Groei sal ons groei

546
Marleen Smith
SA Graan/Grain
medewerker

Vanaf ’n lappie besproeiingsgrond van 12,2 ha in 1985 tot vandag se 900 ha onder spilpunt en 5 800 ha veld onder beeste.

Die Wilkense van die Wilgro-boerdery buite Middelburg in die Oos-Kaap se deursettingsvermoë ken klaarblyklik nie einde nie. Hul storie is ook een van woeker. Miskien sê hul maatskappy se naam so iets hiervan: Groei sal ons groei, of dit nou met kontantgewasse, lusern, groente of Bonsmaras is.

Hulle was vanjaar ’n finalis in die Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar-kompetisie.

Pa Louis het sy boerderyvaardighede van kleins af op Kanoneiland buite Upington geslyp, ook in ’n besproeiingsboerdery – met koring, mielies, lusern en wingerd.

Daar was egter nooit vir hom die geleentheid om grond te erf nie. Hy het uiteindelik ’n polisieman geword en is met Isabel getroud. Tussen hom en haar het hulle oor ’n paar jaar spaargeld uit hul salarisse afgeknyp sodat hulle teen begin Augustus 1985 die 12,2 ha besproeiingsgrond by Douglas in die Noord-Kaap kon bekom. Hulle kon ook maar net uit hierdie spaargeld ’n deposito neersit, maar met ’n vyfjaarverband teen 16,5% rente per jaar kon hy darem deeltyds begin boer.

Aan die begin was dit met groentesaad en lusern. Twee jaar later het hulle nog 11,9 ha besproeiingsgrond in die distrik bekom, maar met ’n lening teen ’n astronomiese 24% rente.

In 1993 het hy die verdere groot sprong geneem toe hy 145 ha onontwikkelde besproeiingsgrond van die eertydse regering kon koop. Dié moes hy self ontbos en ontwikkel.

Heeltyds boer eers ’n dekade later
Eers teen 1994 was hy in die posisie om voltyds te begin boer, met koring, mielies en grondbone onder spilpunt.

Dít het nie sy energie vir uitbrei gedemp nie, want ses jaar later het hy ’n veeplaas in die omgewing gekoop en met ’n kudde van 200 Bonsmaras begin boer.

Teen 2002 het hy saam met ’n vriend ’n vee- en besproeiingsplaas van 320 ha tussen Middelburg en Steynsburg in die Oos-Kaap, op die Oranje-Visrivierskema gekoop. Dit moes seker redelike beplanning geverg het, want hulle het steeds by Douglas ook aanhou boer – nadat hy 21 jaar vantevore met so te sê van niks af nie daar sy boerdery begin opbou het.

’n Volgende groot uitdaging was om na lang nadenke te besluit om al sy eiendomme in Douglas te verkoop, sy vennoot se aandeel in die Oos-Kaap uit te koop en die Wilkens-familie permanent op die plaas Juriesbaken buite Middelburg te vestig.

Dié boerdery is intussen tot 900 ha onder spilpunt ontwikkel, waaronder hulle deesdae mielies, uie, aartappels, lusern, pampoene en hawer verbou. Nog drie veeplase is aan daardie kant gekoop, waarop daar nou met ’n kudde van 470 koeie en 13 bulle in ’n speenkalfproduksiestelsel geboer word.

Intussen het hulle seuns, Louis jr en Jaco, albei met rekenmeestersgrade, by die familieboerdery aangesluit. Tesame met Isabel, wat ook ’n ekonomiese en finansiële agtergrond het, vorm hulle saam met Louis sr ’n gedugte bestuurspan.

Hul wisselboustelsel op die verskillende spilpuntlande is van drie tot vyf jaar, waarby daar streng gehou word. Deel van hierdie wisselbou is aartappels, wat die wisselboustelsel se gewaskeuses bepaal omdat hulle hul grond en omgewing siektevry probeer hou. Hulle kweek aartappelmoere met ’n vyfjaarsiklus tussen aanplantings.

Louis verduidelik dat hulle ná ’n aartappelaanplanting lusern vestig om opslagaartappels te beheer en raaigras uit te roei.

Besige planttyd
Die planters loop redelik dig op mekaar in die Wilgro-boerdery om hierdie fyn uitgewerkte wisselbouresep te handhaaf: “Ons het ’n vooraf uitgewerkte beplanning (drie tot vyf jaar) op elke spilpunt oor watter gewasse geplant gaan word en hoe gewasse opgevolg gaan word.

“Ons plantseisoen skop begin Oktober met aartappels af en mielies kom aan die beurt in die laaste week van Oktober. Uie word in die laaste week van Julie geplant en pampoene in die eerste week van Desember.”

In hierdie stadium vind hulle mielies meer lonend as koring, omdat dit moeilik en nou baie duur is om raaigras in die koring te beheer. Hulle het dus vir eers besluit om nie meer koring te plant nie. Benewens raaigras benadeel brakbos koringopbrengste ook erg.

Die mieliereste word na stroop op die land gelos om die grond tot die volgende seisoen te laat rus.

Al die saailande is onder besproeiing. Tans word daar jaarliks 764 ha mielies, 156 ha lusern, 230 ha aartappels, 52 ha uie en 52 ha pampoen geplant.

Hul gemiddelde mielie-opbrengs vanaf 2013 tot 2017 is 11,4 t/ha (dit het vanaf 9,3 t/ha in 2013 tot 13,5 t/ha in 2017 toegeneem). Die aartappelopbrengs staan op gemiddeld 66,5 t/ha en het vanaf 2013 se 35 t/ha tot 2017 se 73 t/ha meer as verdubbel.

Groot opbrengste is nie noodwendig gelyk aan groter wins nie
Een beginsel is dat hulle nie opbrengs met al hoe duurder insette jaag nie. Hul syfers wys duidelik dat die hoogste opbrengste nie noodwendig die winsgewendste is nie, sê Louis.

Nog ’n interessante maatstaf is dat hulle wins nie in opbrengs per hektaar meet nie, maar in opbrengs per kubieke meter water. Hiervolgens lewer hul aartappels die hoogste wins, gevolg deur uie, pampoene en dan eers mielies en lusern.

’n Groot voordeel is dat hul vroeë aartappelsaad (moere) vir sekere gebiede kan produseer omdat hul klimaat ’n lang plantseisoen toelaat. Hulle kan vanaf September tot einde Desember aartappels plant. Verskillende kultivars word dus jaarliks op verskillende tye by hulle in proewe geplant om vas te stel watter kultivars beter as ander vaar. As deel van die landboumaatskappy GWK se aartappelpoel van produsente, word die jongste kultivars telkens in proefpersele by hulle geplant.

Sagte plaagbeheer
Plae waarvoor hulle op die uitkyk moet wees, is gewoonlik bolwurm, stronkboorder en soms rooispinnekop. Per geleentheid het hulle ook al noordelike blaarskroei gekry.

Hulle plant BT-kultivars en spuit insek- en swamdoders net waar nodig op besmette spilpuntlande. Die aanbevole toevlugsgebiede word ook saam met GM-vrye mielies geplant. Die spilpunte word weekliks in die groeiseisoen deur hulle en hul kundige raadgewers besoek om plae en siektes te monitor. Net die besmette spilpuntlande word dan met sagte middels bespuit sodat natuurlike vyande so ver moontlik beskerm word.

Werkskepping
Die boerdery lewer ’n groot bydrae tot werkskepping in die omliggende gebied wat tradisioneel onder erge werkloosheid gebuk gaan. 16 permanente werkers is by Wilgro in diens en vir die oes en sorteer van uie, aartappels en pampoene is daar gewoonlik ongeveer 260 deeltydse werkers.

Wat die minimum loon betref, sê Louis, glo hulle die boerdery moet só bedryf word en opbrengste moet van so ’n aard wees dat hulle al hierdie mense se lone kan bekostig. “Ons meganiseer wel in ’n mate in die groentevertakking om doeltreffender te wees en groter volumes in korter tye te kan skuif, maar ons het die mense nodig en die mense het ons nodig om voort te bestaan.”

Hy meen wel al hoe meer werkers behoort opgelei te word om die nuwe tegnologie in die landbou beter te kan benut.

Die pad vorentoe
Louis sê hulle glo dat landbou een van die belangrikste bedrywe in Suid-Afrika geword het om stabiliteit in die ekonomie te verseker en buitelandse valuta te verdien en dat dit een van die voorste werkskeppers is.

“Ons is opgewonde oor landbou in Suid-Afrika en bly daarin belê. Dit is ons passie om te boer, ondanks uitlatings oor onteiening. My seuns is lief vir boerdery en glo in Suid-Afrika se landbou. As dit nie so was nie, sou hulle nie geboer het nie en hulself moontlik elders in die wêreld gaan vestig het. Maar ons glo ons kan hier ’n verskil maak.”