Bekalking in minimumbewerking­stelsels ondersoek

138
Dr Pieter Swanepoel,
senior lektor: Departement Agronomie, Universiteit Stellenbosch
Adriaan Liebenberg,
Departement Agronomie, Universiteit
Stellenbosch
Ruan van der Nest,
Departement Agronomie, Universiteit
Stellenbosch
Dr Johan Labuschagne
Wes-Kaapse Departement van Landbou, Elsenburg
Dr Ailsa Hardie,
Departement Grondkunde, Universiteit Stellenbosch

Grondsuurheid is ’n belangrike opbrengsbeperkende faktor in landboustelsels. Die lae pH wat nadelig vir die meerderheid van gewasse is, is nie al beperking wat suurheid inhou nie. Suurgrond se lae pH beïnvloed nie slegs die gewasse direk nie, maar dit beïnvloed ook die beskikbaarheid van voedingstowwe.

Sommige voedingstowwe raak minder beskikbaar vir plante, soos kalsium, magnesium en fosfor, terwyl die beskikbaarheid van aluminium in suurgrond weer tot by toksiese vlakke kan verhoog.

Minimumbewerking
Minimumbewerking is reeds ’n gevestigde en gewilde bewerkingstelsel regoor die wêreld. In die Wes-Kaap is minimum- of geenbewerking reeds van die 1980’s af goed gevestig. Tans word geenbewerkingstelsels deur nagenoeg 90% van produsente in die Wes-Kaap beoefen. Dit word beskou as ’n meer volhoubare alternatief as konvensionele bewerkingstelsels.

Geenbewerking behels die gebruik van planters om saad direk in die grond te plaas en ander grondbewerkingsaksies word sover moontlik beperk. ’n Uitdaging wat ontstaan wanneer minimumbewerkingstelsels vir ’n lang tydperk toegepas word, is dat grondsuurheid in die ondergrond moeilik aangespreek kan word.

Dit word algemeen aanvaar dat kalk nie grondsuurheid kan aanspreek verby die diepte waarby die kalk geplaas word nie. Met ander woorde, kalk is nie mobiel nie – dit beweeg baie stadig na dieperliggende grondlae. ’n Gevolg van langtermynminimumbewerking is dat kalk aanhoudend vlak geplaas word en dat stratifisering van grondsuurheid voorkom. Die bogrond raak alkalies, terwyl die ondergrond steeds suur bly.

Grondmonster
Kalkbehoefte word normaalweg van ’n grondmonster wat tot op 15 cm geneem is, bepaal. Na bekalking in minimumbewerkingstelsels word die boonste paar sentimeter van die grond moontlik alkalies, terwyl die kalk ’n beperkte uitwerking in dieperliggende grondlae het. ’n Grondmonster tot op 15 cm bestaan dus uit ’n alkaliese bolaag en ’n suur onderlaag.

Die resultaat van die grondmonsterontleding kan moontlik ’n wanindruk van die werklike omstandighede skep omdat dit ’n gemiddelde aanduiding gee van die boonste 15 cm en nie stratifikasie kan aandui nie.

’n Voorbeeld van grond-pH-stratifikasie van ’n tipiese grond in die Overberg-streek (Caledon) word in Grafiek 1 gegee. ’n Grondomgewing met ’n alkaliese bolaag en ’n suur onderlaag is nie ideaal vir wortelontwikkeling nie. In sekere gewasse kan ’n skielike oorgang tussen alkaliese en suurgrond tot die J-rooting-verskynsel lei (Foto 1).

J-rooting-verskynsel
Wortels sal afwaarts groei en wanneer ’n ongeskikte grondlaag bereik word, in dié geval suurgrond, sal die wortels ’n skerp hoek maak en ’n J-vormige groeipatroon volg om dié ongeskikte omgewing te vermy. ’n Opbrengsbeperking word in sulke omstandighede verwag.

Grondsuurheid
Kanola, koring en gars is ekonomies belangrike gewasse in die Wes-Kaap, wat in wisselbou met ander kleingrane en weidingsgewasse, gewoonlik peulgewasse, verbou word. Gars, kanola en peulgewasse is meer sensitief vir grondsuurheid as koring en ander kleingrane.

’n Optimale grond-pH(KCl) van 5,5 word vir gars en kanola aanbeveel, terwyl ’n pH(KCl) van 5,0 voldoende vir koring behoort te wees. Daar heers egter verskeie onduidelikhede oor die effektiewe toediening van kalk in minimumbewerkingstelsels, veral met die verskillende kalkbronne en waardetoegevoegde produkte soos verkorrelde kalk (gemikroniseerde/gegranuleerde kalk) en vloeibare kalk wat op die mark beskikbaar is.

Navorsingsprojek
Twee MSc-studente aan die Departement Agronomie by die Universiteit Stellenbosch, mnre Adriaan Liebenberg en Ruan van der Nest, is tans besig om kalktoediening in minimumbewerkingstelsels te ondersoek. Adriaan ondersoek die effek van kalktoediening op kanola, terwyl Ruan op gars fokus.

Behalwe vir die stratifikasie van grondsuurheid wat ’n fokuspunt van Ruan se studie is, word die kalsiumbehoeftes van die gewasse ook ondersoek. Kanola het ’n groter behoefte aan voedingstowwe as koring en gars. Dit is veral sensitief vir lae vlakke van kalsium in grond, wat vererger word deur grondsuurheid omdat kalsiumbeskikbaarheid vir gewasse afneem met ’n toename in grondsuurheid.

Hierdie navorsingsprojek is tweeledig en bestaan uit beide ’n opname en ’n veldproef. Eerstens word ’n breedvoerige opname deur die Swartland en Suid-Kaap gedoen om die omvang van grondsuurheid te ondersoek en om vas te stel hoe wydverspreid die stratifikasie van grondsuurheid deur die Wes-Kaap is.

Daar word ook beoog om korrelasies tussen bekalkingsmetodes en grondbewerkingspraktyke op grondsuurheid te identifiseer. Daar word na verskeie aanwysers van grondsuurheid gekyk, byvoorbeeld pH, uitruilbare suurheid en suurversadiging, maar ook na die effek van suurheid op die beskikbaarheid van voedingstowwe in die grond.

Die neutraliseringsvermoë van verskeie kalkbronne en kalkprodukte word deur inkubasiestudies bepaal in samewerking met dr Ailsa Hardie (Departement Grondkunde, Stellenbosch Universiteit). Beweging van kalk en kalsiumopname deur gewasse word ook ondersoek.

Veldproewe
Verder is twee veldproewe in 2019 gevestig – een met gars en een met kanola – om die effek van die beweging van verskeie kalkprodukte in minimumbewerkingstelsels, waar sommige behandelinge ’n eenmalige konvensionele bewerkingsaksie insluit, te ondersoek. Die garsproef word deur AB InBev befonds.

Vorige navorsing in die Wes-Kaap deur dr Johan Labuschagne het getoon dat ’n eenmalige bewerkingsaksie van grond wat vir ’n lang tydperk onder minimumbewerking bestuur is, geen noemenswaardige effek op grondgesondheid of gewasproduksie gehad het nie. Die moontlikheid om grond eenmalig te bewerk om kalk effektief deur die grond te meng, word dus ook ondersoek.

Die veldproef sal vir drie jaar herhaal word. Na afloop van die proewe word daar gehoop om aanbevelings te maak oor effektiewe kalktoedieningspraktyke vir minimumbewerkingstelsels. Die effektiwiteit van gewone klas-A en fyn, verkorrelde kalk teen verskeie peile van toediening en lokaliteite (breedwerpig toegedien of binne in die plantvoor geplaas) word ondersoek.

Aanbevelings
Verskeie vorme van kalk word vir minimumbewerkingstelsels evalueer asook verkorrelde kalk wat in die plantvoor teen verskillende peile geplaas word. As eenmalige bewerkingsaksie word implemente wat teen verskeie grade van grondversteuring en dieptes bewerk, ingesluit. Hierdie aanbevelings sal inligting oor die vorm en kwaliteit (fynheid en suiwerheid) van kalk, asook watter eenmalige bewerkingsaksie, of gebrek aan bewerkingsaksie, grondsuurheid die effektiefste aanspreek.

Verder word daar ook gehoop om vas te stel of daar aan die kalsiumbehoeftes van gars en kanola voldoen word indien die grond-pH optimaal is. Die inligting en resultate sal mettertyd vrylik beskikbaar gemaak word aan produsente.

Kontak dr Pieter Swanepoel vir meer inligting by pieterswanepoel@sun.ac.za.