Voor- en nadele van grondvoorbereiding in bewaringsboerdery

46
Dr Rianto van Antwerpen,
senior navorser en bestuurder: Stelsel­ontwerp en Optimise­ringsprogram, SASRI en eremedeprofessor aan die Universiteit van die Vrystaat

Grond word sedert die Bybelse tyd bewerk om graan te produseer. Redes vir die noodsaaklikheid van grondvoorbereiding sluit in die toeslaan van gronde, om waterinfiltrasie te bevorder en afloop te verminder en om die effektiwiteit van reënwater te verhoog. Dit word verder ook gedoen om ’n goeie saadbed vir die kleiner sade te verseker, winderosie te bekamp, gronddeurlugting te bevorder, oesreste in te werk, onkruide te beheer, plantsiektes te verminder, ongunstige chemiese toestande in grond op te hef (byvoorbeeld suur- en brakgronde) asook om grondverdigting op te hef.

Die hoofrede vir die bewerking van gronde is om gunstige toestande vir die groei van plantwortels te verseker vir die opname van water, suurstof en voedingstowwe – alles wat deur die plant vir ’n goeie opbrengs benodig word.

’n Tekort aan enige een van hierdie elemente sal ’n verlaging van die potensiële oes tot gevolg hê. Om dié faktore aan te spreek, gaan daar in hierdie artikel klem op die opheffing van grondverdigting gelê word.

Grondverdigting
Grondverdigting is die algemeenste beperkende faktor vir oesopbrengs in landbou. In die moderne opset word gronde intensief bewerk en dra dit daardeur baie verkeer, wat maklik die totale landoppervlakte kan vastrap. Om hierdie euwel teë te werk, is daar twee benaderings wat produsente kan volg, naamlik spoorverkeer of herhaalde skeurploeg.

Spoorverkeer
Die eerste is om beheerde spoorverkeer oordeelkundig toe te pas. Dit het sy voordele, soos die goeie traksie wat die gekompakteerde roete vir werktuie bied wat deur die lande moet ry. Terselfdertyd word minder energie (brandstof) benodig om vir die volgende aanplanting voor te berei.

Nadele sluit in dat produsente ’n stelsel moet implementeer om te verseker dat die wiele elke keer op dieselfde spore ry en dat die wielspasiëring van al die implemente wat in die lande gebruik word dieselfde intervalle (werkswydte) moet hê.

Met ’n beheerde spoorverkeerstelsel word die “negatiewe” eienskappe van verdigte grond tot voordeel van die landbouer gebruik. Meer hieroor in ’n moontlike toekomstige artikel.

Losmaak van verdigte sones
Die tweede opsie wat die produsent het, is om verdigte gronde weer los te maak. Voordat hierdie taak aangepak word, is dit raadsaam om te bepaal waar die probleem is, omdat die doelgerigte aanspreek van die kwessie tot kostebesparing kan lei.

Byvoorbeeld: Is die grondverdigting op die oppervlak of is die probleem net onder die ploeglaag? Hoe wyd verspreid is die probleem? Dek dit net die spore van implemente (byvoorbeeld die middel van die spore is 2,7 m uitmekaar en elke spoor is 0,9 m wyd) of bedek die gekompakteerde laag die totale land?

Om bogenoemde maklik en goedkoop te bepaal, kan die penetrasieweerstand van die grond op ’n paar plekke in die land getoets word. Gebruik sommer ’n 600 mm-lange staaf van vlekvrye staal met ’n deursnee van 5 mm, ’n skerp punt en ’n “T”-handvatsel (Foto 1).

Nadat die omvang van die verdigte lae bepaal is, kan ’n gat of twee gegrawe word om die verdigte lae fisies te ondersoek vir dikte en wydte. Hierdie inligting kan gebruik word om te besluit hoe diep, wyd en waarmee die grond bewerk moet word. Die produsent kan ook in gedagte hou dat die geleentheid daar is om terselfdertyd ’n grondkondisioneerder (organiese materiaal, kalk of gips) in te werk.

Dit gaan ook die keuse van bewerkingsdiepte en -tipe beïnvloed.

Opheffingsopsies
Nadat bepaal is dat daar wel ’n verdigte laag is, sal die diepte van voorkoms bespreek word en hoe dit die keuse van implemente gaan beïnvloed.

In die bespreking wat volg, word aangeneem dat ’n grondkondisioneerder nie terselfdertyd toegedien gaan word nie. ’n Beginsel wat regdeur hierdie artikel toegepas word, is om grondversteuring tot ’n minimum te beperk.

Geenbewerking of minimumbewerking word nie hier voorgehou nie, maar die noodsaaklikheid van grondbewerking om ’n probleem op te los word volgens drie scenario’s bespreek.

Korsvorming op die oppervlak
Geen verdigte lae kom voor nie, maar daar is ’n dun kors (<2 mm) op die oppervlak met tekens dat water afgeloop het nadat dit gereën het (Foto 2 en Foto 8). Die kors kan maklik gesien word indien ’n kluit van die kant bekyk word.

Die kors word soms na ’n enkele reënbui gevorm en kan sterk genoeg wees om dit baie moeilik vir saailinge te maak om deur te breek. Gewoonlik word gesê die grond het “toegeslaan”. In hierdie geval kan die dikte van die kors tot soveel as 10 mm wees.

Om beide tipes grondkorse op te hef, kan ’n roltandeg of duisendpoot (Foto 4), sleepeg (Foto 5), veertandskoffel (Foto 6) of soortgelyke implement gebruik word. Hierdie implemente moet verkieslik voor opkoms gebruik word. Nadat die plantjies opgekom het, moet hierdie operasie vir die beste resultate tot ’n roltandeg beperk word.

Produsente wat ’n stelsel van wateroes bedryf, moet die ophef van korse tot die plantrye beperk. Oppervlakkorse in die afloopbane word gebruik om die water na die gewasrye te kanaliseer.

Voordele van die opheffing van korse sluit beter gronddeurlugting, verhoogde waterinfiltrasie en minder afloop en erosie in.

Nadele is die verhoogde tempo van die afbreek van organiese materiaal in die grond. Met hierdie vlak bewerking word die afbreek van oesreste tot die oppervlak beperk, maar die oppervlak is ook die plek waar organiese materiaal in die hoogste konsentrasie voorkom.

Die voordele van hierdie bewerkingsaksie is van korte duur, aangesien korse met die eerste reënbui weer sal vorm. Dit is daarom noodsaaklik, veral in die graanproduserende dele van Suid-Afrika, om oesreste op die toekomstige plantrye te konsentreer in ’n poging om die grond in hierdie sone onder ’n bedekking te hou.

Oesreste op die ry kan ernstig met die plantproses inmeng, aangesien dit planters laat pak. Om dié probleem aan te spreek, kan die planter met stoppelbeheerders (stubble managers) toegerus word.

Verdigting tot ’n diepte van 100 mm
Verdigting is slegs op die oppervlak en beperk tot ’n diepte van 100 mm (Grafiek 1). Hierdie tipe verdigting word deur die bande van werktuie veroorsaak en opheffing verg nie veel energie nie. Die produsent moet egter seker maak dat dit noodsaaklik is om hierdie verdigte laag op te hef en dat dit nie vir ’n ander doel soos beter traksie aangewend kan word nie. Die beginsel om toe te pas is om vlak te werk met ’n tandimplement.

Indien die verdigting in parallelle stroke voorkom, word aanbeveel dat ’n twee- of drietandripper gebruik word waarvan die tande gespasieer is om die verdigte stroke te bewerk. Die diepte van bewerking moet nie vlakker as 150 mm en nie dieper as 200 mm wees nie. ’n Beitelploeg (Foto 7) waarvan die oortollige tande verwyder is, kan ook gebruik word.

Wanneer die verdigting oor die totale oppervlakte voorkom, kan ’n drie- of vier­balkbeitelploeg (of soortgelyk) gebruik word. Om groterige kluite kleiner te breek, kan ’n paar kluitbrekers (crumble busters) aan die agterkant van die implement gekoppel word.

As tandimplemente nie beskikbaar is nie, kan ’n skaarploeg oorweeg word. Die nadeel van hierdie implemente is dat die bogrond (0 mm tot 200 mm) omgekeer word, wat tot ’n hoër tempo van die afbreek van organiese materiaal lei.

In hierdie geval sal dit raadsaam wees om veral in die westelike dele van Suid-Afrika, waar organiese materiaal skaars is, hierdie hulpbron op toekomstige plantrye te konsentreer.

Voordele sluit verbeterde gronddeurligting, verhoogde waterinfiltrasie­tempo en aanvanklik minder kans vir afloop en erosie in. Die rowwe grondoppervlak is ook ’n teenvoeter vir winderosie. Plantwortels is geneig om hierdie losgemaakte sones eerste te lokaliseer.

Nadele is die moeite om die grond tot op die regte diepte te bewerk, die verbrokkeling van grondstruktuur en die verhoogde tempo van die afbreek van organiese materiaal.

Verdigting op ’n diepte van 200 mm en dieper
Die verdigting kom op ’n diepte van 200 mm en dieper voor. Hierdie tipe verdigting word hoofsaaklik deur implemente veroorsaak wat gebruik word om die grond ter voorbereiding van plant te bewerk. Voorbeelde is skottelploeë en skaarploeë van verskeie ontwerpe.

Laasgenoemde implemente is ontwerp om die ploeglaag los te maak en die grond te meng, maar terselfdertyd oefen dit druk op die snyvlak uit wat onder spesifieke toestande (’n kombinasie van die hoeveelheid klei en waterinhoud) ’n verdigte laag veroorsaak.

Hierdie gekompakteerde laag is baie nadelig deurdat dit die tempo van waterinfiltrasie vertraag en aanleiding tot versuiping, afloop en erosie gee (Foto 8). Na reënval is water soms vir dae op die oppervlak sigbaar, wat aandui dat infiltrasie en dreinering nie voldoende is nie. Boonop word die wortels tot die ploeglaag beperk (Foto 9), wat gewoonlik tot verlaagde oeste lei.

Weer eens moet bepaal word of hierdie verdigting in stroke of algeheel oor die hele land voorkom. Indien beheerde spoorverkeer nie toegepas word nie, word verwag dat hierdie tipe verdigting oor die hele land sal voorkom. Die gebruik van ’n skeurploeg (ripper) (Foto 10) is die beste manier om hierdie probleem op te los.

Omdat die verdigte laag maklik 150 mm tot 200 mm dik kan wees (dit moet in die land bevestig word), moet gepoog word om die rippertand ten minste tot ’n diepte van 450 mm in die grond te druk. Om dit reg te kry, moet ’n kombinasie van baie faktore in gedagte gehou word: Klei-inhoud, waterinhoud, aantal tande, ontwerp van die skeurploeg, die tipe skare op die ripper en die grootte van die trekker. Indien nodig, verminder eerder die aantal tande om die regte bewerkingsdiepte te verseker.

Voordele sluit die afwesigheid van ’n keerlaag tot die voordeel van waterinfiltrasie en wortelverspreiding in. Die nadeel is die koste van die operasie (ongeveer R960/ha vir ’n 60 kW-trekker met ’n drie­tandripper). Die voordele oorskadu die nadele egter verreweg.

Voor- en nadele van grondbewerking
Die versteuring van grond het voordele en nadele. Voordele sluit beter deurlugting, minder afloop en erosie, verhoogde waterinfiltrasietempo tot ’n groter diepte asook beter wortelverspreiding en benutting van die grondprofiel in.

Nadele sluit verhoogde produksiekoste, die opbreek van grondstruktuur en die versnelde verlaging van organiese materiaal in. In KwaZulu-Natal is bereken dat ’n enkele opertbewerking van ’n Westleigh-grondvorm met 15% tot 18% klei en ongeveer 0,8% organiese materiaal gelei het tot die opname van ’n addisionele 30 kg N/ha in suikerriet. Hierdie N was van die organiese materiaal in die grond wat gemineraliseer het, afkomstig.

Hoewel dit mag voorkom asof die plante groener is hoe dieper die grond bewerk word (en dit is dikwels die geval), moet die vraag wees: Hoekom? Waar kom die elemente (hoofsaaklik stikstof) vandaan wat die gewas so goed laat lyk?

Van hierdie addisionele voedingstowwe kom van die grond af omdat die wortels nou toegang het tot ’n groter volume grond. ’n Betekenisvolle hoeveelheid word uit die voorraad organiese materiaal in die grond vrygestel as gevolg van ’n bevolkingsontploffing van mikro-organismes wat deur grondversteuring en deurlugting gestimuleer is.

Hierdie proses is nie volhoubaar nie. Dit is ’n kuns om ’n balans te handhaaf tussen grondbewerking aan die een kant en die bewaring van organiese materiaal in die grond aan die ander kant.

Erkenning
Die outeur gee erkenning aan Martiens du Plessis (grondkundige van NWK) vir waardevolle kommentaar gelewer en die verskaffing van foto’s wat in hierdie artikel gebruik is.

Verwysing
Botha, JJ, Van Staden, PP, Anderson, JJ, Van der Westhuizen, HC, Theron, JF, Taljaard, DJ & Koatla, TAB. 2014. Guidelines on best management practices for rainwater harvesting and conservation (RWH&C) for cropland and rangeland productivity in communal semi-arid areas of South Africa. WRC Report No. TT590/14. Water Research Commission, Pretoria, South Africa.