Die plaagdoderetiket: Jou paspoort tot sukses en veiligheid

1744

Alle plaagdoders wat in Suid-Afrika verkoop word, is onderworpe aan die Wet op Misstowwe, Veevoedsel, Landboumiddels en Veevoedsel, 1947 (Wet Nr. 36 van 1947) wat streng vereistes neerlê:

  • Plaagdoders moet onder die Wet geregistreer wees.
  • Dit moet in stewige, goedgekeurde houers wees wat nie lek as die plaagdoder oorgegiet word nie.
  • Die samestelling en fisiese eienskappe moet wees soos goedgekeur.
  • Dit moet die gewenste uitwerking hê soos op die etiket aangedui.
  • Dit moet van ’n goedgekeurde etiket voorsien wees.

Plaagdoderetikette is gelykstaande aan die voorskrifte in medisyneverpakkings wat die gebruiker op die risiko’s, positiewe eienskappe en gebruike daarvan wys. Die etiket is die belangrikste deel van die plaagdoder – daarsonder kan die produk nie effektief of veilig gebruik word nie.

Komponente van die plaagdoderetiket
Die etiket word onderverdeel in drie dele, naamlik die hoof- of verkoopspaneel, die waarskuwings en voorkomingsmaatreëls asook die gebruiksaanwysings. Sommige etikette is eenvoudig genoeg dat alles op een blad inpas, terwyl ander weer soos ’n klein brosjure saamgestel is vanweë al die tegniese inligting oor gewasse, toepassings, doserings, spesiale aanwysings en mengbaarheid.

Die hoofpaneel
Dit is die deel van die etiket wat ’n mens se oog tref, want die registrasiehouer se besonderhede en kenteken is gewoonlik baie prominent daarop. Ingevolge die regulasies van Wet Nr. 36 van 1947 moet die volgende items op die hoofpaneel wees:

Handelsnaam van die plaagdoder en sy handelsmerk of die handelsmerk van die registrasiehouer of verspreider, byvoorbeeld “Piet se Plantluisdoder”.

Algemene doel van die plaagdoder, soos byvoorbeeld “suspensiekonsentraat-insekdoder vir die beheer van plantluise op groentegewasse soos aangedui”.

Aktiewe bestanddeel en klassifikasie (hetsy chemies of biologies) met die konsentrasie daarvan in die formulering, byvoorbeeld “sipermetrien (piretroïed) 200 gram per liter”.

Registrasienommer van die plaagdoder en verwysing na Wet Nr. 36 van 1947. Die registrasienommer vir plaagdoders begin altyd met ’n hoofletter L gevolg deur vier of vyf syfers, byvoorbeeld “L12485, Wet Nr. 36 van 1947”.

Weerstandsgroepering met verwysing na die spesifieke weerstandskomitee, naamlik IRAC (vir insekte), FRAC (vir swamme) en HRAC (vir onkruide), byvoorbeeld “IRAC 2A”. Dit is vir die gebruiker se toekomsbeplanning sodat dieselfde weerstandsgroep-plaagdoders nie herhaaldelik na mekaar gebruik word en daar dan weerstand daarteen ontwikkel word nie. ’n Beskrywing van die weerstandsgroepe is beskikbaar op gratis slimfoontoepassings.

Registrasiehouerbesonderhede moet altyd aangedui word, ongeag of die maatskappy self die produk bemark en of dit deur ’n ander maatskappy bemark word, byvoorbeeld “Piet Poggenpoel cc, Marquardstraat 45, Kamieskroon, 8015, registrasienommer 2019/210010/40, telefoonnommer 028 333 4444”.

Verspreidersbesonderhede mag nodig wees as ’n ander maatskappy die verspreidingsregte vir die plaagdoder het, byvoorbeeld “Versprei deur Sarel Tuin, Privaat sak X001, Port Nolloth, 8045, telefoonnommer 028 333 5555”.

Lotnommer, vervaardigingsdatum en/of vervaldatum. Die meeste registrasiehouers plaas hierdie besonderhede op die houer self omdat etikette in groot maat gedruk word en lotnommers sowel as vervaardigingsdatums dus mag verskil, byvoorbeeld “Lotnommer 2.02/02/2019, vervaardigingsdatum Jan 2012”. Die lotnommer en vervaardigingsdatum mag nie dieselfde wees nie. Wet Nr. 36 van 1947 sê dat plaagdoders ’n raklewe van twee jaar na vervaardigingsdatum het, tensy dit korter of langer as twee jaar is en dan moet daar ook ’n vervaardigingsdatum aangedui word.

Noodnommer is vir noodgevalle soos vergiftigings en stortings, byvoorbeeld “In geval van nood, kontak Griffon Gifinligtingsentrum 082 446 8946 (24 uur)”.

Kliëntediensnommer is die hulplyn vir tegniese navrae, byvoorbeeld “Kliëntenavrae 028 333 4455”.

UN-nommer is die gevaarlikheidsklassifikasie ingevolge die Verenigde Nasies se riglyne wat bepaal hoe die plaagdoder verpak en hoeveel daarvan vervoer mag word in terme van die vervoer van gevaarhoudende stowwe, byvoorbeeld “UN-nommer 3077”.

Die kleurband en piktogramme is die waarskuwingsgedeelte van die hoofpaneel (Figuur 1). Kleure word aan plaagdoders toegeken na gelang van hul akute giftigheid.

Rooi bande (Groep IA en IB) beteken uiters giftig en giftig, geel bande (Groep II) beteken skadelik, blou bande (Groep III) beteken hanteer versigtig en groen bande (Groep IV) beteken geen gevaar as die middel volgens voorskrif gebruik word nie.

Piktogramme word soos volg gelees en geïnterpreteer: Lees vanaf die middel na links vir die mengwaarskuwings, naamlik die gebruik van asemhalingsapparaat, ’n gesigsmasker, rubberhandskoene en -stewels. Die linkerkantste prentjie dui aan dat die klaar gemengde plaagdoder weggesluit moet word buite die bereik van kinders. Lees dan vanaf die middel na regs vir die aanwendingswaarskuwings, naamlik die gebruik van asemhalingsapparaat, ’n gesigsmasker, rubberhandskoene en -stewels. Na aanwending moet die hande gewas word.

Ander waarskuwingspiktogramme sluit in “gevaarlik vir water en waterlewe”, “gevaarlik vir vee en pluimvee”, “gevaarlik vir voëls en wild” en “mag nie met lugtoediening aangewend word nie”. Die aantal piktogramme wat gedruk word, sal afhang van die gevaarklassifikasie van die plaagdoder – daar is meer piktogramme vir uiters giftige en giftige plaagdoders en minder piktogramme vir die ander gevaargroepe.

Die sypanele
Plaagdoders se sypanele is die moeilike gedeeltes om te lees, want dit is waar al die tegniese inligting oor die middels weergegee word. As die inligting nie gelees word nie, kan dit fataal wees, want waarskuwings, voorkomingsmaatreëls en gebruiksaanwysings is die kern van effektiewe en veilige gebruik van die plaagdoder.

Waarskuwings en voorkomingsmaatreëls
Dit is die standaarditems wat die gebruiker op die risiko’s van die produk wys en sommige daarvan sal op alle plaagdoderetikette wees. “Hou buite bereik van kinders en troeteldiere”, “giftig wanneer ingeneem word” en “giftig vir diere en voëls” is algemene standaardwaarskuwings wat op alle etikette sal wees. Vir produsente is daar waarskuwings en voorkomingsmaatreëls wat baie belangrik mag wees, soos:

Onthoudingsperiode
Die onthoudingsperiode (ook bekend as die voor-oesinterval) is die wagtyd ná die laaste toediening voor die gewas geoes of as dierevoeding gebruik mag word. Dit is ’n noodsaaklike tydsinterval om die aktiewe bestanddeel tyd te gun om na aanvaarbare vlakke te metaboliseer.

Spesiale gewasgerigte waarskuwings
Dit is byvoorbeeld ’n waarskuwing dat die plaagdoder nie op bepaalde kultivars gebruik mag word nie as gevolg van moontlike gewasskade.

Spesiale waarskuwings
Spesiale waarskuwings oor weersomstandighede, grondvogtoestande en voorkoming van drywing. Aanduidings word gegee oor die maksimum windsnelheid waarteen plaagdoders aangewend mag word asook die probleme wat met hoë temperature en inversies ondervind mag word.

Spesiale maatreëls om vergiftiging van bye te voorkom
Hier gaan dit byvoorbeeld daaroor om die plaagdoder nie aan te wend wanneer bye die gewas bestuif of wanneer bye in die gewas teenwoordig is nie. Dit dui ook dikwels aan dat die plaagdoder slegs gespuit mag word tot net na blomknopvorming.

Spesiale verwysing na lugtoediening
Lugtoediening mag net geskied met plaagdoders wat daarvoor geregistreer is. As dit die geval is, is daar breedvoerige verwysing na die vereistes van die Suid-Afrikaanse Nasionale Standaard vir lugtoediening van plaagdoders (SANS 10118).

Spesiale instruksies vir vergiftiging
Dit is instruksies vir die stabilisering van persone wat die plaagdoder ingeneem het asook instruksies vir mediese personeel rakende die behandeling van pasiënte.

Mengbaarheid
Plaagdoders mag soms met ander plaagdoders of bevorderingsmiddels gemeng word ten einde effektiwiteit te verbeter. Indien dit die geval is, sal dit as sodanig op die etiket aangedui word.

Voorbereiding van spuitmengsels
Hier is spesifieke instruksies oor waterkwaliteit soos hardheid en pH asook hoe om dit aan te pas met buffer- en versagmiddels. Dit sal ook aanduidings van mengvolgorde gee, want as die plaagdodermengsel verkeerd voorberei word, is daar moontlik geweldige skuim­ontwikkeling of selfs onversoenbare konkoksies in die tenk.

Die meeste mense ignoreer hierdie twee belangrike aspekte van die etiket en dit kan produsente duur te staan kom. ’n Voorbeeld hier is as die onttrekkingsperiode nie gehandhaaf word nie en uitvoerders ontdek onaanvaarbare residu in die gewas. Daardie oes is dan basies afgeskryf omdat dit nie verkoop mag word nie. Bye vrek ook dikwels op groot skaal as gevolg van nienakoming van die voorsorgmaatreëls vir bye. Die waarskuwings en voorsorgmaatreëls is soos ’n versekeringspolis teen gevare en risiko’s: Lees dit en hou daarby.

Gebruiksaanwysings
Toedieningsinligting wat in die gebruiksaanwysings vervat is, is met groot koste en moeite deur die registrasiehouer ontwikkel om te verseker dat die plaagdoder die gewenste uitwerking sal hê as dit korrek aangewend word. Daar is verskeie kernitems wat in die gedeelte voorkom, naamlik:

Die plaag, plantsiekte of onkruid wat met die plaagdoder beheer kan word
Die spesies word meestal aangedui as gewone name en dikwels ook as wetenskaplike name. So byvoorbeeld sal ’n indoksakarb-etiket vir mielies stronkboorder, Afrika-bolwurm, Afrika-kommandowurm en herfskommandowurm as teikenspesies lys. Die rede daarvoor is dat elke plaagspesie aan die plaagdoder onderwerp moet word in veldproewe om te bewys dat dit wel effektief is. ’n Wurm is nie bloot ’n wurm nie: Dit het ’n bepaalde naam en biologie wat miskien hardnekkig genoeg is om die plaagdoder te fnuik en dan sal dit nie as teikenspesie gelys word nie.

Die gewas waarvoor die plaagdoders geregistreer is
Plaagdoders word op bepaalde gewasse vir effektiwiteit teen die teikenorganismes getoets, maar ook om te bepaal of dit met die gewasse versoenbaar is. ’n Ander baie belangrike toets is om te bepaal wat die onttrekkingsperiode moet wees ten einde te verseker dat die residuvlakke binne die maksimum residulimiet is, soos vasgestel deur die Departement van Gesondheid. Plaagdoders moet onder geen omstandighede gebruik word vir gewasse wat nie op die etiket aangedui is nie. Kyk ook veral na kultivars: Suikermielies word dikwels uitgesluit by die gebruik van sommige plaagdoders omdat dit heeltemal anders as gewone mielies is.

Die dosis waarteen die plaagdoder aangewend moet word
’n Groot fout wat produsente dikwels maak, is om die dosisaanwysings te ignoreer. Dit kan lei tot swak resultate, gewasskade of weerstandsontwikkeling. Soms is dosering ’n kopseer – veral as ’n onkundige persoon gekonfronteer word met ’n instruksie wat bepaal dat ’n sekere aantal liters per hektaar aangewend moet word en hy dit op ’n klein kolletjie met ’n rugsakspuit wil toedien. Die beste is dan om die registrasiehouer te kontak en uit te vind hoeveel van die plaagdoder per liter water gemeng moet word.

Akkurate dosering is natuurlik onlosmaaklik gekoppel aan die kalibrasie van spuittoerusting, maar dit is ’n artikel op sy eie. Kyk veral by voor-opkomsonkruiddoders en sommige na-opkomsonkruiddoders wat op die grond aangewend word na die aanduidings vir dosis gegrond op die klei-inhoud.

Klei het ’n groot impak op die beskikbaarstelling van onkruiddodermolekules. Hoe meer klei daar in die grond is, hoe minder onkruiddoder is beskikbaar en die dosering moet dan opwaarts aangepas word.

Toedieningstegnologie
Metodes van toediening en tegnologie word ook op die gebruiksaanwysings aangedui. Dit is byvoorbeeld belangrik dat ’n plaagdoder slegs vir lugbespuiting op ’n gewas gebruik mag word indien dit so in die gebruiksaanwysings aangedui word. Dit sal ook terugverwys na die gedeelte waar die SANS 10118 bespreek word.

Verpligte byvoegings
Sommige plaagdoders word geregistreer om in kombinasie met ander toegedien te word ten einde effektief te wees. Daar is ook dikwels aanduidings om bevorderingsmiddels soos ’n benatter en kleefmiddels by te voeg. As die etiket dit aandui, moet dit so gevolg word.

Samevatting
Die etiket is amper belangriker as die plaagdoder; daarsonder kan die plaagdoder nie veilig of effektief aangewend word nie. CropLife Suid-Afrika beveel sterk aan dat produsente ernstig besin oor etikette, want versuim om dit te lees is so goed as om swak saad te plant of die omgewing doelbewus te vergiftig. Lees en word wys. Bykans alle etikette van alle plaagdoders is op Agri-Intel beskikbaar by www.agri-intel.com.

Vir verdere inligting hou gerus die webwerf www.croplife.co.za dop of skakel ons by 087 980 5163.