Die beheer van winteronkruide deur skoonspuittoedienings

194
Anthonie Botes,
tegniese adviseur,
Nulandis

Winteronkruide is ’n groot probleem. Dit gebruik die beperkte vog wat daar is en as dit uitgegroei is, is chemiese beheer nie baie doeltreffend nie. Voordat die verskillende onkruiddoders wat vir breedwerpige na-opkoms-, voor-plantonkruidbeheer gebruik kan word, moet daar eers gekyk word na die verskillende moontlike beheerstrategieë.

Wêreldwyd word die term skoonspuit (burndown) gebruik waar onkruide doodgespuit word voor die plant van rygewasse.

Hierdie skoonspuittoediening is gewoonlik in die laat winter/vroeë lente gedoen, op onkruide wat aktief na voldoende reën gegroei het. Onder dié toestande was die beheer van die onkruide redelik aanvaarbaar. Weens die gebrek aan winter- en vroeëlentereën moes die skoonspuitbespuitings egter op al hoe groter en ouer onkruide gedoen word.

Gevolglik is die meeste van die onkruide dan al in die reproduktiewe stadium waar daar oorweldigende sapvloei opwaarts is om voedingstowwe na die blomme en ontwikkelende sade te vervoer. Onder dié toestande is die beheer van moeilik beheerbare onkruidspesies soos die verskillende vaalskraalhansspesies, bloudissels en Senecio spp. nie aanvaarbaar nie.

Die nuutste denkrigting is dat die tradisionele skoonspuittoediening in laat winter/vroeë lente in twee bespuitings verdeel word. Hier kan ons na twee moontlike beheerstrategieë kyk, naamlik die eerste bespuiting soos tans toegepas word, dit wil sê laat winter, opgevolg deur ’n lentebespuiting net voor plant (die sogenoemde double-top metode), of nog beter, ’n bespuiting in laat herfs net voor of kort na oes van die vorige gewas, opgevolg deur ’n lentebespuiting.

Laatherfs- en vroeëlente­bespuitingstrategie
Hierdie laatherfsbespuiting (net voor of kort na oes) kan die winteronkruide wat in die vroeë herfs ontkiem wanneer die mielies of sojabone fisiologies ryp is en begin afgaan of afdroog, beheer. Die bespuiting word gevolg deur ’n lentebespuiting (net voor plant van die gewas) om die winteronkruide wat opgekom het, asook beide Roundup Ready- en konvensionele opslagmielies te beheer.

Winterbreëblaaronkruide soos vaalskraalhans, bloudissels en Senecio spp. sal beheer word terwyl hulle nog klein en vatbaar is en steeds aktiewe vegetatiewe groei toon. Volgens die glifosaat-, glufosinaat-ammonium- en parakwatetiketaanbevelings, is dit eintlik die regte tyd om beheer toe te pas.

As daar someronkruide teenwoordig is wat nog aktief groei, kan die laatherfs- voor-oesbespuiting van veral die kontakonkruiddoders soos parakwat, parakwat/dikwat of glufosinaat-ammonium die onkruide skroei en daardeur die oes van die gewas vergemaklik. Dink byvoorbeeld hier aan purperwinde, wilde sorghum, tarentaalgras, asook laat ontkiemde kakiebos, oliebome en kankerrose.

Voor-oesbespuitings kan tegnies net in mielies wat nie te veel omgeval het nie, toegedien word. Sojabone staan gewoonlik te dig – penetrasie van die blaredak sal swak wees en baie sojabone sal vertrap word.

As hoogloopspuite gebruik word, moet die spuit­volume ten minste 150 liter/ha wees en die regte spuitpunte wat growwer druppels gee asook ’n byvoegmiddel wat wegdrywing verminder en blaardakindringing en bedekking op die grond verbeter, moet gebruik word.

Tegnies, as gevolg van registrasievereistes, kan glifosaat net bo-oor glifosaatweerstandbiedende mielies en sojabone gebruik word. Parakwat/dikwat-mengsels of parakwat alleen kan by enige mielies gebruik word, maar dit moet met val-arms toegedien word – dus “tussenry-onkruidbeheer”.

As die hoogloopspuit met val-arms toegerus is, sal die bespuitings in mielies baie meer suksesvol wees, maar daar sal baie stadiger gespuit moet word. Om vinniger bo-oor die plante te spuit, sal daar van vliegtuigbespuitings gebruik gemaak moet word, maar die dosis water moet ten minste 35 liter/ha tot 40 liter/ha wees om genoeg spuitstof op die kleiner onkruidplante op die grondoppervlak te kry.

Omdat die mielie- en sojaboonstoppel heel waarskynlik na stroop bewei gaan word, sal daar ag geslaan moet word op wagperiodes vir beweiding, naamlik:

  • Glifosaat – 28 dae;
  • glufosinaat-ammonium – geen beperking op etiket omdat die produk tegnies gerig tussen die rye met val-arms toegedien moet word; en
  • parakwat alleen of parakwat/dikwat-mengsels – geen beperking op etiket omdat die produk ook tegnies gerig tussen die rye met val-arms toegedien moet word.

Na-oesbespuitings kan in alle rygewasse met al drie die onkruiddoders wat geregistreer is vir breëspektrumonkruidbeheer, gedoen word. Die effektiwiteit van die toedienings word deur die teenwoordigheid van stoppel wat die grond bedek en die klein onkruide afskerm, beïnvloed.

In sojaboonlande is die stoppel gewoonlik nie so dig nie en na-oesbespuitings mag hier beter werk. In mielielande waar die opbrengs redelik goed was of in geenbewerkingslande sal daar genoegsame stoppel teenwoordig wees om die klein onkruide af te skerm. Indien die stoppel te veel gaan wees, sal die bespuitings voor oes gedoen moet word. Alternatiewelik moet die lande vinnig bewei word, sodat diere die koppe kan optel asook van die stoppel afvreet. Sodra die onkruide dan meer oop is, kan die toediening plaasvind.

Die vaalskraalhansplante moet nog so klein wees dat die beeste/skape hulle nie kan bewei nie. Indien hulle groter is, sal die vee hulle wel vreet, wat dit amper onmoontlik maak om later die beweide plante dood te spuit omdat die bogrondse dele veels te min is om genoegsame onkruiddoder te absorbeer om die wortelstelsel te dood. Onthou dat wagperiodes voor beweiding van die stoppel altyd in ag geneem moet word.

Bogenoemde bespuiting sal dan opgevolg word deur ’n sekondêre tipe, vroeëlentebespuiting net voor plant om onkruide wat na die voor- of na-oesbespuitings tydens die winter opgekom het, asook opslagmielies, te beheer.

Hou die volgende in gedagte:

  • Met glifosaat- of glufosinaat-ammoniumbestande mielies, kan die twee onkruiddoders letterlik net voor plant toegedien word, maar as 2,4-D by glifosaat of MCPA by glufosinaat-ammonium gevoeg word, moet daar omtrent vyf dae gewag word voor plant.
  • As daar baie onkruide opgekom het, moet daar ook vyf tot sewe dae gewag word sodat die onkruide kan begin vrek voordat ordentlik geplant kan word.
  • Waar die na-opkomsgrasonkruiddoders saam met glifosaat toegedien word om glifosaatbestande opslagmielies te beheer, is die wagperiode tussen vyf en sewe dae – raadpleeg die betrokke grasonkruiddoder se etiket.
  • Maak seker dat as ’n na-opkomsgrasdoder saam met glifosaat toegedien word, die meeste van die Roundup Ready-opslagmielies al opgekom het en omtrent in die twee- tot vierblaarstadium is voordat bespuit word. As daar te vroeg gespuit word, gaan daar nog baie opslagmielies opkom na die bespuiting, wat nie chemies beheer kan word nie – net meganiese beheer (skoffel) is dan moontlik. Glufosinaat-ammonium kan ook hier gebruik word en dit sal wel glifosaatbestande mielies ook beheer sonder die byvoeging van die na-opkomsgrasdoders.
  • Met glifosaatbestande sojabone wat geplant gaan word, kan glifosaat ook letterlik net voor plant toegedien word, maar soos reeds genoem: Indien die onkruidbedekking hoog is, moet daar gewag word dat die onkruide begin vrek. As 2,4-D of MCPA saam met glifosaat gebruik moet word, soos ook hierbo genoem, is die wagperiode voor plant ook vyf tot sewe dae.

Baie belangrik met die aanplant van gewone mielies, moet die glifosaatbespuiting op swaarder gronde (>20% kleigronde) vyf dae voor plant toegedien word, maar sewe tot tien dae op ligter gronde (<20% klei). Indien nie, kan daar tydens ’n ligte reënbui van die glifosaat wat op die grond toegedien is, saam met gronddeeltjies teen die mieliesaailinge opspat en die plante dood of hul groei belemmer.

Hier kan enige van die drie onkruiddoders soos hierbo aangedui, gebruik word, afhangend van die grootte van die onkruide, die tipe onkruide asook die fisiologiese toestand daarvan, naamlik:

  • Glifosaat vir gewone breëblaaronkruide soos vaalskraalhanse wat tydens die winter opgekom het en wat al ’n bietjie groter is. 2,4-D of MCPA kan ook saam toegedien word om breëblaaronkruide beter te beheer.
  • Glufosinaat-ammonium is net gedeeltelik sistemies en moet op kleiner onkruide gebruik word. Dit beheer onkruide wat al weerstandbiedend is teen glifosaat of toleransie daarteen begin opbou het. Dit is ook ’n goeie onkruiddoder om te gebruik in ’n weerstandsbestuurstelsel. Glufosinaat-ammonium sal ook Roundup Ready-opslagmielies beheer. As die breëblaaronkruide groter is, kan 1 liter/ha MCPA saam toegedien word.
  • Parakwat of parakwat/dikwat-mengsels kan gebruik word indien die onkruide nog klein is en maklik doodgeskroei kan word. Die gebruik van parakwat/dikwat word hier aanbeveel vir onder meer ook weerstandsbestuur – dit wil sê die gebruik van ’n
    onkruiddoder met ’n ander metode van werking. Dikwat is meer effektief op grasonkruide en parakwat op breëblaaronkruide.
  • Die gebruik van ’n vliegtuigbespuiting kan oorweeg word waar hoogloopspuite sal sukkel om in te kom, maar onthou dat slegs glifosaatformulasies wat ’n vliegtuigregistrasie het, gebruik kan word.

Tweede strategie
Die tweede strategie is die huidige winter-, of baie vroeëlenteskoonspuitbespuiting, wat ’n bietjie vroeër gedoen moet word. Die bespuiting sal opgevolg moet word met ’n tweede bespuiting net voor plant wat uit parakwat of parakwat/dikwat bestaan – die soge­naamde “double-tap-bespuiting”.

Glifosaat sal die keuse wees vir die eerste skoonspuitbespuiting, omdat die onkruide al redelik groot sal wees. Die sistemiese werking van glifosaat sal die groter onkruide beter beheer. 2,4-D of MCPA moet onder alle omstandighede saam toegedien word vir die groter onkruide asook vir weerstandsbestuur. Onthou om altyd 2% ammoniumsulfaat by die spuitwater te voeg om soute in die water te bind sodat hulle nie met die glifosaat in die spuittenk sal reageer nie.

Glufosinaat-ammonium en parakwat of parakwat/dikwat-mengsels sal ook voordeel trek uit spuitwater wat met ammoniumsulfaat behandel is. Benewens die soutbindende effek van die ammoniumnitraat, bevoordeel ammoniummolekules die opname van die onkruiddoder deur die onkruidblare.

Parakwat asook die parakwat/dikwat-mengsels word dadelik deur die grond gebind en daar is geen gevaar dat gewasse wat opkom deur behandelde gronddeeltjies wat opspat, benadeel sal word nie. Daar moet net lank genoeg gewag word dat die onkruide wat behandel is, genoegsaam terugsterf om nie die plantproses nadelig te beïnvloed nie.

Die enorme vermeerdering in die gebruik van veral glifosaat het tot die opbou van glifosaatweerstand in sekere onkruidspesies gelei. Die gebruik van glifosaat in omtrent alle landboubedrywe het ook gelei tot die vermindering in gebruik van onkruiddoders met ander metodes van werking.

Ongelukkig is die “nuutste” onkruiddoderchemie al meer as 20 jaar oud en al die groepe het al weerstandbiedende onkruide wat nie meer beheer word nie. Daar is baie min kans dat nuwe onkruiddoders ontdek en ontwikkel sal word om glifosaatweerstandige onkruide te beheer.

Daar moet strategieë gevolg word wat veral onkruidweerstand bekamp: Dié twee strategieë is van uiterste belang vir die saaiprodusent in Suid-Afrika wat in die toekoms nog winsgewend wil boer.

Vir meer inligting kan Anthonie Botes by 071 679 3254 gekontak word.