18|04|2019
Nuwe seisoen se mielievoorraad: Wat kan verwag word?

1046
Luan van der Walt
Landbou-ekonoom, Graan SA
luan@grainsa.co.za

Suid-Afrika se nuwe produksieseisoen is volstoom aan die gang en die stroopproses van die verskillende somergrane het reeds in gedeeltes van die land begin. Die 2019/2020-seisoen sal weer eens onthou word vir die unieke weersomstandighede wat geheers het sedert die aanplantings begin het tot en met strooptyd.

Die seisoen het aanvanklik baie wankelrig begin met reën wat kol-kol of in strepe geval het en aanplantings vertraag het. In die grootste deel van die westelike gedeeltes van die land (Noordwes Provinsie en Noordwes-Vrystaat) kon die aanplantings effektiewelik eers in die nuwe jaar begin.

Laat aanplantings het nie net ’n negatiewe impak op die produksiepotensiaal van die gewasse nie, maar dit verhoog ook produsente se risiko op verskeie vlakke – wat beide produksie- en prysrisiko’s insluit. Tabel 1 toon die tweede produksieskatting vir die seisoen soos deur die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) bekend gemaak.

Voorraadvlakke vir die 2019/2020-seisoen
Vraag en aanbod is die grootste drywer van plaaslike pryse en dit is noodsaaklik om die fundamentele faktore in ag te neem wat die plaaslike vraag en aanbod van graan bepaal.

Gegewe die huidige seisoen se produksie-omstandighede wat oor die grootste gedeelte van die somersaaigebied geheers het, is dit duidelik dat daar baie onsekerhede in die mark is. Dit sluit hoofsaaklik die verwagte produksie, asook die beskikbare voorraad vir die seisoen in.

Die beskikbare voorraad word bepaal deur die seisoen se produksie (produsentelewerings) asook die oordragvoorraad wat vanaf die vorige seisoen na die volgende seisoen oorgedra word.

Aangesien die aanplantings hierdie seisoen aansienlik later as die normale plantvenster plaasgevind het, is die verwagting dat die stroopproses dié seisoen ook later as normaal sal plaasvind. Dit sal ’n impak op die beskikbare maandelikse voorraad van mielies hê, aangesien die oorgrote meerderheid van veral die witmielies eers later as die normale tydperk in die mark beskikbaar sal wees.

Grafiek 1 en Grafiek 2 toon die verwagte, beskikbare maandelikse voorraad vir die 2019/2020-seisoen van wit- en geelmielies onderskeidelik, gegewe verskillende leweringstempo’s.

Witmielies
Grafiek 1 vergelyk die verwagte beskikbare voorraad witmielies per maand gegewe verskillende leweringstempo’s. Die leweringstempo’s wat met mekaar vergelyk word, is ’n vyfjaar- gemiddelde tempo en ’n leweringstempo wat ongeveer ’n maand later as normaal plaasvind.

Die verwagting vir die seisoen is dat die gemiddelde leweringstempo van veral witmielies ’n maand of selfs later as die normale tempo behoort te wees.

Dit is duidelik uit Grafiek 1 dat ’n laat leweringstempo vir die seisoen sal veroorsaak dat die laagste beskikbare voorraad vir die seisoen gedurende Mei behoort te wees, waar dit tradisioneel gedurende April is. Gegewe die NOK se tweede produksieskatting, die leweringstempo en verwagte maandelikse verbruik, kan die laagste beskikbare maandelikse voorraad van witmielies net onder die 1,5 miljoen ton gedurende Mei wees.

Die gemiddelde maandelikse verbruik en Afrika-uitvoere van witmielies is ongeveer 515 000 ton. Dit beteken dat op die laagtepunt ten minste ongeveer 770 000 ton se witmielies beskikbaar moet wees om een en ’n halwe maand se verbruik te verteenwoordig.

Geelmielies
In terme van geelmielies word verwag dat die seisoen nader aan die normale leweringstempo behoort te wees, aangesien die meeste van die geelmielies in die oostelike gedeeltes van die land aangeplant word. Die meeste van dié dele kon nader aan die normale tydperk plant, behalwe vir gedeeltes van veral die Oos-Vrystaat waar die aanplantings later as normaal plaasgevind het.

Grafiek 2 toon die verwagte beskikbare maandelikse voorraad van geelmielies gegewe die NOK se tweede produksieskatting vir die seisoen en die gemiddelde verwagte verbruik. Die leweringstempo van geelmielies word nader aan die normale tendens geskat en die laatleweringscenario is nie so wesenlik soos dié van witmielies nie.

Grafiek 2 toon dat indien die geelmielielewerings vir die seisoen effens later as die vyfjaar- gemiddelde tempo plaasvind, die laagste beskikbare voorraad vir die seisoen gedurende April behoort te wees wat redelik in lyn is met die normale tendens van geelmielies. Die geskatte beskikbare voorraad van geelmielies teen einde April behoort ongeveer 730 000 ton te wees. Die gemiddelde maandelikse verbruik plus Afrika-uitvoere van geelmielies is ongeveer 480 000 ton – wat beteken dat ten minste 720 000 ton se geelmielies in die land beskikbaar moet wees om een en ’n halwe maand se verbruik te verteenwoordig.

Ten slotte
Dit is duidelik uit die bostaande inligting dat die voorraadvlakke van mielies vir die komende seisoen redelik aan die lae kant behoort te wees. Die uitdagende produksietoestande wat oor groot gedeeltes van die somersaaigebiede geheers het, het veroorsaak dat die produksie vir die seisoen aansienlik laer as die vorige seisoen se produksie is en ook laer as die plaaslike verbruik en Afrika-uitvoere.

Dit is veral die geval in terme van geelmielies aangesien minder geelmielie- as witmielievoorraad plaaslik beskikbaar is. Daar is reeds sedert middel Januarie tot en met middel April vanjaar 125 248 ton geelmielies ingevoer. Daar behoort tot en met einde Mei nog ’n verdere 110 991 ton geelmielies ingevoer te word – wat die totale invoere tussen Januarie en Mei op 236 239 ton te staan sal bring.

Die verwagting vir die seisoen is dat ’n groot gedeelte van veral die kusgebiede se geelmielieverbruik vir die seisoen ingevoer behoort te word.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar egter geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van hierdie inligting nie.