Gevallestudie: Monitering van grondstruktuur op kommersiële plase

Gepubliseer: 9 November 2020

689

Prof Leon van Rensburg en sy navorsingspan by die Universiteit van die Vrystaat en Van’s Lab het prosedures ontwikkel om die effek van bestuurspraktyke op grondstruktuur by kommersiële plase ruimtelik te meet. Die prosedures is gebaseer op elektromagnetiese-induksie- (EMI-)skandering van landerye en dit is in Waternavorsingskommissieverslae (Van Rensburg et al., 2020; Barnard et al., 2020) vervat.

’n Gedeelte van die resultate wat op ’n 77 ha-land deur Van’s Lab met ’n EM38 geskandeer is, word as ’n gevallestudie voorgehou. Profielgate is op twaalf plekke in die land gemaak (V1 tot V12, Figuur 1). Die profiele is geklassifiseer en versteurde en kernmonsters is by drie gronddieptes geneem, naamlik 0 mm tot 300 mm, 300 mm tot 750 mm en 750 mm tot 1 500 mm. Die EMI-kaart sowel as die bestuursonekaart is in Figuur 1 aangebring. Daar is bevind dat die donkerblou sone (vierde sone) nie geskik vir gewasverbouing is nie. Dit is weens die hoë klei-inhoud, die gevaar van gronderosie en die risiko van versuiping van gewasse. Derhalwe is die fisiese en chemiese gronddata van sone 4 uitgelaat in die opsomming van die resultate in Tabel 1. Soos gesien kan word in die lys van grondeienskappe, is grondstruktuur kwantitatief volgens die grond- fisiese benadering bepaal.

Figuur 4 (a) Die elektriesegeleidingskaart (ECa) wat met die EM38 op ’n 77 ha-land gemeet is en (b) die bestuursones wat op klei-inhoud gebaseer is.

Gronde wat in die land voorkom, is Valsrivier-, Sepane-, Bloemdal-, Avalon-, Weistleigh- en Tukulu-grondvorms met grondstruktuurtipes wat wissel tussen enkelkorrelrig, nie koherent, massief tot hoekige blok. Byvoorbeeld, in die deel van die land wat uitgegooi is, het die peds in die grond ’n sterk graad van ’n mediumklasgrootte met ’n hoekige blokstruktuur gehad.

Die hoofbevindings van die kwantitatiewe meting van grondstruktuur kan soos volg opgesom word:

Transmissieporieë

  • Bogrond (0 mm tot 300 mm): Die ideaal is dat die kapasiteit van die porieë tussen 20% en 25% moet wees. Hiervolgens blyk dit dat die kapasiteit van sone 2 ideaal is, terwyl sone 1 te hoog is en sone 3 effens te klein. Nietemin, die kapasiteit van die transmissieporieë alleen vertel nie die volle verhaal nie. Daar moet ook na die kwaliteit (konnektiwiteit) van die porieë gekyk word. Vir dié doel word die versadigde hidrouliese geleiding (Ksat), met ’n norm tussen 50 mm/h en 150 mm/h, gebruik. Vervolgens blyk dit dat sone 1 se vloei baie hoog is (>150 mm/h), sone 2 matig (50 mm/h tot 150 mm/h) en sone 3 matig stadig (5 mm/h tot 15 mm/h). Dit is dus duidelik dat die grondstruktuur deur middel van bestuurspraktyke op medium- en lang termyn aangepas moet word om maksimum infiltrasie en minimum afloop te bewerkstellig.
  • Ondergrond (300 mm tot 750 mm): Die ideale band vir die transmissieporieë se kapasiteit lê tussen 18% en 25%, terwyl daar vir ’n Ksat tussen 30 mm/h en 90 mm/h gestreef moet word. Teen die norme blyk dit dat die poriekapasiteit van sone 1 effens te groot is, maar dat die vloeitempo reg is. Die vloeitempo’s van sones 2 en sone 3 is te laag. Dit beteken dat produksiepraktyke by hierdie sones gerig moet word om interne dreinering te verbeter.
  • Diep ondergrond (750 mm tot 1 500 mm): Vir droëlandtoestande speel die kapasiteit van transmissieporieë ’n klein rol, omrede dit hier eerder gaan oor die stoorvermoë van water.

Waterstoorporieë

Hierdie land word gekenmerk deur ’n ondeurdringbare laag wat tussen 1 400 mm en 1 700 mm voorkom, dit wil sê dit is ’n watertafelland.

  • Diep ondergrond (750 mm tot 1 500 mm): In dié geval moet beide die transmissie- en die stoorporieë se ruimtes aangewend word vir die stoor van water. Produksiepraktyke moet gerig word om watertafelbestuur te optimeer.
  • Bo- en ondergrond: Die stoorvermoë van sone 1 en sone 2 is laag en ’n teiken van 10% moet nagestreef word.

Die produsent word aangemoedig om die struktuur van die land te verbeter deur produksiepraktyke te rig na die teikens wat vir die transmissie- en stoorporieë gestel is. Dit is ’n medium- tot langtermynproses wat die produsent moet bestuur. Daarop word aanbeveel dat die twaalf punte (V1 tot V12) gebruik word om vordering te moniteer deur tussen drie jaar en vyf jaar grondkernmonsters te neem en te meet.