’n Wenkombinasie van koringkultivars vir besproeiing

Dr André du Toit, Pannar Saad
Gepubliseer: 29 September 2022

543

In die onderskeie besproeiingsgebiede is Pannar letterlik ’n “eenstopsaadverskaffer”. Hul pakket spog met lentetipe-besproeiingskultivars met hoë opbrengspotensiaal wat in vier groeiklasse verdeel word, naamlik vinnig, medium-vinnig, medium en medium-laat. Die pakket bestaan uit PAN 3681, PAN 3400, PAN 3584 en PAN 3497.

PAN 3681 is ’n toppresteerder in die vinnige groeiperiode en ’n goeie keuse vir later plantdatums. Dit vervang PAN 3644. PAN 3400, met ’n medium tot vinnige groeiperiode en ’n uitstekende opbrengspotensiaal, is ideaal vir medium- tot later aanplantings. PAN 3584 is ’n veelsydige mediumgroeiseisoenkultivar wat beide vroeg en laat aangeplant kan word. Dit vervang PAN 3541. PAN 3497, met sy ietwat langer groeiperiode, is meer geskik vir vroeë aanplantings. Pannar se pakket is ’n besliste keuse vir die besproeiingsprodusent.

Deur ’n verlaagde plantdigtheid en goeie bestuur kan die potensiaal van elke kultivar benut word om uitstekende opbrengste te behaal en koste te bespaar. By vroeë plantdatums onder besproeiing word Pannar se lentetipe-koringkultivars teen 60 kg/ha aanbeveel om die maksimum potensiaal van die kultivars te benut. In kombinasie met ’n goeie saadbed, behoort 120 tot 170 plante/m² te ontwikkel, teen ’n ontkiemingspersentasie van 90%. Die verminderde plantpopulasie bevoordeel ’n kultivar se stoelvermoë en bied verskeie voordele vir die produsent. Die plantdigtheid moet egter by latere gedeeltes in die aanbevole plantvenster tot 90 kg/ha (210 plante/m²) verhoog word om te vergoed vir die verlies aan halms (are) weens die korter groeiseisoen.

’n Baie mooi koringoes verlede seisoen by Genade Boerdery in die Hopetown-omgewing. Hannes Bruwer staan in die koringaanplanting van PAN 3497 wat teen 39 kg saad/ha aangeplant is en gemiddeld 13 t/ha gelewer het.

Die ooglopende voordeel van ’n laer plantdigtheid is ’n vermin­dering in saadkoste per hektaar. Die tweede voordeel is die potensiële toename in opbrengste, soos in proewe oor verskeie seisoene aangetoon is. Verskeie faktore dra tot die opbrengsverhoging by. Teen ’n laer plantdigtheid is daar minder kompetisie in die ry tussen plante. Dit stel elke plant in staat om sy volle stoelvermoë te bereik. As gevolg hiervan kan die sterker plante beter en dieper wortels vorm en elke “plantfabriek” ontwikkel ’n groter opbergingsvermoë wat later in die seisoen vir graanvulling gebruik kan word.

Sterk plante met goed ontwikkelde wortelstelsels kan opge­gaarde vog later in die seisoen doeltreffender benut wanneer dit warmer is en besproeiingskedulering nie noodwendig kan byhou nie. Tydens die stoelfase van elke plant word primêre, sekondêre en tersiêre halms gevorm. As die verskillende are op verskillende tye ontwikkel en nie terselfdertyd blom nie, beskik die plant oor ’n ingeboude buffer teen eenmalige koueskade en beskerm dit sodoende die opbrengspotensiaal. Koringaanplantings teen ’n laer plantdigtheid kan tot ’n groot mate koue ontduik. Indien ’n kort koue periode laat in die seisoen voorkom, sal slegs sommige are beskadig word en die are wat die koue ontduik sal normaal ontwikkel en vir die verlies aan opbrengs vergoed. Dit staan in kontras met plante wat teen ’n hoë plantdigtheid geplant word, wat slegs drie tot vier are lewer wat gelyktydig blom. Indien ’n koue periode dan in ’n laat stadium ondervind word, kan dit koueskade van tot 80% veroorsaak.

Sukses is afhanklik van deurlopende aandag, kontrole en regstelling dwarsdeur die hele proses van plant en verbouing van die gewas. Aandag, entoesiasme en passie maak die verskil tussen middelmatige en uitnemende resultate.

Verminder wisselvalligheid in produktiwiteit en winsgewendheid op jou plaas deur hierdie stabiele presteerders te kies. Voeg hierby die agronomiese kennis en insig van Pannar se span, en jy kan met vertroue Pannar se kultivars aanplant met die wete dat jy die maksimum opbrengs op elke sak sal stroop.

Vir meer inligting kontak jou Pannar verkoops­verteenwoordiger of landboukundige of besoek www.pannar.com.