Herlewingslandbou – ons boer met grond

198
Lani Viljoen
SA Graan/Grain
medewerker

Landbouweekblad, in vennootskap met Graan SA, die Mielietrust en die Riemland-studiegroep, het op 11 en 12 Maart ook ’n herlewingslandboukonferensie op Reitz in die Vrystaat aangebied.

Bykans 500 produsente en ander belanghebbendes het die konferensie bygewoon wat in gietende reën begin het. Verskeie kundiges van regoor die wêreld sowel as plaaslike herlewingslandbouprodusente het hul kennis met die konferensiegangers gedeel. Die kernboodskap wat soos ’n goue draad deur al die aanbiedings geloop het, was dat die produsent eintlik met grond boer en dat grondgesondheid die primêre doelwit is wat nagestreef behoort te word.

Daar is verskeie maniere om dit reg te kry en praktiese sowel as teoretiese raad en planne is gedeel. Produsente wat reeds ’n hele paar jaar met bewaringsboerdery besig is – vanaf Vrede in die Vrystaat en Suid-Carolina in die VSA tot by Mazabuka in Zambië het hul suksesverhale gedeel. Bewaringsboerdery kan regoor die wêreld toegepas word – daarvan getuig al die voorbeelde.

Die hoofspreker by die konferensie was prof Buz Kloot van die Universiteit van Suid-Carolina in die VSA, maar ’n gebore Namibiër. Volgens hom moet produsente die grond verstaan – anders skiet hulle hulself in die voet. Plante voed die grond, sodat die grond weer die plante kan voed. Bou organiese materiaal deur dekgewasse te plant. Hy glo dat ons in terme van die waarde van dekgewasse maar nog net die oortjies van die seekoei gesien het. Hy haal vir dr Kris Nichols aan wat gesê het: “Carbon is the energy currency of the soil”.

Volgens prof Kloot het dit hom beïndruk dat produsente in Suid-Afrika self die leiding neem met herlewingslandboupraktyke – sonder bystand van die staat, met slegs hulp van enkele belanghebbendes in die private sektor. Hy voel dat Amerika heelwat kan leer uit hoe herlewingslandbou hier toegepas word.

Dr Ademir Calegari was volgende aan die beurt – ’n passievolle wetenskaplike wat vertel het van Brasilië se sukses met dekgewasse (hulle is reeds vir meer as 30 jaar daarmee besig). Hy glo grond en plante moet gebioaktiveer word en soos heelwat van die ander sprekers, het hy klem geplaas op ’n mengsel van dekgewasse. Diversiteit is van uiterste belang. Dr Calegari het voorbeelde van regoor die wêreld gegee waar dekgewasse sukses behaal – ook in Lesotho. Sy uitgangspunt is dat die grond gevoed moet word om die mense te voed.

’n Veearts en beesprodusent van KwaZulu-Natal, dr Peter Ardington, was volgende aan die beurt om oor ultrahoëdrukbeweiding te gesels, waarvan hy ’n groot voorstander is. Suid-Afrika se uitgeputte en afgetakelde grond moet herstel word. Dit kan gedoen word deur herlewingslandbou, maar ook deur ultrahoëdrukbeweiding deel van die proses te maak. Hy het die voorbeeld van mnr André Lund wat by Beaufort-Wes in die Karoo boer, gebruik. Volgens hom is André se ultrahoëdrukbeweidingstelsel die beste nabootsing van die natuur se eie beweidingstelsel soos dit plaasgevind het eeue gelede voordat die mens met ploeë, beeste en grensdrade die natuur se balans kom versteur het.

Prof James Blignaut bestudeer die interaksie tussen natuurlike en ekonomiese stelsels en het gepraat oor die ekonomie van natuurlike dienste.

Daarna was dit die beurt van die produsente om hul eie herlewingslandboustories met die gehoor te deel.

Mnr Izak Dreyer pas al vir agt jaar geenbewerking op sy plaas naby Vrede in die Oos-Vrystaat toe en hy volg reeds vir vyf jaar herlewingslandboupraktyke. Hy glo dat ’n mens die natuur kan inspan om jou boerdery se winsgewendheid te verbeter: Grondgesondheid is gelyk aan wins. ’n Baie interessante tendens wat hy waarneem en wat reeds deur navorsing in die VSA bewys is, is hoe grondkoolstofpersentasie verhoog soos wat bewaringslandboupraktyke toegepas word. Dit begin by geenbewerking, dan gewasrotasie, dekgewasse, gevolg deur multispesiedekgewasse, met vee wat die laaste deel is wat geïntegreer moet word.

Hy is soos ander herlewingsprodusente ’n groot voorstander van dekgewasse. Izak het ’n interessante som gewys om te toon hoe relatief maklik dit is om die produksiekoste van ’n somerdekgewas “terug te kry”. As saad R500/ha kos, kunsmis (300 kg 8:2:1) R1 500/ha (60 N) en spuit en plant R500/ha, dan is die totale koste per hektaar R2 500. R2 500/ha omgesit in vleis @ R33/kg (speenkalf), is ongeveer 75 kg vleis. Deel dit deur vyf (teen vyf speenkalwers/ha) dan kry jy 15 kg/kalf. Dus word daar slegs 0,25 kg groei/dag benodig om gelyk te breek as die kalwers 60 dae op die weiding loop.

Mnr Adrian Bignell is ’n Zambiese produsent met ’n liefde vir grond-, gewas- en omgewingsgesondheid wat al 15 jaar lank geenbewerking toepas. Sy insluiting van gemengde dekgewasse het gelei tot baie beter grondgehalte en verbeterde opbrengs. Hy het ook gevind dat sy stelsel hom gehelp het tydens vloede ’n paar jaar gelede – iets wat van die ander herlewingsprodusente ook bevestig het. Die infiltrasievermoë van gesonde grond is net soveel beter as die van bewerkte grond.

’n Bewaringsprodusent van die Amerikaanse deelstaat Suid-Carolina, mnr Jason Carter, het sewe jaar gelede multispesiedekgewasse begin aanplant. Hy gebruik hoendermis as sy primêre bemestingstof. Voordele wat hy ervaar, sluit in:

  • ’n Groot afname in jaarlikse onkruiddruk (hy gebruik maar die helfte of ’n derde van die chemikalieë wat hy voorheen toegedien het).
  • Gesonder grond wat wemel van ondergrondse lewe, soos erdwurms.
  • Vloedskade het nie gekeer dat hy ’n sojaboonoes afhaal nie (terwyl sy buurman se hele oes verwoes is).

Dr Valeria Faggioli, ’n navorser aan die Argentynse nasionale instituut vir landbounavorsing, het gesels oor geenbewerking en grondgesondheid in Argentinië terwyl mnr André Naude van Dreyer en Dreyer-boerdery in Vrede terugvoer gegee het oor ’n Soil Health Solutions-toer na Amerika in 2018.

’n Produsent van die Rysmierbult-omgewing in Noordwes, mnr Gideon Oosthuizen, pas reeds sedert 2005 ultrahoëdrukbeweiding toe. Hy benut sy plaas van hoek tot kant, so hy deel dit op in kampe van 40 m by 60 m en die groepgrootte is 400 koeie. Een van die grootste voordele volgens hom is dat dit die drakrag van jou plaas soveel meer maak – dis asof jy ekstra plase bykoop.

Mnr Danie Slabbert, lid van die Riemland-studiegroep, boer al 18 jaar lank naby Reitz, waarvan hy reeds vir tien jaar geenbewerking toepas. Hy produseer mielies, sojabone, koring, sonneblom en aartappels. Die besoekers kon sy multidekgewasproewe besigtig (wat ongelukkig die vorige dag onder ’n erge haelbui deurgeloop het), sowel as profielgate in ’n mielie-, sojaboon- en sonneblomland.

Ongeveer twee jaar gelede het hy ook begin om ’n ultrahoëdrukbeweidingstelsel te implementeer op die plaas. Hy pas ultrahoëdrukbeweiding in sy lande ook toe, ten spyte van die kompaktering wat kan plaasvind. Soos iemand tereg opgemerk het – dit is een uur se kompaktering, wat dan opgevolg word deur 365 dae waar die miskruiers kans kry om die grond te “dekompakteer”. Die dekgewasse wat hy gebruik, sluit hawer, rog, boorradys, rape, voererte en weiwieke in.

Volgens Danie is dit belangrik om navorsing te doen en die infrastruktuur (water, elektriese drade en pale) in plek te kry voordat jy begin. Ook van allergrootste belang is die arbeid se opleiding. Hy noem dat die beeste die vinnigste aan die stelsel gewoond raak, nog voor die produsent en werkers. As alles eers in plek is, loop dinge vinnig seepglad. Volgens Danie kalf die koeie maklik in dié stelsel en word die beeste sommer gou-gou mak. Danie volg ook André Lund van Beaufort-Wes se stelsel en maak gebruik van toerusting wat deur hom ontwerp is.

Soos die meeste van sy medeherlewingslandbouers, is Danie passievol oor die bewaring van grond. Vandat hy hierdie praktyke toepas, sien hy groter diversiteit in sy veld – meer breëblaargrassoorte met beter drakrag. Te danke aan die beeste is daar ook genoeg kos vir die miskruiers en erdwurms, wat weer die grondgesondheid verbeter en help om koolstof terug te plaas in die grond. ’n Veekomponent is deesdae ’n noodsaaklike element van grondherlewing.

Om af te sluit
’n Paar interessante opmerkings oor grond wat deur die loop van die konferensie deur verskeie van die sprekers gemaak is, sluit in:

  • Die grond moet lewe. Dit is al waaroor die produsent beheer het; nie oor sonlig en water nie.
  • Soos wat die grond gesonder en meer “lewendig” word oor tyd, sal ’n groter opbrengs met al hoe laer insetkoste moontlik wees.
  • Grond moet so min as moontlik braak lê – daar moet ten alle tye soveel as moontlik lewende wortels in die grond wees.
  • Hoe meer spesies dekgewasse daar gebruik word, hoe meer word die mikrobes – wat die immuunsisteem van die grond versterk.
  • Grondorganiese materiaal word elke jaar meer as grond reg hanteer word.
  • As ons aangaan met slegs konvensionele landboupraktyke, gaan daar nie grond en gras vir die nageslag oor wees om mee te boer nie.

Produsentepaneel
Om die konferensie af te sluit, het ’n produsentepaneel met die gehoor in gesprek getree. Mnre Christof Botha van Ladybrand, Herman Enslin van Petrus Steyn en Bertie Coetzee van die Prieska-omgewing het by die ander sprekers aangesluit en raad gedeel oor waar om te begin met herlewingsboerdery:

  • Doen jou navorsing en maak dit jou eie. Sonder passie gaan jy nêrens kom nie.
  • Maak heel eerste die kopskuif – en begin dan in die praktyk.
  • Maak seker jy verstaan die wetenskap van die stelsel.
  • Vat hande met die regte mense – daar is baie bewaringsprodusente wat gretig is om hulle kennis te deel.

Op die vraag wat hulle dink produsente terughou in hierdie verband, is onder meer die volgende dinge genoem:

  • Groepsdruk en kritiek.
  • Vrees vir verandering.