Perfekte storm tref die garsbedryf

Ruan Schutte, ekonoom en bemarker, Graan SA
Gepubliseer: 10 Desember 2020

64

Elke jaar het sy eie uitdagings, maar 2020 – wat aanvanklik na ’n ideale jaar gelyk het – het heeltemal anders verloop as wat die verwagting was. ’n Kombinasie van uitda­gings oor die laaste vyf seisoene het in hierdie COVID-jaar gekulmineer om die perfekte storm in die garsbedryf tot gevolg te hê.

Droogte
Dit is al ou nuus dat die Wes-Kaap die laaste klompie jare onder gemiddelde reënval beleef het, met die impak hiervan wat nog lank in die graanbedryf gevoel gaan word. Die droogte het ’n groot effek op watervoorsiening gehad – nie net uit ’n produksie-oogpunt nie, maar ook uit ’n verwerkingsoogpunt. Laer opbrengste is behaal, wat ’n negatiewe effek op produsente se kontantvloei gehad het. Die waterbeperkings wat in die provinsie geheers het, het egter ook daartoe gelei dat minder gars vermout kon word. Dit het weer tot gevolg gehad dat eindvoorraad die afgelope paar jaar opgehoop het. Die garsbedryf verkeer dus tans onder geweldige druk.

Gradering
Gars van goeie kwaliteit is grotendeels die gevolg van eksterne faktore soos die invloed van die natuur. Laasgenoemde het die afgelope vyf jaar ’n stok in die wiel gesteek met wisselvallige reënval oor die meeste garsproduksiegebiede. Die wisselvalligheid in reënval het veroorsaak dat daar graderingsuitdagings in die garsbedryf opgeduik het. Om ’n goeie mout te verkry, moet die gars aan verskeie graderingsregulasies voldoen, soos uiteengesit op die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (SAGIS) se webblad (https://www.sagis.org.za/Grading_Reg_-_Barley.pdf).

Een van die graderingsregulasies waaraan voldoen moet word, is totale toelaatbare stikstof (droë basis), met ’n minimum van 1,5% en ’n maksimum van 2%. Goeie stikstofvlakke loop egter hand aan hand met goeie reëns en weens die onder gemiddelde reënval het die stikstofvlakke in gars die hoogte ingeskiet. Dit het veroorsaak dat garsaankopers die graderingsregulasies moes verslap om produsente in hierdie moeilike tye te help. Dit het ook bygedra daartoe dat heelwat voorraad wat tans opgeberg is streng gesproke nie moutkwaliteit is nie. Dit moet nou vermeng word met gars van beter kwaliteit om ’n produk te kry wat wel vermout kan word.

COVID-19
2020 was die eerste in baie jare wat dit genoeg gereën het om plaaslik gars van goeie kwaliteit in groot maat te produseer. Toe tref die COVID-19-pandemie egter, met die gepaardgaande regerings­reëls wat ’n verbod op alkoholverkope tot gevolg gehad het. Dit was ’n uitklophou vir die garsbedryf, wat ’n geruime tyd gaan neem om te herstel. Hoewel verkope die laaste skakel in die waardeketting is, beïnvloed dit alle skakels tot op produsentevlak. Dit het ook bygedra tot die toename in eindvoorraad wat tans in die bedryf beleef word. Volgens SAGIS is die plaaslike maandelikse behoefte aan gars op ’n vyfjaargemiddeld 27 493 ton. Die verbod op die verkoop van alkohol het veroorsaak dat daar nie vermout kon word nie, met twee maande se gars (54 986 ton) wat oorgedra is as surplusgars. Tans is daar ’n 291 633 ton gars surplus in Suid-Afrika – oftewel 11,4 maande se voorraad.

Mandaat
Aan die positiewe kant vir die garsbedryf, bly AB InBev by die mandaat wat hulle vir die 2020/2021-seisoen uitgereik het, naamlik 459 000 ton. Alhoewel dit verligting skep vir produsente tydens hierdie moeilike tyd in die garsbedryf, het dit tog implikasies vir die komende seisoen. AB InBev het aangedui dat aangesien hulle ten spyte van die verbod (algeheel en gedeeltelik) op alkoholverkope steeds vanjaar die hele mandaat gaan opneem, die grootte van volgende seisoen se mandaat definitief geaffekteer gaan word. Dit gee produsente ten minste die geleentheid om vroegtydig te beplan en wisselbouprogramme en saadbestellings betyds aan te pas.