Dié onsigbare bedreiging vreet aan graanoeste

Gepubliseer: 9 Julie 2020

2354
Kobus van Zyl,
senior landboukundige, Omnia
Dr Koos Bornman,
algemene bestuurder:
Oplossingbemarking,
Omnia in samewerking
met Fertasa se grond-
suurheidwerksgroep*

Tydens Fertasa (Fertilizer Association of Southern Africa) se onlangse grondsuurheidwerkswinkel asook by die gekombineerde kongres van die Grondkunde- en Gewasproduksieverenigings van Suid-Afrika is daar in diepte gekyk na inligting wat Kobus van Zyl, senior landboukundige van Omnia, in samewerking met dr Koos Bornman, algemene bestuurder: Oplossingbemarking by Omnia, aan die kongresgangers en lede voorgehou het.

Ontledings van meer as 100 000 monsters wat die afgelope 16 jaar in die Vrystaat getrek en by die Chemtech-laboratorium in Sasolburg ontleed is, het deel uitgemaak van die studie.

Daar is bevind dat die pH(KCl) in alle bogrondmonsters met 4% gedaal het, soos aangedui in Grafiek 1. Verder is daar gevind dat die suurversadigingspersentasie met ’n skokkende 85% toegeneem het oor dieselfde tydperk. Verwante katione soos kalsium (Ca) en magnesium (Mg) is verder ontleed en daar is ’n 16%-afname in die Ca-vlakke en 20%-afname in die Mg-vlakke gevind.

Grafiek 1: Verandering in grondontledings vanaf 2002 tot 2018.

Die studie (data van 2012 tot 2019, 130 000 monsters) toon ook dat 26% van die Vrystaat se bogronde en 27% van Noordwes se bogronde se pH(KCl)-waardes reeds tussen 4,0 en 4,5 is. Verder is 6% van sanderige bogronde in die Vrystaat en 5% van die bogronde in Noordwes se pH(KCl)-waarde reeds laer as 4,0 (Grafiek 2).

Grafiek 2: Persentasie bogrond by verskillende pH(KCl)-vlakke.

Verder het die studie ook aangedui dat 31% van die ondergronde in die Vrystaat en 22% van die ondergronde in Noordwes se pH(KCl)-waardes tans tussen 4,0 en 4,5 is en ’n verdere 13% en 6% onderskeidelik onder 4,0 is (Grafiek 3).

Grafiek 3: Persentasie ondergrond by verskillende pH(KCl)-vlakke.

Hierdie is as’t ware ’n katastrofe vir mielieproduksie in die Vrystaat en Noordwes. Die primêre oorsaak vir die afname in grondsuurheidsparameters soos pH en persentasie suurversadiging is die onoordeelkundige gebruik van veral stikstofbronne. Verhoogde mielie-opbrengsmikpunte sonder die noodsaaklike bekalkingsprogram het oor tyd sy tol geëis. Die afname in grond-pH(KCl)-vlakke met ’n gepaardgaande styging in die persentasie van suurversadiging en ’n afname in kalsium en magnesium is die bewys hiervan. Aandag moet dringend hieraan geskenk word om volhoubare produksie te verseker. Daar is ook ander faktore wat ’n rol speel, soos die toenemende finansiële druk op graanprodusente. Produsente wat koste wil besnoei, begin dikwels by bekalking – ’n ernstige fout wat daagliks gemaak word.

Volgens Haumann (1986) kan ’n 10%-oesverlies by mielies verwag word by grond-pH(KCl)-vlakke van tussen 4,5 en 4,0 (Grafiek 4). Daar word ’n verdere 30%-oesverlies by grond-pH(KCl)-vlakke van kleiner as 4,0 verwag. Dr Pieter Haumann het bewys dat die opbrengs by ’n grond-pH(KCl) van bo 5,2 nie meer deur die pH(KCl)-waarde van die grond beïnvloed word nie. Moet ’n produsent dan net bekalk tot by 5,2 of hoe word dit in die praktyk toegepas? Aangesien bekalking van ’n spesifieke land slegs elke drie tot vier jaar gedoen word, is daar geen nadelige gevolge om vir ’n bietjie hoër pH(KCl) as 5,2 te mik nie. Dit sal verseker dat die maksimum voordele van bekalking verkry word totdat daar weer bekalk word.

Grafiek 4: Verwagte oesverlies teenoor grond-pH(KCl).

By ’n gemiddelde opbrengs van 5,35 t/ha in die Vrystaat en 4,35 t/ha in Noordwes, beteken dit dat die berekende verlies aan mieliegraan as gevolg van grondsuurheid konserwatief bereken kan word as meer as 330 000 ton per jaar in die Vrystaat en amper 120 000 ton per jaar in Noordwes. Die verlies aan geldwaarde teen ’n mielieprys van R2 200 per ton kan gereken word op byna R1 miljard per jaar.

Grondversuring veroorsaak jaarliks graan­verliese en die probleem raak by die dag erger. Daar kan dus tereg gevra word wat tot hierdie situasie gelei het en wat vandag se graanprodusent kan doen om hierdie verliese te voorkom.

Fertasa, in samewerking met Graan SA, gaan oor die volgende twaalf maande na die oorsake, slaggate, invloed en oplossing van grondsuurheid kyk om sodoende die onsigbare bedreiging bloot te lê – met die doel om die bedryf weer op koers te kry.

Bronne

  1. Haumann, PE. 1986. The influence of liming and phosphate application on the acid properties of three soils under maize (Zea mays L) (Ongepubliseerde PhD-verhandeling). UOVS, Bloemfontein.
  2. Kobus van Zyl en dr Koos Bornman (Omnia). 2019. Soil acidity in sandy soils of the North West and Free State Provinces (Voorlegging gelewer deur Kobus van Zyl tydens Fertasa se “Soil Acidity, Liming and Ca and Mg Nutrition Workshop” gehou op 22 Mei 2019).