Onseker markte affekteer ook wintergraan

Gepubliseer: 17 April 2020

1285
Ruan Schutte
junior landbou-ekonoom en
bemarker, Graan SA
ruan@grainsa.co.za

19|03|2020

Die jaar het interessant afgeskop en die wisselvalligheid in wêreldmarkte is onrusbarend. Die koronavirusuitbreking (Covid-19) skep kommer oor voedselsekerheid en daar word gewonder hoe dit die wintergraanbedryf beïnvloed. Hierdie artikel bevat markinligting wat verkry is op 17 Maart 2020, dus mag dit verskil teen die tyd van publikasie.

Insetkoste
Die wêreldolieprys het sy grootste daling beleef sedert die Persiese Golfoorlog in 1990 toe Amerikaanse magte lugaanvalle op Irakse troepe geloods het na hul inval in Koeweit. Saoedi-Arabië, die wêreld se grootste olie-uitvoerder, het die naweek van 8 Maart 2020 ’n prysoorlog begin. Die skuif het gevolg op die ineenstorting van ’n alliansie tussen die Opul-kartel (Organisasie van Petroleumuitvoerlande) onder leiding van Saoedi-Arabië en Rusland. Saoedi-Arabië en Rusland het in 2016 saamgekom om die sogenaamde Opul+-alliansie te vorm nadat oliepryse tot $30 per vat gedaal het. Sedertdien het Opul+ die wêreldaanbod met 2,1 miljoen vate per dag gesny.

Saoedi-Arabië wou onlangs die inkorting vergroot tot 3,6 miljoen vate, deur die swakker verbruik in ag te neem. Die Russiese president, Vladimir Putin, was egter bekommerd dat dit Amerikaanse olieprodusente te veel sou bevoordeel. Daarom het hy geweier om die plan te steun en sy Minister van Energie, Alexander Novak, het Vrydag (13 Maart 2020) ’n hewige stryd gehad om ’n markaandeel te behou toe hy gesê het dat Russiese olieprodusente soveel kan produseer soos wat hulle wil vanaf 1 April 2020.

Brent-ruoliepryse verhandel tans (17 Maart 2020) teen $29,93 per vat as gevolg van die feit dat Opul se plan om produksie in te kort onsuksesvol was en die laer verwagte aanvraag weens die koronavirus. As gevolg hiervan word ’n daling in dieselpryse van meer as ’n rand in April verwag (belasting en verhogings in die Padongelukkefonds uitgesluit). Laer energiepryse sou ook beteken dat die produksiekoste van kunsmis kan daal, hoewel dit nog nie gesien word nie, aangesien ureumpryse die afgelope paar weke styg. Die wisselkoers word ook deur die wisselvalligheid in die markte geaffekteer.

Omdat Suid-Afrika afhanklik is van invoere van insette, sal die verswakking van die rand ’n groot effek hê. Die waarde van die rand het vanaf 7 Januarie tot 17 Maart met R2,31 (14%) verswak. Die vervaardiging van insette op wêreldmarkte word grootliks beïnvloed deur die sentiment wat in die markte heers. Die meerderheid van ons landbouchemikalieë kom van China af. Baie Chinese fabrieke kan nou eers weer begin met produksie nadat die land tot stilstand gekom het. Daar kan maar net gehoop word dat dit nie ’n beduidende uitwerking op die beskikbaarheid van landbouchemikalieë sal hê nie. Alhoewel daar berigte is dat vervaardiging in Europa sluit (weens die werksmag wat gedwing word om tuis te bly), is die omvang hiervan nog nie duidelik nie. Uit ’n logistieke en handelsoogpunt is heelwat maatskappye van mening dat die lewertyd (tyd van bestelling tot aankoms) aansienlik kan verleng as gevolg van die koronavirus.

Markte
Suid-Afrika is ’n klein ekonomie in die oë van die wêreld, en die wêreldmarkte wat verswak weens die Covid19-uitbreking het ’n geweldige impak op ons. Die ekonomiese omstandighede wat plaaslik heers tesame met die negatiewe groeivooruitsigte, sal waarskynlik werkloosheid verhoog en verbruikers dieper in die skuld laat beland. Dit dra grootliks by tot die verswakking van die Suid-Afrikaanse geldeenheid. Weens die verswakking in die wisselkoers kry pariteitspryse tans ondersteuning. Dit raak al hoe duurder om koring in te voer en plaaslike produksie is nie genoeg om aan die plaaslike behoefte te voldoen nie.

Die regering het ook hawebeperkings in plek gestel. Dit wil voorkom asof goedere nie beperk is nie, maar wel mense uit hoërisikolande. Koringinvoere behoort normaal voort te gaan soos wat sake op die oomblik lyk. Indien hawens heeltemal gesluit word, kan dit ’n uiters groot effek op die plaaslike ekonomie hê. Suid-Afrika is taamlik afhanklik van invoere van verskeie lande af. Die algehele sentiment oor die koronavirus in die Suid-Afrikaanse markte is dat daar ’n kort- tot mediumtermyneffek kan wees, omdat lande regoor die wêreld beperkingsmaatreëls instel.

Vraag en aanbod
Weens die wêreldpandemie wat heers, bestaan die moontlikheid dat daar ’n laer vraag uit groot invoerlande gaan ontstaan, wat kan bydra tot die toename in wêreldvoorrade. Data van die Internasionale Graanraad (IGC) en die toptieninvoerlande se tendense, toon dat invoere met 11% vanaf die 2015/2016- tot die 2019/2020-seisoen gegroei het. Die toptienuitvoerlande het in die tydperk 23% meer koring uitgevoer. Die gemiddelde produksie van die toptien- produserende lande het sedert die 2015/2016-seisoen tot die 2019/2020-seisoen met 11,36% toegeneem.

Soos waargeneem kan word uit Grafiek 1, is daar ’n besonder groot toename in die wêreldaanbod. Rusland, Indië en Kanada se koringproduksie het die laaste vyf jaar die meeste toegeneem. Die IGC se data toon ook aan dat Turkye, die Filippyne en Bangladesj se vraag na koring die meeste toegeneem het in dieselfde tydperk. Die verhoging in die vraag van hierdie drie lande het bygedra tot die toename wat in die wêreld gesien kan word. Die grafiek toon ook dat die aanbod van koring met 6,23% gestyg het, die vraag met 2,95% en die eindvoorraad oor die laaste vyf jaar met 16,64% wêreldwyd. Aangesien die styging in die aanbod van koring meer is as die styging in die vraag na koring, kan daar ’n toename gesien word in die surplusvoorraad. Dit het tot gevolg dat internasionale pryse onder druk geplaas kan word.

Grafiek 1: Wêreldvraag en -aanbod.
Bron: Internasionale Graanraad

Ten slotte
Die uitbreking van die koronavirus het kommer oor die wêreld gesaai en wêreldmarkte is onvoorspelbaar. Die jaar het ’n onverwagse wending geneem en onsekerheid mag ’n ruk lank heers. Die wisselkoers se verswakking kan insetkosteveranderinge veroorsaak, maar dit bied ondersteuning vir die pariteitspryse in die wintergraanmarkte. Die koronavirus – en in besonder die maatreëls wat in plek gestel word – kan ’n groter bedreiging vir die ekonomie inhou as vir die gesondheid van die landsburgers. Onthou: #Thistooshallpass en dan moet ons gerat wees en planne in plek hê om voort te gaan.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar egter geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van hierdie inligting nie.