Hoë opbrengs en kwaliteit – alles in een

3437
Dr Chrissie Miles,
LNR-Kleingraan,
Bethlehem
Dr Barend Wentzel,
LNR-Kleingraan,
Bethlehem
Dr Annelie Barnard,
LNR-Kleingraan,
Bethlehem
Dr Scott Sydenham,
LNR-Kleingraan,
Bethlehem

Koringproduksie in Suid-Afrika het gedurende die afgelope dekade ’n reuse- afwaartse neiging getoon. Tien jaar gelede is net minder as 2 200 000 ton koring in Suid-Afrika geproduseer, terwyl die totale opbrengs van die 2017/2018-seisoen slegs ongeveer 1 400 000 ton was.

Die beskikbaarheid van nuwe, verbeterde kultivars is belangrik om die volhoubaarheid van koringproduksie te verseker en gevolglik is daar ’n konstante behoefte aan hoër opbrengste, beter kwaliteit, beter prosesseringseienskappe en verhoogde siekteweerstand.

Koringtelers moet almal in die produksieketting gelukkig hou: Produsente wil ’n hoë opbrengs hê, terwyl meulenaars en bakkers ’n produk verlang wat ’n redelik konstante kwaliteit toon. Die uitdaging aan telers is om koring te teel wat aanvaarbare kwaliteit tesame met ’n hoë opbrengs het, aangesien hierdie twee eienskappe gewoonlik negatief gekorreleerd is.

Gedurende Julie verlede jaar is ’n veldproef, wat 232 potensiële hoë-opbrengslyne beslaan, by LNR-Kleingraan geplant. Die proef is saamgestel uit 108 inskrywings wat reeds die vorige jaar vir hulle goeie opbrengspotensiaal geselekteer is. Hierdie inskrywings is afkomstig uit 17 verskillende internasionale kwekerye.

Nuwe inskrywings uit ander kwekerye is ook ingesluit en die hele proef is in duplikaat aangeplant. Tien plaaslike kultivars, soos verskaf deur Sensako, Pannar en LNR-Kleingraan, is ingesluit om as opbrengsstandaarde te dien. Die proef is onder aanvullende besproeiingstoestande uitgevoer.

Die opbrengs van die tien plaaslike kultivars het gewissel tussen 3,75 t/ha en 5,83 t/ha met ’n gemiddeld van 4,93 t/ha (Tabel 1). 34 hoë-opbrengslyne is uit hierdie proef geselekteer om in die volgende seisoen weer vir opbrengs geëvalueer te word. Die opbrengs van hierdie 34 lyne het gewissel tussen 4,22 t/ha en 8,74 t/ha met ’n gemiddelde opbrengs van 7,09 t/ha.

Verskeie kwaliteitsanalises is ook op hierdie lyne gedoen. Kwaliteitseienskappe wat bepaal is, sluit hektolitermassa, valgetal en proteïeninhoud in, wat deel vorm van die graderingsregulasies, asook deegmengtyd en deegtoleransie wat weer vir die bak-en-maalbedryf belangrik is.

Hektolitermassa
Hektolitermassa bepaal die digtheid van koring en gee ook ’n aanduiding van die verwagte meelopbrengs. Volgens die huidige graderingsregulasies, wat in die Staatskoerant van Januarie 2016 gepubliseer is, is waardes bo 77 kg/hl nodig vir ’n B1-gradering. In die nuwe voorgestelde graderingsvereistes is ’n hektolitermassa van slegs 76 kg/hl nodig vir Supergraad, B1 en B2.

Die hektolitermassas in die proef het gevarieer tussen 75,8 kg/hl en 84,4 kg/hl vir die standaarde en tussen 74,9 kg/hl en 84,3 kg/hl vir die 34 lyne (Tabel 1).

Valgetal
Valgetal is ’n indirekte metode om die ensiem alfa-amilase se aktiwiteit te bepaal. Indien hierdie ensiem in ’n monster voorkom, sal die valgetalle laag wees (<200 sekondes). Lae valgetalle is ’n ongewenste eienskap vir bakkers. Valgetalle in die proef het gevarieer tussen 298 sekondes en 354 sekondes vir die standaarde en tussen 271 sekondes en 342 sekondes vir die lyne (Tabel 1).

Proteïeninhoud
Proteïeninhoud vorm ook deel van die graderingsvereistes van gelewerde graan en is ’n belangrike vereiste vir die bakbedryf. Koring word tans afgegradeer na B2 wanneer die proteïeninhoud laer as 12% is en na B3 indien die proteïeninhoud laer as 11% is.

Die nuwe voorgestelde gradering maak voorsiening vir 12,5% proteïen (Super), 11,5% (B1), 10,5% (B2) en 9,5% (B3). Proteïeninhoud vir die tien standaarde in die proef het gevarieer van 11,1% tot 15,5% en van 10,1% tot 14,7% vir die 34 lyne (Tabel 1).

Deegmengtye en sterthoogtes
’n Mixograaf is gebruik om mengtyd en toleransie van die monsters te bepaal. Dit word in Figuur 1 aangedui. Deegmengtyd (mixogram-piektye) is bloot die tyd (in minute) tot maksimum konsistensie, met ander woorde, die tyd wat dit die deeg neem om optimaal vir die bakproses te ontwikkel.

Aanvaarbare mengtye kan wissel van 2,2 minute tot 4 minute. Wanneer deeg te lank neem om optimaal te ontwikkel, beïnvloed dit kommersiële produksie negatief en dit lei ook tot verhoogde energieverbruik.

Wanneer deeg korter as 2,2 minute neem om optimaal te ontwikkel, kan laer broodvolumes voorkom.

In die monsters wat vir kwaliteitsanalises gestuur is, het mengtye gewissel van 1,8 minute tot 2,9 minute vir die standaarde en van 1,7 minute tot 4,2 minute vir die hoë-opbrengslyne (Tabel 1). In Figuur 1 word mixogramme van drie van die standaarde wat reeds vrygestelde kultivars is, aangetoon.

Dit is alombekend dat omgewingsfaktore tydens die groeiseisoen kwaliteit kan beïnvloed. Daar is wel vrygestelde kultivars wat oor korter mengtye beskik, soos gesien kan word in die eerste grafiek in Figuur 1 waar die kultivar ’n mengtyd van slegs 1,8 minute het.

In Figuur 2 word ’n variasie van mixogramme van drie van die hoë-opbrengslyne uitgebeeld. Hierdie variasie verteenwoordig almal aanvaarbare kwaliteit.

Deegtoleransie word aangedui deur die hoogte van die mixogram se “stert” na ses minute, met ander woorde aan die einde van die mengproses.

Die hoogte word in millimeter gemeet vanaf die basislyn tot die middel van die “stert” soos in Figuur 1 aangedui.

Hoër waardes is beduidend van meel wat hoër toleransie teen oormenging bied en is meer gewens vir die bakbedryf. Mixogram-sterthoogtes (deegtoleransies) het gewissel van 38 mm tot 55 mm vir die standaarde en van 40 mm tot 77 mm vir die lyne (Tabel 1). Deegeienskappe vir beide die standaarde en hoë-opbrengslyne was in lyn met wat die bedryf verlang.

Gradering
Graderingsreëls soos gepubliseer in die Staatskoerant van Januarie 2016 (met ander woorde die strenger regulasies) is toegepas en daarvolgens het agt van die kultivars wat as opbrengsstandaarde ingesluit is, aan die vereistes van B1 voldoen, terwyl twee kultivars as B2 gekwalifiseer het. Hierdie twee kultivars se afgradering kan toegeskryf word aan hektolitermassa en proteïeninhoud onderskeidelik.

In Grafiek 1 kan gesien word dat van die 34 hoë-opbrengslyne wat ingesluit is, 73,5% (25 lyne) as B1 gegradeer is, terwyl 23,5% (agt lyne) as B2 gegradeer is. Die B2-gradering kan hoofsaaklik toegeskryf word aan laer proteïeninhoud. Een van die lyne is afgegradeer as gevolg van lae hektolitermassa. Net een van die 34 lyne kon slegs ’n B3-gradering behaal as gevolg van ’n lae proteïeninhoud van 10,1%.

Indien ’n mens die opbrengs en kwaliteit gesamentlik in ’n grafiek sou voorstel, is dit duidelik dat die hoë-opbrengslyne konstant beter presteer het as die standaarde wat in hierdie proef ingesluit is (Grafiek 2 ).

Wat hou die toekoms in?
Vroeër is geglo dat opbrengs en kwaliteit, sover dit koring aangaan, mekaar teenwerk. As ons egter na hierdie resultate kyk, is ons positief dat ons dalk hierdie negatiewe korrelasie kan verbreek. Ons mag moontlik in die nabye toekoms kultivars vrystel wat koringverbouing volhoubaar kan maak en terselfdertyd ook die prosesseringsbedryf tevrede sal stel.