Dekgewasse bied veelvoud van opsies

Gepubliseer: 17 April 2020

1984
Dawie du Plessis,
verkoopsbestuurder, Agricol

Gewasse verskil ten opsigte van groeiwyses en veral groeikurwes. Selfs binne dieselfde gewas is daar groot verskille tussen kultivars. Gewasse kan basies in drie groeitipes opgedeel word, naamlik kort, medium en lang groeiers.

Deur verskillende gewasse en ook verskillende kultivars te kombineer, word die beste van elke kultivar benut om ’n bydrae te lewer tot ’n gesamentlik hoogs doeltreffende weidingsmengsel. In dieselfde aanplanting is daar dus ’n kombinasie van verskillende plante wat kort- en langtermynweiding verskaf en wat ook deurlopend van ’n hoë kwaliteit is. Hierdie unieke kombinasie word diversifikasie genoem. Dekgewasse en mengsels word dus amper sinoniem met mekaar.

Die sukses van die mengsel wat vir dekgewasse saamgestel word, hang af van die kombinasie van die verskillende gewasse, maar ook veral van die kwaliteit van die spesifieke kultivars wat gebruik word. Die verskaffer wat verantwoordelik is vir die samestelling van die dekgewasmengsel moet dus toegang hê tot die gewenste gewasse, maar ook tot die beste kultivars. Verder moet daar genoegsame gewaskennis wees om ’n sinergistiese dekgewasmengsel te formuleer en nie gewasse in die mengsel in te sluit wat antagonisties teenoor mekaar is nie.

Doel van verskillende gewasse
Grondherstel
Elke tipe plant in die natuur lok verskillende mikrobes aan – tot sy eie voordeel – deur wortelafskeidings van verskillende tipes suikers wat in die blare geproduseer word. Daar is drie hoofgroepe plante wat belangrik is in grondgesondheid, naamlik grasagtige plante, peulgewasse en knolgewasse. ’n Peulgewas lok byvoorbeeld mikrobes soos Rhizobium om te help met stikstofbinding. Deur hierdie plantgroepe en ook subgroepe te kombineer, word daar dus gelyktydig ’n groot verskeidenheid mikrobes gelok en ook vermeerder per vierkante meter in die land.

Die doel is om so vinnig as moontlik en so veel as moontlik verskillende mikrobes in die grond te kry, sodat daar weer ’n balans in die grondmikrobelewe kan kom. Die balans sorg dat daar nie te veel skadelike mikrobes vir die plant is nie, terwyl die plante maksimum voordeel uit die samewerking en uitruiling van die mikrobes verkry. Die primêre voedsel van mikrobes is koolstof en hulle ruil voedingstowwe uit om dit in die hande te kry vanaf plante. Die suikers wat die plant deur sy wortels uitskei, bestaan uit ’n groot deel koolstof wat hy verniet uit die lug opneem en deur fotosintese bind tot C6H12O6. Die mikrobes ruil dan fosfaat, kalium, magnesium, ensovoorts uit vir die koolstof. Hierdie proses is deel van die koolstofkringloop. Mikrobes kry ook koolstof vanaf enige deel van die plant wat deur die groeiperiode afsterf, veral vanaf dooie wortels.

Daar bestaan ’n verhouding tussen die bogrondse groei en die hoeveelheid wortels onder die grond. Sodra die gewasse bewei word, verklein die blaarfabriek bo die grond en begin die ondergrondse wortels afsterf tot dit weer in verhouding is. Na verwydering van die diere begin die blaarvolume toeneem en nuwe wortels begin weer groei. Hierdie is ’n natuurlike proses wat elke dag plaasvind en die dooie wortels, wat bestaan uit koolstof, is ook voedsel vir die mikrobes. Dit is waarom dit so belangrik is om deurlopend aktief groeiende plante op die grond te hê, aangesien dit keer dat grondmikrobes afsterf en grondgesondheid verswak. Nog ’n voordeel van verskillende gewasse in ’n mengsel is dat wortelontwikkeling op verskillende dieptes in die ondergrond plaasvind tesame met die mikrobetoename.

Onderhoud van diere
Hoë insetkoste en relatief lae produkpryse het tot gevolg dat sekere lande nie meer winsgewend is om graangewasse op te verbou nie. Deur die vestiging van dekgewasse op hierdie ou lande kan goeie biomassa verkry word, wat weer gebruik kan word om diere van die veld af te onttrek en daarop te onderhou. In die proses word die natuurlike weiding kans gegee om te herstel en weer reserwes op te bou vir die volgende weiseisoen. Dit kan die drakrag van die plaas baie verhoog en daar kan ook in krisistye soos kalf- of speentyd ’n goeie alternatiewe hoëwaardeweiding verskaf word aan diere met hoë liggaamsonttrekking. ’n Goeie dekgewasmengsel kan dus nie net meer volume weiding verskaf nie, maar ook hoë kwaliteit in krisisperiodes. Die koste aan die vestiging van dekgewasse kan dan opgeweeg word teen die effek van ’n verlies van ’n graanoes of teen die koste van aankoop van addisionele voeding vir die diere. Intussen verbeter die grondgesondheid, wat weer verdere voordele en besparings tot gevolg het. Marginale grond kan so omgeskakel word in winsgewende eenhede.

Vetmaak van diere
Om diere op die tradisionele manier in voerkrale af te rond, is besonder duur en vereis geweldige infrastruktuur en bestuur. Indien die behoefte daar is om wel diere af te rond, kan dekgewasse gebruik word as ’n minder intensiewe opsie. Die produksiepotensiaal van ’n dekgewas is, net soos enige graangewas, afhanklik van insette soos voedingstof- en vogbeskikbaarheid.

’n Suksesvolle dekgewas se voedingskwaliteit sal hoog wees en kan dan goeie drakrag, goeie groeivermoë en ook ’n besparing aan addisionele voeding tot gevolg hê.

Dekgewasse kan op verskillende wyses aangewend word, soos deurlopende beweiding of volumeweiding. So kan ’n dekgewas toegelaat word om eers ’n maksimum biomassavolume te bereik, voordat die diere daarin toegelaat word. So kan óf ’n baie groot hoeveelheid diere op een slag aangehou word óf ’n redelike hoeveelheid vir ’n langer periode sonder om hulle rond te skuif. Hierdie metode kan gebruik word om diere oor ’n korter periode vinnig swaarder te kry met groter volumes weiding net voor hulle bemark word. ’n Goeie dekgewas sal dan ’n groot gedeelte van die proteïenbehoefte van die diere verskaf. Die insetkoste en ook geleentheidskoste hiervan kan opgeweeg word teenoor infrastruktuurkoste en ook die aankope van groot hoeveelhede droë ruvoer en graan.

Kalwers grootmaak
Een van die metodes om kalwers te bemark, is om die kalwers eers na speen te background en dan wanneer hulle ouer is te begin voer om gewig op te tel voordat hulle aan voerkrale verkoop word. Die grootste probleem is gewoonlik dat die kalwers eers gewig verloor op die veld en eers heelwat later weer begin optel – veral as die afspeenproses net voor die winter gebeur. Dekgewasse kan hier ’n oplossing bied, aangesien die kwaliteit en verteerbaarheid baie hoër is as gewone winterveld. Groeiende kalwers benodig baie proteïene en goeie dekgewasse kan dit deurentyd op ’n goedkoop wyse verskaf. Die grootste voordeel sal dan wees dat die diere nie so baie gewig verloor nie en eerder vinniger en hoër liggaamsmassa verkry oor dieselfde periode. Die insetkoste kan opgeweeg word teenoor die koste van addisionele weidings en ekstra kragvoer. Hou ook in gedagte dat die kalwers ’n hoër gemiddelde bemarkingsgewig gaan hê. Goeie dekgewasse kan dus ook koste van addisionele weiding bespaar.

Verkeerde tyd van beweiding
Dit is baie belangrik om nie ’n dekgewas te vroeg te begin bewei nie, aangesien dit nog besig is met wortelgroei en ook vorming van bogrondse biomassa. Dit is raadsaam om eerder te wag tot optimale produksie verkry is vir beter resultate en ’n optimale weitydperk. Dit is net so belangrik om nie die weiding te kort te bewei nie. Die plant moet dan onnodige energie gebruik om nuwe wortels, stingels en blare te groei, waar dit merendeels net blare en stingels kon groei. Deur goeie bestuur van die weidingshoogte kan tot soveel as twee keer die hoeveelheid biomassa oor die periode verkry word. Die gebruik van weiding wat onder stremming verkeer, word ook nie aanbeveel nie, aangesien dit ’n invloed het op die kwaliteit en die verteerbaarheid van die weiding.

Hoeveelheid diere per hektaar
Voedingstowwe, temperatuur, tyd van die jaar en veral waterbeskikbaarheid is die bepalende faktore by biomassaproduksie. Omdat reënval onvoorspelbaar en planttyd so wisselvallig en dikwels onbepaalbaar is, is die beste metode om diere in kleiner kampies aan te hou vir ’n sekere periode. Sodra dit lyk of daar geskuif moet word, kan die som gemaak word op die oorblywende gedeeltes van die aangeplante area. Om risiko uit te skakel, kan die som eerder effens verlaag word vir toekomstige beplanning. Enige dier het ongeveer 3% van sy liggaamsmassa per dag op ’n droëmateriaalbasis nodig. Hierdie som kan heel moontlik van seisoen tot seisoen verskil, maar kan gebruik word vir beplanningsdoeleindes. Deur die diere gereeld te skuif, word die hergroei van die dekgewasaanplantings meer doeltreffend gemaak en word drakrag verhoog.

Plant goed geformuleerde dekgewasmengsels met die beste opbrengspotensiaal en kwaliteit vir die beste resultate.

Kontak jou naaste Agricol-areabestuurder vir meer besonderhede oor die verskillende dekgewasmengsels.