“Wie nie waag nie, wen nie” – Jack Human

Louise Kunz, SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 2 Julie 2024

90

Jack Human word allerweë beskou as die pionier van bewaringslandbou in Suid-Afrika. Tydens Graan SA se 2023 Graanprodusent van die Jaar-toekenningsgeleentheid in Oktober laasjaar is hy postuum vereer met die Inspirasie-toekenning vir sy baanbrekerswerk en die bekendstelling van die konsep van bewaringslandbou aan Suid-Afrikaanse landbou.

Jack was 65 toe hy op 8 Desember 2015 ná ’n fratsongeluk op die plaas oorlede is. Sy seun Jacobus, wat die toekenning namens sy oorlede pa in ontvangs geneem het, het gesê hy is geweldig trots op die bydrae wat sy pa tot die streek en tot landbou in die algemeen gemaak het. Jacobus bou voort op sy pa se nalatenskap waar hy met kanola, koring en gars in die Heidelberg/Swellendam-distrik boer.

Jacobus Human het die Graan SA Inspirasie-toekenning namens sy oorlede pa in ontvangs geneem.

Omgewingsramp bring verandering teweeg
Die besluit om van konvensionele bewerking na regeneratiewe bewerkingsmetodes oor te skakel, is aangespoor deur die verwoesting wat deur die Laingsburg-vloed van 1981 veroorsaak is. Dié omge­wingsramp het tot aansienlike gronderosie gelei en die kwesbaarheid van tradisioneel geploegde lande blootgelê.

Omdat baie reën ook in die omgewing waar Jack geboer het geval het, het die groot volumes water baie van die bogrond geërodeer en weggespoel. Jacobus vertel dat sy pa opgemerk het dat die geploegde lande heeltemal weggespoel het. Die grond wat gebrand is en een keer met ’n tandimplement bewerk is, het minder geërodeer, terwyl die stoppellande glad nie verweer het nie. Hierdie bewyse het dit vir Jack duidelik gemaak dat ’n verskuiwing in be­wer­kingspraktyke noodsaaklik was.

Die wyle Jack Human.

Jacobus het in die reeks Farming with nature vertel dat van die lande waarvan die bogrond in 1981 weggespoel het in 2023 steeds swakker opbrengste gelewer het. Hy is een van ses produ­sente wat die fokus op bewaringslandbou geplaas het in dié reeks, wat deur Mzansi Story Labs en SSK ontwikkel is en op die VIA-kanaal uitgesaai is. Jacobus het in die eerste episode van die reeks ook vertel van die rol wat sy pa gespeel het in die ontwikkeling van bewa­ringslandboupraktyke in die Wes-Kaap.

Verandering begin met die eerste tree
Jack het Australië saam met ’n groep produsente besoek waar hulle eerstehands kon ervaar wat die voordele van bewarings­boerderypraktyke was. Dit het sy belangstelling aangewakker en sy toewyding om dit wat destyds in Australië gedoen is, suksesvol plaaslik toe te pas, word steeds as merkwaardig beskou.

Die oorgang van konvensionele bewerking na geenbewerking was nie ’n maklike pad nie. Hy het die waagmoed gehad om tradisionele boerderystelsels voortdurend uit te daag. Nie net moes hy die regte werktuie en praktyke vind vir die omgewing se unieke toestande nie, maar hy het ook onder kritiek van ander produsente deurgeloop vir hierdie “vreemde bewerkings­praktyke”. Hy het egter doelgerig voortgegaan omdat hy geglo het dit is die oplossing om volhoubare produksie te bewerkstellig.

Deursettingsvermoë werp vrugte af
In 1984 – wat ’n droë jaar was – was die eerste tekens van sukses met dié praktyke sigbaar. Ander produsente het versigtig begin inkoop in die stelsel en Jack was altyd bereid om sy kennis en vaardighede met hulle te deel.

Diegene wat sy aanbevelings ondersteun het, het vinnig resultate behaal en dit het vir hom as motivering gedien. Sy entoesiasme en toewyding het tot ’n omwenteling in  graanproduksie in die Suid-Kaap en Overberg-area gelei – nie net in normale produksiejare nie, maar ook in tye van droogte en plae.

In ’n huldeblyk het Richard Krige, visevoorsitter van Graan SA, gesê Jack se nalatenskap is die volhoubare groei van graanproduksie in die Suid-Kaap en Overberg. Hy het hom beskryf as ’n ikoon in landboukringe en vir bewaringslandbou in Suid-Afrika. “Verbeterde grondvogbewaring en die meer biologiese benadering tot boerderypraktyke het verseker dat gemeenskappe kon voortgaan tydens droër klimaatstoestande. Dit het ook bygedra tot hoër opbrengste vir graanproduksie in die Suid-Kaapse produksiegebiede, selfs meer as in gebiede met ’n hoër reënval,” het hy bygevoeg.