Riglyne vir die bepaling van oesopbrengs

Gepubliseer: 4 Mei 2022

64
Kobie de Beer, afgetrede spesialis
in oesversekering

Oesskattings bly altyd ’n kontroversiële saak, aangesien daar ontsettend baie aspekte is wat dit kan beïnvloed. Onthou net as ’n oesskatting gedoen word, is dit daardie bepaalde punt se skatting. Indien die grond fisies ge­karteer is, probeer om ’n skatting op elke kol te doen om sodoende die oes te bepaal. Hoe meer skattings per land gedoen word, hoe akkurater sal die skatting vir die land wees.

Die volgende metodes kan gebruik word en die inligting verskaf moet slegs as riglyne gesien word.

Die Landbounavorsingsraad (LNR) en ander instansies doen jaarliks die oesskattings vir die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) en daar word jaarliks ’n kaart wat mieliepitmassas verskaf, gepubliseer. Hierdie riglyne en metodes kom handig te pas wanneer produsente hul potensiële oesopbrengs wil beraam. Dit moet beklemtoon word dat daar vele veranderlikes is wat die akkuraatheid van ’n oes- of opbrengsskatting kan beïnvloed. Hoe nader aan oestyd, hoe akkurater kan bepalings gedoen word omdat daar minder kans is dat groot veranderlikes kan voorkom.

Een van die deurslaggewendste faktore is pitmassa. Dit kan heelwat varieer van seisoen tot seisoen, maar ook binne die seisoen. Selfs nadat die oes ryp geword het, kan faktore soos kopvrot en ander patogene die pitmassa beïnvloed. Dan is daar ook nog oesverliese weens die stroper, voëlskade en natuurlik uitspring by sojabone.

Aan die einde van die seisoen is dit slegs die graan wat gelewer is wat die opbrengs per hektaar sal bepaal.

Die riglyne is soos volg:

Koring
By koring is ’n goeie gemiddelde saadtelling ongeveer 3 500 sade/100 g op droëland en 3 000 sade/100 g onder besproeiing.

Vir opbrengsbepalings word twee algemene praktyke, naamlik saai en plant, afsonderlik beskryf.

Die saai van koring of plant in baie nou rye

  • Eerstens word die aantal are of halms per vierkante meter bepaal.
  • Die gemiddelde aantal sade per aar word bepaal deur die sade in ’n monster van koringare, wat klein en groot are na verhouding insluit, te tel. Indien die sade nog nie getel kan word nie, moet ’n goeie gemiddelde telling vir die betrokke kultivar gebruik word.
  • Die volgende formule kan aangewend word vir die berekening van die opbrengs waar koring gesaai is:

Koring wat in onderskeibare rye geplant is

  • Bepaal die rywydte soos volg: Die afstand oor tien ryspasies word gemeet, met ander woorde vanaf ry een tot ry elf. Dié afstand word deur tien gedeel om die rywydte te verkry.
    Voorbeeld

  • Die aantal are of halms word oor ’n afstand van 3 m in die ry getel.
  • Die aantal sade per aar word bepaal deur ’n monster van are, wat klein en groot are na verhou­ding insluit, te tel. Indien die sade nog nie getel kan word nie, moet ’n goeie gemiddelde telling vir die betrokke kultivar gebruik word.
  • Die volgende formule kan gebruik word vir die berekening van die opbrengs waar koring in onderskeibare rye geplant is:

Mielies

  • ’n Riglyn van 0,3 g/pit tot 0,36 g/pit (afhangend van hoe gunstig omstandighede is) kan gebruik word vir die gemiddelde pitmassa van mielies waar die sade getel kan word vir die berekening van die oespotensiaal.
  • Wanneer die sade nie getel kan word nie, kan 150 g­tot 220 g per kop, afhangende van die stand, omstandighede en meerkoppigheid gebruik word.
  • Eerstens word die gemiddelde aantal koppe per 10 m bepaal. Wanneer die plante in die vegetatiewe stadiums is, moet faktore soos die stand, meerkoppigheid en die spruitvermoë van die plante in ag geneem word.
  • Bepaal die gemiddelde massa in gram per kop.
  • Die volgende formule kan gebruik word om die opbrengs te bereken:

  • Onthou om die stroopverlies af te trek om ’n rea­listiese opbrengs te verkry.
  • Vergelyk die skatting met die geskiedenis om seker te maak dit is realisties.

Sonneblom
Gebruik die volgende riglyne om die gemiddelde saadmassa per kop te bepaal op ’n jong stadium voordat pitte aan die kop getel kan word.

  • Om die pitte per kop te tel, word die volgende metode gebruik:
  • Meet die deursnee van die kop.
  • Meet die deursnee van die dowwe kol indien van toepassing.
  • Tel die aantal pitte per 10 cm2 (gebruik verkieslik ’n raampie met ’n “venster” van 2 cm by 5 cm) en deel die getal so verkry deur tien om die aantal pitte per vierkante sentimeter te kry.
  • Bereken die produktiewe oppervlakte soos volg:

  • Vermenigvuldig die aantal pitte per vierkante sentimeter met die produktiewe oppervlakte om die aantal pitte per kop te kry.
  • Vermenigvuldig die aantal pitte van die kop met die gemiddelde massa per pit om sodoende die massa van die kop te kry. ’n Massa van 0,045 g/pit kan as riglyn gebruik word.
  • Tel die aantal koppe per 10 m.
  • Meet die rywydte.
  • Gebruik die volgende formule om die opbrengs te bereken:

  • Onthou om die stroperverlies af te trek.
  • Vergelyk die syfer met die geskiedenis van die land of omgewing.

Sojabone en droëbone
Volg die volgende stappe om die opbrengsskatting by sojabone en droëbone uit te voer.

  • Bepaal die aantal plante/10 m en die gemiddelde rywydte.

    • Bepaal die gemiddelde aantal peule per plant en pitte per peul.
      • Sojabone: ± 1,8 pitte/peul: Massa: ± 0,16 g/pit
      • Droëbone: pitte/peul en massa/pit varieer volgens kultivar
      • Klein wit inmaaktipes: Massa ± 0,19 g/pit
      • Rooi gespikkelde tipes: Massa ± 0,47 g/pit
    • Ken ’n massa per plant toe deur bogenoemde riglyne te gebruik, maar hou die volgende altyd in gedagte:

      • egaligheid van plantestand en planthoogte
      • algemene voorkoms en kleur van die plante
      • vogtoestande (droogte of versuip)
      • onkruid-, insek- en siektebeheer
    • Plantestandriglyne:

      • Sojabone:
        Oostelike gebiede ± 300 000 – 400 000
        Sentrale gebiede ± 280 000 – 300 000
        Westelike gebiede ± 280 000 – 300 000

        Droëbone: Groot saadtipes Klein saadtipes
        Oostelike gebiede ± 120 000  150 000 +
        Sentrale gebiede ± 100 000 ± 140 000 – 150 000
        Westelike gebiede ± 80 000 – 100 000 ± 120 000 – 140 000

      • Bereken nou die opbrengs met die volgende formule:

            • Maak voorsiening vir verliese tydens die stroopproses as volg:
              Pas die berekende opbrengs by droëbone aan met ’n 80%-­faktor.
              Pas die berekende opbrengs by sojabone aan met ’n 85%-faktor.
              Onthou ook om by sojabone die stropermeshoogte in aanmer­king te neem.

            Algemene opmerkings

            Dit is belangrik dat die gemelde massas slegs as riglyne beskou word aangesien dit beïnvloed kan word deur faktore soos voorkoms van die plant, klimaat, streek en kultivar.