Stille stryd van die akkerbouers

Wilna Engelbrecht-Smuts, direkteur, Sfumato Learning
Gepubliseer: 3 Julie 2023

916

Die lewe van ’n graanprodusent is ’n roeping van passie en vasberadenheid – ’n leefstyl wat innig verbind is met die grond en die wisselvalligheid van die natuur. Te midde van die eise en uitdagings van gewasversorging word die emosionele welstand van die akkerbouer egter dikwels verwaarloos. Agter die sterk glimlag en harde werk skuil daar dikwels ’n stille stryd.

In hierdie artikel word die impak van uitdagings op die geestesgesondheid en emosionele welstand van graanprodusente verken, asook enkele strategieë voorgestel om veerkragtigheid te kweek en ’n gesonde balans te herwin.

Onsekerheid eis sy tol
Dit is geen geheim dat die landbousektor vol onsekerhede en uitdagings is nie. Faktore soos klimaatsverandering, droogtes, plae, markfluktuasies, die druk om winsgewend te bly asook die geweldige verantwoordelikheid om ’n suksesvolle oes te produseer, is maar enkele van die talle uitdagings wat produsente moet trotseer. Graanprodusente dra boonop die verantwoordelikheid vir die voortbestaan van die plaas en sy arbeiders, wat die vrees om te misluk oorweldigend kan maak.

Hierdie uitdagings kan ’n beduidende impak op die emosionele welstand van produsente hê. Emosies soos frustrasie, magteloosheid en selftwyfel word dikwels ervaar. Onophoudelike druk en stres lei boonop tot verdere komplikasies soos verhoudingsprobleme en takel fisieke gesondheid af. Gebrekkige ondersteuning, isolasie en die onvoorspelbaarheid van landbou kan voorts tot die ontwikkeling van angs, depressie en uitbranding lei.

Hoe help ons hierdie produsente?
Eerstens behoort daar ’n groter bewustheid gekweek te word van die stille stryd waarmee graanprodusente worstel en tweedens behoort daar meer gedoen te word om hulle te ondersteun. Enkele wenke en strategieë om veerkragtigheid te bevorder, sluit die volgende in:
1. Gemeenskapsnetwerke: Gemeenskapsnetwerke en landbou­verenigings bied ’n uitstekende ondersteuningsnetwerk vir
produsente. Buiten dat dit ’n uitlaatklep vir frustrasies en gemeenskaplike bekommernisse bied, is dit ook ’n geleentheid om waardevolle raad en ondersteuning van eendersdenkendes
te bekom.
2. Professionele hulp en ondersteuning: Produsente moet aangemoedig word om hul emosionele welstand ernstiger op te neem. Dit sluit professionele hulp soos sielkundiges en terapeute (wat die spesifieke uitdagings van landbou verstaan) in. Belang­rike aspekte waarmee ’n sielkundige of terapeut behulpsaam kan wees, sluit onder meer die volgende in:

  • Selfkennis: Selfkennis sluit ’n bewustheid van unieke sterkpunte en individuele groei-areas in. Dit is ook belangrik om eie emosies te verstaan, te verwoord, te beheer en die impak daarvan op ander gesonder te bestuur. Emosionele intelligensie kan die individu ondersteun om beter besluite te neem, meer gesonde verhoudinge te kweek, minder uitgelewer te wees aan gevoelens oor bevoegdheid en lei tot hoër motivering en sukses.
  • Beter hantering van druk en stres: Indien daar nie gesonde maniere gevind word om stres en druk te hanteer nie, kan dit lei tot groter probleme soos uitbranding, substansafhanklikheid, verhoudingsprobleme en gesondheidsrisiko’s. ’n Sielkundige of terapeut kan die individu bystaan met die ontwikkeling van hanteringsmeganismes soos asemhalings- en ontspanningstegnieke, meditasie en beter tydsbestuur om enkeles te noem.
  • Professionele sielkundiges en terapeute gebruik ook ander tegnieke om die individu by te staan. Terapeutiese tegnieke wat onder andere gebruik word, kan die volgende insluit: Kognitiewe gedragsterapie (wat daarop fokus om negatiewe denkpatrone en gedrag te identifiseer en te verander); aanvaarding en toewydingsterapie (moedig individue aan om gedagtes en gevoelens sonder oordeel te aanvaar en te fokus op sinvolle aksies); psigodinamiese terapie (vroeë ervarings en die impak daarvan op emosies, denke en gedrag); oplossingsgerigte terapie (gemik op die vind van oplossings); bewustheidsgebaseerde stresvermindering (ondersteun individu om stres, angs en pyn te bestuur).

3. Selfsorg: Produsente werk lang ure en skeep hul eie behoeftes dikwels af. Dit is belangrik om tyd te maak vir ontspanning en ander genotvolle aktiwiteite soos stokperdjies, belang­stellings en sport. Dit is noodsaaklik om ’n balans tussen werk en ontspanning te vind ten einde emosionele welstand te bevorder.
4. Slaap: Baie produsente kry nie genoeg slaap nie as gevolg van ongereelde werkskedules. Kenners beveel aan dat ’n persoon sewe tot agt ure per nag behoort te slaap. Gebrekkige slaap kan lei tot swak besluitneming, prikkelbaarheid asook lae motivering en produktiwiteit. ’n Langdurige gebrek aan voldoende rus en slaap kan tot uitbranding en ander gesondheidsgevare lei.
5. Gesonde eetgewoontes: ’n Gebalanseerde dieet dra by tot ’n gesonde gemoedstoestand en hoër energievlakke en sluit genoeg vars vrugte, groente en volgraanprodukte in. ’n Dieetkundige kan waardevolle wenke gee om ’n gesonder leefstyl te handhaaf en die uitdagings van ongereelde etens­tye beter te bestuur.
6. Rus, rus, rus. Neem gereelde ruskanse gedurende die dag. Gereelde rustye verfris nie net die energievlakke nie, maar dra ook by tot ’n verfrisde gemoed en verhoogde fokus.

Ten slotte
Die emosionele welstand van produsente is noodsaaklik om ’n volhoubare en gesonde landbousektor te verseker. Deur die bevordering van bewustheid, die skep van gemeenskapsondersteuningsnetwerke en die beskikbaarstelling van hulpbronne, kan ons bydra tot die verligting van die stille stryd wat graanprodusente in hul harte dra. Laat ons saamwerk om hierdie helde van landbou te ondersteun. Die graanprodusente wat die fondament van ons voedselvoorsieningsketting vorm, verdien ons waardering en ondersteuning op alle vlakke van hul lewens.

Graan SA-fotokompetisie – Tiani Claassen, November 2019