Plantdatum kan mielies maak of breek

Gepubliseer: 12 Julie 2021

5260
Magda du Toit,
SA Graan/Grain-medewerker

Graanprodusente neem jaarliks, voor elke seisoen, ’n hele klompie belang­rike bestuursbesluite. Twee van die deurslaggewende besluite wat ’n groot impak op opbrengs aan die einde van die seisoen het, is kultivar­keuse en planttyd.

As gevolg van Suid-Afrika se wisselvallige klimaat sit baie produsente egter jaarliks met hul hande in die hare wanneer hulle moet besluit oor ’n optimale plantdatum. Die afgelope jaar het die reënseisoen redelik normaal begin, terwyl dit die vorige twee jaar ongeveer ’n maand laat begin reën het. Omdat mie­lies bepaalde vog- en klimaatsvereistes het, speel die keuse van plantdatum ’n kardinale rol in die uitein­delike opbrengs.

Omgewingsfaktore
Ervaring en kennis van ’n bepaalde omgewing is van uiterste belang. Die bepaling van ’n plantdatum moet grootliks gedoen word na gelang van die beskikbaarheid van grondvog, grondtemperature en die langtermynreënvalverspreiding vir die betrokke area sodat die groeistadiums wat die gevoeligste vir hitte- en droogtestremming is, nie gedurende die midsomerdroogte val nie.

Mielies het sekere kritieke groeistadiums waarin omgewingstoestande die opbrengspotensiaal kan verbeter of benadeel. Die plantdatum bepaal in ’n groot mate die omgewingstoestande wat behoort te heers wanneer die mielies daardie stadiums bereik.

In die koeler oostelike gebiede is die primêre faktor wat oorweeg moet word voordat daar op ’n plantdatum besluit word, die hoeveelheid hitte-eenhede wat deur die mielieplant benodig word. In die wes­telike produksiegebiede bestaan daar altyd die risiko vir ’n moontlike midsomerdroogte tydens die blom- en graanvullingstadium van die mielieplant. Hierdie risiko moet in ag geneem word.

Risiko’s verbonde aan planttye
Een van die eerste risiko’s met plant is koueskade op nuut aangeplante mielies. Dit word veroorsaak deur koue grondtemperature gedurende die eerste 24 tot 36 uur na plant en tydens ontkieming. Jong mielieplantjies is gevoelig vir koue en ryp na die V4-stadium en skade kan wissel tussen blare wat afsterf en plante wat heeltemal doodgaan. Vanaf die vyfblaarstadium is die plant se groeipunt bokant die grond­oppervlak. Ryp kan dan die mielieplant se groei­punt vries wat kan veroorsaak dat die plantjie vrek.

Volgens Leonard Oberholzer, markontwikkelingsbestuurder by Bayer Suid-Afrika, is jong saailinge meer sensitief vir onkruiddoderskade wanneer grondtemperature laag is.

Jong mielieplantjies is ook uiters gevoelig vir droogte wanneer dit kom by blaar- en stamontwikkeling. Indien die plant in hierdie stadium vir ’n paar dae onder stremming verkeer, sal dit lei tot ’n kleiner plant. ’n Kleiner mielieplant sal onder droëlandtoestande relatief min opbrengsverlies tot gevolg hê, mits die stremming nie te lank voortgeduur het nie. Die periode waartydens die mielieplant baard stoot en stuifmeel stort, is egter van kritieke belang. Indien daar hitte- en droogtestremming gedurende die bestuiwingstydperk voorkom, kan dit baie nadelige gevolge inhou wat opbrengs betref, meen Pieter Rademeyer, hooflandboukundige by Pannar.

Volgens Andries Wessels, produkontwikkelingsbestuurder by Syngenta, is mielies sensitief ten opsigte van hitte-eenhede. ’n Mediumgroeiseisoen-mieliekultivar vereis ongeveer 1 800 hitte-eenhede om fisio­logiese volwassenheid te bereik. Hitte-eenhede het die grootste invloed op die tempo waarteen die mie­lieplant ontwikkel. Indien daar nie genoeg hitte-eenhede is nie, kan die plant nie van die een groeistadium tot die volgende, meer gevorderde stadium ontwikkel nie. Dit is een van die redes waarom laat aanplantings soms teleurstel met swakker as verwagte opbrengste.

Andries meen dit is raadsaam om kultivars volgens hul groeiseisoenklas op die regte datum te plant sodat dit voldoende tyd het om te ontwikkel en fisiologies ryp te word.

Kultivarkeuse
Dit is net so belangrik, meen Andries, dat kultivars volgens die aanbevelings in die regte produksiestreke geplant word. Produsente kan die impak van die midsomerdroogte of vroeë rypskade omseil deur die regte groeiklas mielies vir ’n spesifieke omgewing te kies en plantdatums daarvolgens te skeduleer.

Leonard sê groeiseisoenlengte is een van die deurslaggewende faktore wat in ag geneem moet word tydens kultivarkeuse. Dit word bepaal deur die aantal dae wat die kultivar neem om fisiologies ryp te word. Kultivars moet hierdie stadium bereik ten minste twee weke voordat die eerste swaar ryp in die omgewing voorkom.

Volgens Leonard het die verspreiding van kultivars met verskillende groeiseisoenlengtes die volgende voordele tot gevolg:

  • Dit verlaag die risiko vir hitte- en droogtestres.
  • Die bestuiwingsperiode word verleng.
  • Dit verlaag die gevaar dat alle kultivars blom en bestuif tydens die midsomerdroogte.
  • Sommige kultivars kan vroeër gestroop en op die mark geplaas word.
  • Die impak van siektes en plae kan verlaag word.

Daar moet ook gesorg word dat medium- en kortgroeierkultivars nie so aangeplant word dat dit in dieselfde periode bestuif nie. “Die bestuiwingsperiode moet verleng word om risiko te versprei,” sê Leonard.

Temperatuur speel ’n beduidende rol
Mielies is ’n dag-neutrale plant, wat beteken dat dit sal blom nadat ’n sekere hoeveelheid hitte geakkumuleer het. Graanvulling en opbrengs word dus beïnvloed deur die tyd van die jaar wat die gewas aangeplant word.

Volgens Pieter is die ontkieming van mielies swak by grondtempe­rature laer as 10°C. Tussen 10°C en 13°C sal ontkieming wel plaasvind, maar die risiko van swamsiektes is groter, wat ’n nadelige effek op saai­lingvestiging kan hê. Pieter meen verder dat saadbehandeling – veral teen swamsiektes – uiters belangrik is onder hierdie omstandighede. Hoe langer die saad neem om te ontkiem, hoe langer word dit blootgestel aan swamsiektes en insekte in die grond en ’n saadbehandeling kan dan van groot waarde wees. Vir goeie ontkieming en die ontwikkeling van ’n sterk saailing word ’n grondtemperatuur bokant 13°C vereis.

Mielies vereis somerdagtemperature van minstens 19°C vir goeie produksie, terwyl die nagtemperature nie benede 13°C moet daal nie. Afhangende van die beskikbaarheid van water is die optimale tempe­ratuur vir plantontwikkeling tussen 24°C en 27°C. Namate temperature gedurende die dag styg, verhoog vegetatiewe en reproduktiewe pro­duksie in die mielieplant. Die styging in produksie sal voortduur tot op ’n maksimum temperatuur tussen 26°C en 29°C. Bokant 30°C is transpirasie en respirasie so hoog dat dit die produksie van plantweefsel benadeel. Onder 10°C vind geen noemenswaardige groei plaas nie.

Praktiese punte wat in ag geneem moet word om op ’n plantdatum te besluit:

  • Kies die kultivar met die regte groeiseisoenlengte vir jou produksie-area.
  • Plantdatum en plantestand is aan mekaar gekoppel en die kultivar se stand moet volgens die plantdatum aangepas word.
  • Hitte-eenhede in die oostelike produksiegebiede is van groot belang.
  • Kyk na die normale verspreiding van reënval – reënvaldata oor die lang termyn is insiggewend.
  • Die grondwaterstatus van watertafel- en marginale grond is van kritieke belang.
  • Hou die langtermynweervoorspellings dop en wees op die uitkyk vir moontlike vroeë ryp.
  • Neem ingeligte en oordeelkundige besluite.
  • Bestudeer vorige seisoene en die uitkomste van verskillende scenario’s in die verlede.

Vroeë plant
Wanneer grondwatertoestande (veral op watertafelgronde) goed is, kan ’n vroeë plantdatum oorweeg word. Die groeiseisoenlengte van kultivars moet egter in ag geneem word. Die kanse vir ’n misoes is skraal, maar buitengewoon hoë opbrengste is onwaarskynlik.

Volgens Pieter kan ’n vroeë plantdatum ’n negatiewe effek op finale opbrengs hê as die toestande nie optimaal was nie. Die gevolge, hoofsaaklik as gevolg van kouer grondtemperature, kan saailingafsterwing of vertraagde wortel- en plantontwikkeling wees, wat ’n direkte effek op die finale plantestand en uiteindelik die aantal koppe per hektaar kan hê.

Plant normale tyd tot effens later
Indien daar weens ongunstige toestande tydens planttyd nie geplant kan word nie en laat aanplantings onvermydelik is, moet produsente onthou dat die kanse vir rypskade groot is.

Volgens Pieter kan plante ook aan uitermatig hoë temperature blootgestel word tydens saailingvestiging wanneer laat geplant word. Laat plantdatums kan verder lei tot ’n verkorte reproduktiewe groeiperiode as gevolg van te min hitte-eenhede, veral in die oostelike gebiede. Die gevaar van vroeë ryp voordat die plante fisiologies ryp is, bestaan ook. Kultivaraanpassings sal dus nodig wees – kultivars met ’n korter groei­seisoen kan veral oorweeg word.

Versprei plantdatums
Die verspreiding van plantdatums behoort die laagste risiko in te hou, maar die kanse is goed dat die gewasse van een van die plantdatums sal onderpresteer. Daarom is dit altyd goed om verskillende basters in die plantpakket in te sluit, meen Leonard.

Onder normale seisoenale toestande sal die optimale plantdatum gewoonlik in November wees in die westelike produksiegebiede. Waar grond- en lugtemperature vroeg in die seisoen aanvaarbare vlakke bereik, kan produsente in Oktober plant, veral in die oostelike produksiegebiede. Leonard sê die afgelope paar jaar is daar ’n tendens onder produsente om vroeër te plant. Hulle sien al hoe meer aanplantings in September in die ooste en in Oktober in die weste. In warmer gebiede kan produsente egter nog die plantdatum aanskuif tot einde Desember.

Kopkrap sal steeds deel bly van elke seisoen om te bepaal wanneer die planters lande toe gestuur word, maar in die aanloop tot die finale plantdatum bly deeglike beplanning noodsaaklik. Dit is ook essensieel dat die keuse van baster nie meer net om opbrengs gaan nie. Wat plantdatum betref, moet die kultivarkeuse opgemaak word uit ’n pakket om risiko te versprei en moet kultivars met verskillende groei­seisoenlengtes ingesluit word. Dit is verder noodsaaklik dat plant­populasies aangepas word na gelang van die finale plantdatum. Dit is altyd raadsaam om met ’n betroubare landboukundige hieroor te gesels.

Navorsing
’n Navorsingsprojek oor die impak van mielie-aanplantdatums op die fisiologie van plante, deur Graan SA in samewerking met navor­sers van die Universiteite van die Vrystaat en Pretoria asook die Landbounavorsingsraad, is in sy tweede jaar. Hierdie studie het ten doel om laat mielie-aanplantings en hul assosiasie met klimaatsgebeurtenisse te ondersoek. Die impak van plantdatum op die gewas se groei, ontwikkeling, gesondheid en graanopbrengs word ook bestudeer. ’n Belangrike uitkoms is om te streef om risikofaktore ten opsigte van plantdatum uit te lig. Die projek word deur die Mielietrust en die Departement van Wetenskap en Innovasie befonds. Uitkomste van dié projek sal in SA Graan/Grain bekendgemaak word.