March 2018

Altesaam sewe nuwe koring- en twee nuwe garskultivars betree hierdie seisoen die kommersiële mark.

Keuse van kultivar is belangrik om die produksierisiko tot ‘n minimum te beperk. In hierdie artikel word die jongste saadpryse van kultivars wat kommersieel in die mark beskikbaar is, met produsente gedeel, sowel as wenke om te verseker dat die beste uit die saad geput word.

Saad as produksie-inset vir wintergraanproduksie is nie noodwendig produsente se duurste inset nie, maar dit kan wel moontlik hul belangrikste inset wees. Die koringbedryf in Suid-Afrika is onder druk. Hektare onder koring – veral in die noorde van die land – is besig om te kwyn en veral nuwe hoë-opbrengskultivars is nodig om die bedryf weer ‘n hupstoot te gee. Om nie eers te praat van die Wes-Kaap wat deur droogtetoestande geteister word nie.

Alle maatskappye wat koring- en garssaad bemark, is genader om deel te neem aan prysvergelykings. Kaap Agri het aangedui dat hulle nie aan die opname wil deelneem nie.

Saadpryse
Wintergraansaadpryse vir 2018 word in Tabel 1 tot Tabel 5 getoon. Daar is altesaam 33 koringkultivars vir die noordelike produserende gebiede (besproeiing ingesluit) beskikbaar, terwyl daar nege verskillende kultivars vir die Wes-Kaap kommersieel beskikbaar is. Daar is elf garskultivars waaruit produsente in die Wes-Kaap kan kies.

Koringsaadpryse het sedert verlede jaar op ‘n gemiddelde basis met 3,7% gestyg. Sommige kultivars het tot 14% gestyg, terwyl ander weer met soveel soos 6,7% gedaal het. Wat interessant is, is dat koringsaadpryse in die noordelike produksie-areas gemiddeld R344 per 25 kg sakkie kos, terwyl saadpryse in die Kaap R379 per 50 kg sakkie kos. Garssaadpryse het op ‘n gemiddelde basis met 0,5% gedaal.

Die inligting in Tabel 1 tot Tabel 5 neem nie kortings vir vroeë bestellings en grootmaataankope in aanmerking nie. Dit is belangrik om navrae by die saadmaatskappye self te doen om te verseker dat die beste moontlike prys beding word.

Kultivarkeuse
Belangrike riglyne wat gevolg behoort te word wanneer kultivarkeuses uitgeoefen word, is die volgende:

  • Moet nie ‘n staatmakerkultivar summier met ‘n nuwe en onbekende kultivar vervang nie. Plant die nuwe/onbekende kultivar eers op ‘n kleiner skaal aan en maak seker dat dit aan persoonlike vereistes voldoen.
  • Plant ‘n pakket van kultivars om risiko’s ten opsigte van agronomiese eienskappe, plaag- en siekteweerstand, valgetal en gradering te versprei.
  • Waak daarteen om ‘n ongetoetste kultivar aan te plant. Raadpleeg die LNR-Kleingraan se handleidings vir wintergraan­verbouing en verseker dat die kultivar onafhanklik geëvalueer en volgens eienskappe wat op die plaas belangrik is, presteer. Sien ook die bylaag wat saam met dié uitgawe van SA Graan/Grain gepos word, waarin die resultate van die Nasionale Kultivarevaluasieprogram wat deur die LNR-Kleingraan hanteer word, gepubliseer is. Kontak die betrokke kundiges indien inligting ontbreek of onsekerheid bestaan.

Saadkwaliteit is krities
Uitstekende kwaliteit saad verbeter die kans op die suksesvolle vestiging van die gewas en ‘n aanvaarbare oes. Koringsaad kan in drie kategorieë volgens kwaliteit verdeel word, naamlik:

Gesertifiseerde saad
Dit is hoë kwaliteit saad, waarvan belangrike eienskappe soos kiemkragtigheid en suiwerheid teen relatiewe streng norme deur saadmaatskappye gewaarborg word. Indien produsente uitdagings met gesertifiseerde saad ondervind, kan ‘n saak gemaak word wanneer ‘n eis ter sprake kom. Dié tipe saad word deur erkende saad- en landboumaatskappye verskaf.

Kommersiële saad
Kommersiële saad is van aanvaarbare tot uitstekende kwaliteit wat aan sekere vereistes van die Plantverbeteringswet voldoen. Die kwaliteitsvereistes is nie so streng soos vir gesertifiseerde saad nie. In die geval van ‘n saaddefek sal ‘n produsent hom tot die Registrateur van die Plantverbeteringswet kan wend. Dié tipe saad word ook deur erkende saadmaatskappye en landboubesighede verskaf.

Teruggehoue saad
Teruggehoue saad is graan wat deur produsente uit die vorige oes teruggehou is om as saad in die volgende seisoen te dien. Dit is wettig, solank die graan nie as saad verkoop word nie. Produsente loop egter produksie- en opbergingsrisiko’s indien teruggehoue saad gebruik word.

Enkele uitdagings wat ondervind word, is byvoorbeeld die muf van saad indien dit te klam gestoor word, kalanderskade indien nie berook nie en swak ontkiemingsvermoë indien dit teen te hoë temperature opgeberg is.

‘n Produsent het geen eis of regsgronde ten opsigte van saadkwaliteit (en algemene prestasie van die kultivar) indien teruggehoue saad geplant word nie. Indien saad opgeberg word, behoort die saad volgens voorskrifte vir opberging skoongemaak, skoon en suiwer gehou, gedroog, en koel en droog opgeberg te word.

Beroking om kalanders en ander graaninsekte te beheer, moet getrou gedoen word en dit moet veilig teen rotte en muise geberg word. Ontkiemings- en suiwerheidstoetse moet gedoen word voor aanplanting en die saad moet teen saadgedraagde siektes met geregistreerde plaagdoders behandel word.

 

Publication: March 2018

Section: Focus on