’n Plan om SA deur die winter te dra

Gepubliseer: 2 Junie 2021

48

Jannie de Villiers
HUB, Grain SA jannie@grainsa.co.za

Die winter is hier. Die Kaapse weer het reën gebring vir planttyd en die ryp is besig om ons somergewasse te help afdroog sodat die oes ingesamel kan word. Die menigte voorspellings dat ons weer byna sonder witmielies sou wees aan die einde van die seisoen, het toe nie waar geword nie. Tog bly die graanpryse op gesonde vlakke vir so ’n mooi oes – iets wat produsente nie gereeld beleef nie.

Dit is egter ook winter in Suid-Afrika. Daar is ’n stukkie hoop dat van die markte aan die herstel is (soos ’n saadjie wat onder die grond lê en ontkiem), maar (en dis ’n GROOT maar) die daaglikse tekens van verval in ons samelewing is aan die erger word. Elke dag is daar ’n nuwe Eskom-lêer wat vertel van die beduidende diefstal, korrupsie en uitspattige lewe van sommige amptenare – of moet ek eerder sê rowers?

Terwyl die politici besig is met mekaar, gaan die land ten gronde en draai ons mense se verhoudinge en gemoedere nie positief nie. Meer en meer van ons jongmense praat sonder enige patriotisme van ’n toekoms elders. Ons in die landbou weet dat as die winter eendag verby is, kom die lente – met nuwe groei en nuwe lewe. Maar hierdie winter waarin Suid-Afrika vasgevang is, gaan dalk veel langer duur as wat ons sou wou hê.

Diep onder die grond en agter die skerms het ’n klompie mense hard gewerk om die beginsels van groei in ’n nuwe plan vas te lê. Ja, weer ’n nuwe plan! Dit word die AAMP (agricultural and agro-processing master plan) genoem. In my loopbaan van 36 jaar in die graanbedryf was ek by die skryf van baie planne betrokke. Die een verskil wat ek hierdie keer opgemerk het in vergelyking met van die planne van die laaste 20 jaar of so, is die feit dat die privaat sektor deel gevorm het van die skrywers en nie net kommentaar op die staat se plan gelewer het nie. Die tweede verskil is dat daar nou aan ’n implementeringsdeel gewerk word – wie wat teen wanneer gedoen moet kry. Die AAMP moet saam geïmplementeer word.

Die belangrike pilare waarop dié plan staan, is:

  • beleggingsvriendelike beleid en beleidsekerheid;
  • funksionele infrastruktuur;
  • ondersteuning aan produ­sente (finansiering, navorsing en voorligting);
  • versekering van voedselsekerheid asook uitbreiding van produksie en werkskepping;
  • uitbreiding van markte en marktoegang; asook
  • bevordering van plaaslike verbruik, invoervervanging en waardetoegevoegde uitvoere.

As ons elkeen van dié pilare met net 25% kan verbeter, sal ons reeds die verskil bo die grond sien uitkom in die vorm van opbrengste. As produsente plant ons egter nooit vir ’n 25%-opbrengspotensiaal nie – maar in hierdie geval is dit ’n meerjarige plant wat tyd gaan nodig hê om sy volle potensiaal te bereik. Die spel het egter spelers op die veld nodig en nie net paviljoenafrigters nie. Graanprodusente weet wat die verskil op die skaal by die silo maak – of jy net op die stoep gesit en orders gee het en of jou skoene saans die verhaal vertel van die vrugbare grond waarin jy geplant het en inspeksies gedoen het.

Ter wille van die jongmense wat Suid-Afrika nog as huis bestempel, moet die privaat sektor inspring en stof op ons voete kry sodat die AAMP geïmplementeer kan word. Die geskiedenis om na vyf of tien jaar terug te kyk en ander te kritiseer omdat die planne nie geïmplementeer is nie, moet herskryf word. Die pilare hierbo genoem is deur die privaat sektor op die tafel gesit. Dit is waarby ons in die landbou gaan staan of val. Produsente ken van val, maar nie van bly lê nie. Graan SA was sover ten nouste betrokke tydens die hele proses. Ons sal ook nou die verantwoordelikheid opneem om ons kant te bring dat die implementering en die monite­ring daarvan kan werk. Ons geslag skuld dit vir ons nageslag.