Wat presies is transitoversekering?

Gerhard Diedericks, finansiëlerisiko-evalueerder
Gepubliseer: 31 Augustus 2023

282

Transitoversekering verskaf aan die versekerde of enige individu wat ’n versekerbare belang het in die bates wat vervoer word, beskerming teen ’n aantal versekerbare risiko’s indien daar skade aan of verlies van die vrag wat vervoer word deur ’n versekerde gevaar aangerig word. Dit sluit in versekerbare gevare wat met die voertuig gebeur soos deur die produsent versoek.

Deur na die term “transito” te kyk, is die meeste dekking wat tans in die mark beskikbaar is die verskaffing van finansiële beskerming teen sekere versekerde gevare, ingesluit die op- en aflaai van die vrag of terwyl die vrag vervoer word van punt A na punt B.

Opsies vir produsente in die graanbedryf

  • Die produsent moet na die totale evaluering van sy finansiële risiko’s en die versekering wat hy reeds uitgeneem het kyk om eerstens duplisering te vermy, maar ook om seker te maak dat daar nie gapings in sy risikobestuursoplossings is nie. So bied sommige oesversekeringspolisse sekere transitodekking teen sekere gevare vir ’n gedeelte van die rit wat gewoonlik beperk word óf tot die naaste leweringspunt óf tot ’n sekere aantal kilometers.
  • Tweedens moet die produsent verstaan watter dekking sy handelsvennote tydens die afleweringsproses bied of watter kontraktuele ooreenkomste daar in plek is met sy handelsvennote en verskaffers asook die vervoer van sy produkte na die eindbestemming en watter kontraktuele ooreenkomste hy het met betrekking tot wie se verantwoordelikheid dit is terwyl die vrag onder sodanige handelsvennote se beheer is.
  • Die produsent moet sy eie risiko verstaan en bepaal wat sy aptyt is om die volle of gedeeltelike risiko self te dra.
  • Met hierdie inligting asook die advies van sy finansiële adviseur, neem die produsent dan ’n ingeligte besluit volgens sy behoeftes en met ’n balans tussen die koste en risiko van transitoverseke­ring.

Hoekom is dit belangrik om transitoversekering te hê?

  • Op hierdie stadium van die seisoen het die produsent reeds al sy insetkoste aangegaan tot en met die oes van sy gewasse en begin die proses van transitoversekering, hetsy na eie stoorfasiliteite, derde partye se stoorfasiliteite en/of die verskillende kliënte wat die oes by die produsent aangekoop het.
  • Sommige produsente beplan dalk om van hulle oes uit te voer. Dan is daar meer gespesialiseerde transitoversekeringsoplos­sings wat weer onderhewig is aan ander polisvoorwaardes en onderskrywingsmaatreëls wat kan verskil van die dekking wat die produsent se oes- of landboubatepolisse bied.
  • Dit is dus van deurslaggewende belang vir die produsent om te besluit of hy sonder transitoversekering wil gaan of nie. Verliese op hierdie stadium – soos wat tydens die KwaZulu-Natalse onluste gesien is – kan ’n verwoestende effek op die finansiële stand van die produsent hê. Indien die oesopbrengs vir ’n tyd gestoor word, raak dit “voorraad” en bied ’n ander afdeling van sy polis die produsent die geleentheid om ’n keuse uit te oefen of hy daardie dekking wil uitneem al dan nie.

Wat is die belangrikste faktore wat in ag geneem moet word wanneer ’n produsent dit oorweeg om transitoversekering uit te neem?
1. Watter goedere vervoer die produsent waarvoor transitoverse­kering benodig word?

  • Verskillende kommoditeite se waarde per ton is duurder of goedkoper as ander en dit gaan die behoefte van die vrag­limiet beïnvloed.
  • Wil die produsent slegs enkeltransitodekking uitneem of dekking op al die produksievoorraad?
  • Daar kan ook ander bates wees waarop die produsent transitodekking wil hê bo en behalwe die produksie van die kommoditeite waarmee geboer word, soos onder meer implemente, toerusting en insetkoste soos saad en kunsmis.

2. Van watter tipe vervoermiddel gaan die produsent gebruik maak vir die vervoer van produkte? Kontrakteurs of eie vervoermiddels?

  • Indien van ’n vervoerkontrakteur gebruik gemaak word, is daar gewoonlik ’n opsie om die vervoerkontrakteur te versoek om versekering namens die produsent uit te neem en sal dit deel van die vervoerkoste uitmaak.
  • Indien van eie vervoermiddels gebruik gemaak word, sal die produsent moontlik, afhangend van die afstand, nie die vragmotor leeg wil laat terugkeer nie en kan daar moontlik ’n vrag van iemand anders vervoer word op die roete terug. Dit is belangrik om seker te maak of die bestaande polis sodanige dekking outomaties insluit en of dit eers uitge­klaar moet word met die finansiële adviseur of verseke­raar. Versekeraars se dekking kan van mekaar verskil en die produsent kan dan gesien word as ’n vervoerkontrakteur wat ’n invloed op die voertuigversekering kan hê.

3. Watter tipe dekking benodig die produsent, met ander woorde teen watter gevare moet versekering uitgeneem word? Daar is verskillende opsies en ’n gesprek met die finansiële adviseur of versekeraar sal verduidelik watter opsies hulle teen watter koste aanbied.

  • Die vrag kan teen alle risiko verseker word, alhoewel daar tog sekere gebeure is wat die verskillende versekeraars kan uitsluit gebaseer op die verskillende behoeftes van die kliënt.
  • Brand, ontploffing, botsing en omslaan van voertuig.
  • Brand, ontploffing, botsing en omslaan van voertuig met diefstal volgende.
  • Kaping van voertuig en vrag.
  • Diefstal van vrag.
  • Daar kan nog ander opsies ook beskikbaar wees afhangende by watter versekeraar die versekering geplaas word.

4. Watter limiet per vrag word benodig en wat is die jaarlikse omset op die produkte wat die produsent wil verseker?

  • Die meeste versekeraars wat dekking verskaf vir transito­versekering wil weet wat die limiet per vrag is waarvoor die produsent wil verseker om hulle maksimum blootstelling per gebeurtenis te bepaal.
  • Verder gaan die meeste versekeraars ook die jaarlikse omset verlang, aangesien dit ’n invloed op die koste van verseke­ring gaan hê.
  • Die meeste risikobestuursoplossings beskikbaar maak voorsiening dat die voorraad op ’n verklaringsbasis gedoen word. Indien die kommoditeitspryse styg of daal, beïnvloed dit die behoefte van ’n vraglimiet asook die jaarlikse omset wat tot gevolg kan hê dat die berekening van die koste van versekering hoër of laer is.
  • Die opsie vir die betaling van ’n premiedeposito kan be­skikbaar raak. Die premie word herbereken aan die einde van die versekeringstermyn om te bepaal of ’n herberekende premie betaal moet word. Afhangende van die kommodi­teitspryse kan dit tot die produsent se voordeel wees of hy kan versoek word om ’n addisionele premie te betaal.

Die basiese beginsels van versekering geld steeds

  • Die persoon wat transitoversekering uitneem moet steeds verse­kerbare belang by die bates wat vervoer word hê, hetsy as eie­naar of weens ’n kontraktuele ooreenkoms.
  • Daar kan ’n bybetaling deur die versekeraar op die transito­polis geplaas word gebaseer op die betrokke produsent se verse­keringsgeskiedenis.
  • Maak seker dat die uitsluitings wat op die transitopolis genoem word, verstaan word en dat dit ooreenstem met die behoeftes.
  • Daar sal klousules en uitbreidings op die polis wees.
  • Elke polis sal sekere definisies in die kontrak hê, maak seker dat dit verstaan word.

In geval van enige onsekerheid, praat gerus met jou finansiële adviseur of versekeraar. Kontak Gerhard Diedericks vir meer inligting deur ’n e-pos te stuur na Gerhard@fre-risk.co.za.