Ekonomiese impak van fosfaatregstellings

136
Andrie Venter,
pekanneutkonsultant, Bayagro
Luan van der Walt,
landbou-ekonoom, Graan SA

As gevolg van die toename in kunsmispryse en die uitdaging om korrekte ekonomiese investering in fosfaatregstellings te maak in alkaliese, kalkryke sandgronde, het die Universiteit van die Vrystaat se Departement van Grond-, Gewas- en Klimaatwetenskappe hieroor navorsing gedoen. Onder die leiding van professor Chris du Preez is die gedrag van fosfaat (P) in alkaliese en kalkryke sandgronde in die Noord-Kaap asook die regstelling van fosfaat in dié gronde met verskillende chemiese ontledingsmetodes bestudeer.

Belangrikheid van fosfaat
Fosfaat is naas stikstof die belangrikste element in plantvoeding. Dit speel ’n belangrike rol in ’n verskeidenheid plantprosesse, onder meer respirasie, wortelontwikkeling, fotosintese, energiestoring en -vrystelling, nukleïensuurbiosintese en ensiemreaksies, en dien ook as ’n integrale komponent in ’n aantal plantstrukture.

Suid-Afrika het gronde met ’n hoë P-vasleggingsvermoë en hierdie eienskap lei tot swak reaksie op P-bemesting, omrede P hoofsaaklik geabsorbeer word deur verskeie grondkomponente en onbeskikbaar raak vir plantopname. Dit veroorsaak ’n beperking in bogenoemde fisiologiese plantfunksies wat optimale gewasproduksie beperk.

Volgens literatuur word ongeveer 15 miljoen ton P-kunsmis jaarliks wêreldwyd toegedien, waarvan slegs 5% tot 30% deur plante opgeneem word. In die Noord-Kaap is daar baie gronde onder produksie met hoë pH-waardes en waar kalsium- en magnesiumkarbonate abnormaal hoog is, wat die effektiwiteit van P-bemesting belemmer.

Vir sommige produsente is P-regstellings oneffektief aangesien ’n algehele regstelling as standaard gebruik word op alle gronde, ongeag spesifieke vasleggingseienskappe. Die uitdaging lê dus in die korrekte ekonomiese investering in P-kunsmisbronne om optimale opbrengste te behaal.

Grondtipes
In die studie is ses grondtipes geïdentifiseer in die suidwestelike dele van die Vrystaat asook die oostelike dele van die Noord-Kaap. Vier van die ses gronde is onder produksie en twee word nie bewerk nie. Van die vier bewerkte gronde is grondtipe 1 en 2 albei kalkhoudend met hoë en lae P-statusse onderskeidelik.

Grondtipe 3 en 4 is albei niekalkhoudend, met hoë en lae P-statusse onderskeidelik. Grondtipe 5 en 6 verteenwoordig die onbewerkte gronde met grondtipe 5 wat kalkhoudend is terwyl grondtipe 6 niekalkhoudend is. Beide grondtipe 5 en 6 het lae P-statusse.

Die ses gronde is geïnkubeer met mono-ammoniumfosfaat (MAP) wat teen sewe toedieningspeile toegedien is. Dit is na twee maande ontleed met die volgende ekstraheringsmetodes om die fosfaatregstellingsfaktor (PRF) te bereken deur regressie-analises: Olsen, Mehlich 3, Bray 1 en Ambic 1.

Fosfaatregstellings word bereken deur die volgende formule te gebruik:

P benodig (kg/ha) = [optimum grond-P (mg/kg) x grond-P ontleed (mg/kg)] x PRF

Om die regte investering in P-kunsmisbronne te maak, is dit belangrik om die fosfaatregstellingsfaktorwaarde te bepaal vir die spesifieke grond, wat afhang van die grondeienskappe wat vaslegging beïnvloed. Dit is uiters belangrik om die regte ekstraheringsmetode te gebruik, aangesien die metodes verskillende fosfaatpoele in die grond ekstraheer en dus verskillende ontledingswaardes tot gevolg het.

Die ekstraheerbaarheid van P-poele word deur verskillende grondeienskappe beïnvloed, onder meer tekstuur, mineralogiese samestelling, organiese materiaal, yster- en aluminiumoksiede asook kalsium- en magnesiumkarbonate. Ongelukkig is geen ekstraheringsmetode vir P geskik vir alle tipes gronde nie.

Toepassing
Die fosfaatregstellingsfaktorwaardes wat bereken is met Bray 1-ontledingsdata het duidelik getoon dat dit geen meriete het vir gebruik op alkaliese en kalkhoudende gronde nie. Daarenteen het die Ambic 1- en Mehlich 3-metodes moontlik meriete, maar die data van die Olsen-metode was die akkuraatste.

Data gekry deur die Olsen-metode kan dus as ’n riglyn dien vir gronde met ongeveer dieselfde vasleggingseienskappe as in die studie. Tabel 1 toon die hoeveelheid P (kg/ha) wat benodig word volgens die Olsen-ontledingsmetode om die grond-P met een deel per miljoen te verhoog. Dit is duidelik uit die data dat daar wel verskille is in die hoeveelheid fosfaat wat benodig word vir die fosfaatregstellings in die verskillende gronde.

Koste-implikasie
Tabel 1 toon ook die koste-implikasie om die fosfaatinhoud in die grond met een deel per miljoen te verhoog in die verskillende grondtipes deur gebruik te maak van MAP. Dit is duidelik uit die inligting in Tabel 1 dat die kalkhoudende gronde oor die algemeen meer fosfaat nodig het om die regstellings te doen as die niekalkhoudende gronde wat dus die koste verbonde aan die regstellings van die kalkhoudende gronde verhoog.

Alhoewel dit op die oog af lyk of daar nie noemenswaardige verskille is in die hoeveelheid fosfaat wat toegedien moet word om die regstellings van die verskillende gronde te doen nie, is dit wel duidelik dat akkurate ontledings nodig is om te verseker dat die fosfaatregstellings in die grond optimaal gedoen word – veral aangesien die fosfaatregstellings ’n groot kostekomponent vir die produsent inhou.

Opsommend
Resultate in die studie het getoon dat dit uiters belangrik is vir produsente en landboukundiges om die mees geskikte fosfaatontledingsmetode te gebruik wat bepaal word deur ’n grond se mineralogiese, fisiese en chemiese eienskappe.

Die Olsen-ontledingsmetode is die mees geskikte metode vir alkaliese en kalkhoudende gronde. Dus sal daar met hierdie metode die beste investering in fosfaatkunsmisbronne, soos onder meer MAP, gemaak kan word om optimale P-vlakke in die grond te skep volgens die gewas se behoefte.

’n Geleentheid vir verdere navorsing bestaan deur die betroubaarheid van die Mehlich 3-ontledingmetode te toets op alkaliese en kalkryke gronde om P-regstellings te maak. Die Mehlich 3-metode het die voordeel dat ander plantvoedingstowwe behalwe P ook daarmee geëkstraheer word. Dit maak die metode dus meer ekonomies vir laboratoriums en produsente.