium van ontwikkeling steeds kan bewei. Teen hierdie stadium het die dekgewasse meer materiaal geproduseer en is dit dus ’n goedkoper voer.

Die voedingswaarde van dekgewasse verander deur die loop van die seisoen en hierdie feit moet in gedagte gehou word met die benutting van die dekgewas. Soos die gewas ouer word, neem die hoeveelheid voer toe en die proteïeninhoud van die voer neem af terwyl die hoeveelheid vesel toeneem. ’n Produsent kan dus die voedingswaarde van die voer manipuleer na aanleiding van sy spesifieke produksiestelsel se behoefte.

Voor- en nadele
Gewas- en diereproduksie behoort in ag geneem te word wanneer die voor- en nadele van die beweiding van dekgewasse teenoor onbenutte dekgewasse oorweeg word. Wanneer dit gedoen word, oorskadu die voordele van beweiding die moontlike negatiewe aspekte.

Dekgewasse kan ’n belangrike rol speel in die integrasie van vee in bewaringstelsels, deur die verbetering van beide die gewas- en diereproduksiekomponente. Die kombinasie van die verskeidenheid van beskikbare gewasse binne ’n dekgewasmengsel, kan die diversiteit van die stelsels verhoog en ’n gebalanseerde voer aan die veefaktor verskaf. Dekgewasse is veeldoelig en het die potensiaal om plaasproduksie te verhoog deur die korrekte bestuur daarvan.

Waarna word volgende keer gekyk?
Volgende maand is die laaste artikel in die reeks oor die verskillende dekgewasbestuursmetodes. Daar sal gefokus word op die reaksie van koring wat ná die verskillende metodes geplant word.

Vir enige navrae, kontak die outeurs by rensagri@gmail.com, johannst@elsenburg.com of pieterswanepoel@sun.ac.za.