Skoleprogram by NAMPO Kaap sal belangstelling in landbou bevorder

Gerda Kriel, NAMPO Kaap-bestuurslid
21 Augustus 2023

586

Die landbouskoleprogram wat by NAMPO Kaap 2022 van stapel gestuur is, is deur 200 leerders van ses skole bygewoon. Alfreda Mars, koördineerder van NAMPO Kaap se skoleprogram, sê: “Die terugvoer van beide leerders en onderwysers wat die program verlede jaar bygewoon het, was so positief dat daar besluit is om die program uit te brei om meer leerders te betrek. Baie van die huidige generasie se ouers of familielede is op een of ander manier by een of ander boerdery- of landbou-onderneming betrokke. Leerders oorweeg egter dikwels nie landbou as ’n beroep nie. Deur die Nedbank-NAMPO Kaap-skoleprogram glo ons dat ons leerders se belangstelling in die landbousektor as ’n moontlike loopbaanopsie kan stimuleer.”

Neil Simons, hoofonderwysspesialis van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het gehelp om die 20 skole te identifiseer wat vanjaar genooi is. Die WKOD het ook hul betrokkenheid en ondersteuning vir die program uitgebrei en neem verantwoordelikheid vir die vervoerkoste van die 350 leerders wat hierdie jaar bywoon. Skole van die Eden- & Sentraal-Karoo-, Kaapse Wynland-, Metropool-, Weskus- en Overberg-onderwysdistrikte is na die program genooi. “Die WKOD besef die waarde van die skoleprogram wat by NAMPO Kaap aangebied word, aangesien dit die graad 11-kurrikulum vir Landboutegnologie, Landboubestuur en Landbouwetenskap op ’n praktiese wyse ondersteun en aanvul. Leerders sal ook bewus gemaak word van die verskeidenheid studierigtings wat hulle kan volg om ’n loopbaan in landbou te volg. Die WKOD waardeer hierdie geleentheid om leerders bloot te stel aan die NAMPO Kaap-ekspo. Ons glo dit sal hulle inspireer en bemagtig om ’n betekenisvolle bydrae tot voedselsekerheid in die toekoms te maak.”

Volgens Dirk Troskie, direkteur: Besigheidsbeplanning en Strategie van die Wes-Kaapse Departement van Landbou (WKDL), is hulle baie opgewonde om die hulpbronne vry te stel om die skoleprogram weer moontlik te maak. “Landbou is ideaal geplaas om doelwitte soos ekonomiese groei en werkskepping in landelike gebiede te bereik, asook om voedselsekerheid deur die hele provinsie te ondersteun. Om hierdie rede is dit belangrik om ons jongmense bloot te stel aan alle fasette van landbou deur sy totale waardeketting, insluitend nietradisionele elemente soos Vierde Industriële Revolusie-tegnologie en vooruitgang in boerderypraktyke. Vir hierdie doel wil ons leerders aanmoedig om die totale oppervlakte van NAMPO Kaap te verken, met alle uitstallers te skakel en soveel vrae as moontlik te vra. Ons sien daarna uit om hulle by ons uitstalling in die BKB-saal te ontvang en vir hulle studie- en beroepsgeleenthede te wys. Laastens wil ons die organiseerders gelukwens met die groter en beter skoleprogram.”

Daneel Rossouw, hoof van Verkope vir Landbou by Nedbank Kommersiële Bankwese, verduidelik Nedbank se betrokkenheid by die skoleprogram: “Nedbank is tegelyk verbind tot volhoubaarheid, voedselsekerheid en die bemagtiging van ons jeug. Die skoleprogram by NAMPO Kaap bring al drie hierdie lewensbelangrike aspekte byeen en is dus die perfekte platform vir Nedbank om by betrokke te wees. Ons glo dat, deur die potensiaal van hierdie leerders te ontsluit en hulle toegang tot deurslaggewende hulpbronne en mentorskap te bied, ons hulle kan inspireer om die volgende generasie boere te word om voedsel op ’n volhoubare wyse te produseer en voedselsekerheid vir alle Suid-Afrikaners in die toekoms te verseker.”

Omnia se landbou-afdeling, wat bekend is vir sy eie Nutriology®-model, voorsien elke leerder wat die skoleprogram bywoon van ’n Reel Gardening Box. Mandla Mpofu, besturende direkteur van Omnia se Landbou-afdeling, verduidelik: “Elke houer bevat verskeie en noukeurig geselekteerde variëteite saadbande wat (met instruksies) ’n gesin van vier vir ’n jaar kan voed. Leerders sal in staat wees om hul eie seisoenale groente met die Reel Gardening Box te produseer en eerstehandse ervaring op te doen om by te dra tot voedselsekerheid, hul gemeenskap en die krag van die landbousektor. As ’n besigheid met volhoubaarheid in sy kern, is ons trots om die leerders by NAMPO Kaap te ondersteun deur Reel Gardening en die opvoeding van die volgende generasie Suid-Afrikaanse boere.”

Die Nedbank-landbouskoleprogram word van Woensdag 13 tot Vrydag 15 September in die WKDL-tent aangebied. Hier sal leerders meer leer oor vertikaleboerderystelsels, groenteverbouing, genetiese uitnemendheid en teelbeplanning, die rol van die WKDL in volhoubare landbou asook loopbaangeleenthede en studierigtings in die landbou. Nedbank sal die leerders ook toerus met kennis oor finansiële beplanning en studielenings vir moontlike naskoolse studie. Die program sluit verder ’n praktiese deel in waar die leerders onder meer die Nooitgedacht- hidroponiese boerdery by Bredasdorp Park, die graanproewe waar verskeie maatskappye die nuutste kultivars toets, bemesting en oesbeskerming, rasuitstallings in die Land Bank-veetent, en die WKDL se mobiele vleisverwerkingseenheid besoek.

Alfreda Mars sluit af: “Ons is uiters dankbaar teenoor al die borge betrokke by die skoleprogram. Hul ruim bydraes stel ons in staat om die skoleprogram by NAMPO Kaap 2023 aan te bied. Ons sien daarna uit om die leerders by die Nedbank-landbouskoleprogram in die WKDL-tent te ontmoet. Die jeug in Suid-Afrika is die toekoms van landbou. Om hulle in die landbou te bemagtig, sal stabiliteit in voedselsekerheid bring.”

Sien jou daar!
Toegangskaartjies is aanlyn beskikbaar by www.ticketpros.co.za. Pryse is R80 vir volwassenes en R40 vir skoolgaande kinders. Voorskoolse kinders kom gratis in. Daar sal kaartjies te koop wees by die hekke teen R90 per volwassene. Die ekspo duur van Woensdag 13 tot Vrydag 15 September van 08:00 tot 17:00 en Saterdag 16 September van 08:00 tot 15:00. Besoekers kan die Kaap Agulhas-toerismekantoor kontak vir verblyf by 028 424 2584/082 896 2225 of www.overberg-info.co.za. Vir meer inligting oor NAMPO Kaap 2023, besoek www.nampokaap.co.za, kontak Chrystal van Wyk by 028 050 1385 of stuur ’n e-pos na admin@expo.org.za.