22|03|2019
Gars en hawer: Hoe lyk die mark?

599
Luan van der Walt
Landbou-ekonoom, Graan SA, luan@grainsa.co.za
Ruan Schutte
Junior landbou-ekonoom en bemarker, Graan SA,ruan@grainsa.co.za

In die Wes-Kaap speel gars en hawer ’n belangrike rol in die wisselboustelsels van die wintergraanstreke. Dit dien ook ’n doel rakende die diversifisering van gewasse vir die produsent, asook ten opsigte van die verspreiding van prys- en produksierisiko’s. Verder word dit ook benut as ’n voedingsbron vir mens en dier.

Die produksie van die gewasse vervul ’n belangrike skakel, nie net in die streek nie, maar ook in die totale voedselsekerheidsketting in Suid-Afrika.

Alhoewel daar gedurende die afgelope 20 jaar ’n toename in die verbouing van die gewasse (oppervlakte- en opbrengsgewys) was, is die groei steeds nie voldoende om aan die behoefte van die plaaslike mark te voorsien nie. Die tekort in die mark skep geleenthede vir potensiële produsente om tot die mark toe te tree, asook vir bestaande produsente om produksie uit te brei.

Beide gewasse hou uitdagings asook potensiaal tot produksiegroei vir produsente in.

Hoe lyk die garsmark?
Internasionale oorsig
Suid-Afrika voer gars vanuit internasionale markte in om aan die plaaslike behoefte te voorsien. Die gemiddelde invoere oor die afgelope tien jaar was 59 000 ton per jaar vanaf lande soos Argentinië, Australië, België, Frankryk en die Oekraïne. Die feit dat Suid-Afrika op ’n jaarlikse basis steeds gars invoer om aan die plaaslike behoefte te voldoen, dui daarop dat daar steeds heelwat spasie is vir verdere uitbreiding van die plaaslike produksie.

Dit is positief vir produsente in veral die winterreënvalstreek aangesien dit meer geleentheid bied vir diversifisering van aanplantings.

Plaaslike mark
Alhoewel die afgelope drie jaar se droogte in die Wes-Kaap opbrengs en produksie benadeel het, is garsproduksie die minste geraak in terme van opbrengs. Die teling wat gedoen word op die onderskeie garskultivars is van hoogstaande gehalte en baie aandag word geskenk aan die ontwikkeling van droogtetolerante kultivars.

Gars kan daarom dien as ’n goeie buffer en verder speel dit ’n baie belangrike rol in die verspreiding van risiko in droogtejare. Gars se winsgewendheid, indien dit aan moutgars se graderingsvereistes voldoen, is ook beter in vergelyking met die marges van ander wintergrane.

Grafiek 1 is ’n grafiese voorstelling van die plaaslike produksie en verbruikstendense van gars sedert die 1998/1999-seisoen. Daar kan gesien word dat die plaaslike produksie nie voldoen aan die plaaslike vraag nie. Dit dui ook die tekort aan wat deur invoere aangevul moet word om aan die binnelandse behoefte te kan voldoen.

Hoewel die plaaslike produksie in die meeste van die jare nie voldoen aan die binnelandse vraag nie, gebeur dit wel soms dat daar ’n oorproduksie is. In so ’n geval voer Suid-Afrika gars uit na onder meer Namibië.

Dit is wel duidelik dat die plaaslike produksie die afgelope paar jaar skerp toegeneem het en nader aan die plaaslike vraag is. Dit veroorsaak reeds dat die invoere begin afneem het. Hierdie situasie bring weer ander uitdagings na die plaaslike mark, aangesien produsente dan met die oorskot gars in ander markte as die moutgars moet meeding.

Hoe lyk die mark vir hawer?
Internasionale oorsig
Hawer toon ’n groot ooreenkoms met gars ten opsigte van die binnelandse behoefte en tekorte. Die verbruik in Suid-Afrika van hawer is groter as die plaaslike produksie daarvan.

Suid-Afrika is ook ’n invoerder van hawer. Lande soos Australië, België, Brasilië, Kanada, Chili, Portugal, Swede, die Oekraïne, Uruguay en Finland verskaf hawer aan Suid-Afrika. Oor ’n tienjaargemiddeld voer Suid-Afrika 24 000 ton hawer per jaar in om aan die plaaslike behoefte te voorsien. Suid-Afrika voer ook, van tyd tot tyd indien daar ’n surplus is, uit na lande soos Japan en Zimbabwe.

Plaaslike mark
Grafiek 2 is ’n grafiese voorstelling van die plaaslike produksie, invoere en verbruik van hawer sedert die 1997/1998-seisoen. In die grafiek kan daar duidelik gesien word dat die plaaslike produksie meestal laer as die plaaslike verbruik is. Dit beteken dat Suid-Afrika in die meeste van die jare in ’n tekortsituasie is wat hawervoorraad betref en dat invoere moet plaasvind om die tekorte aan te vul.

Hawer dien as voedingsbron vir mens en dier. ’n Duidelike toename kan waargeneem word ten opsigte van die behoefte aan en gebruik van die gewas in die binnelandse mark.

Vir menslike verbruiksdoeleindes word 43 000 ton per jaar gemiddeld gedurende die afgelope tien jaar gebruik, terwyl 7 000 ton per jaar oor dieselfde tydperk vir dieregebruik aangewend is. In Suid-Afrika is die binnelandse behoefte ongeveer 60 000 ton per jaar, terwyl daar plaaslik gemiddeld slegs 39 000 ton geproduseer word. Daar word oor ’n tienjaargemiddeld 24 000 ton hawer per jaar ingevoer na Suid-Afrika toe.

Wat verder waargeneem kan word in Grafiek 2 is dat, soos die behoefte aan hawer groei, daar ook ’n toename in die plaaslike verbouing van die gewas was. Ten spyte van die wisselvalligheid van die plaaslike produksie, was daar wel goeie groei in die produksie oor tyd. Dit dui op gesonde markomstandighede wat as positief beskou kan word.

Risiko-elemente met betrekking tot die verbouing van gars en hawer
Alhoewel daar baie voordele is aangaande die verbouing van die gewasse en daar ’n duidelike behoefte bestaan om meer te produseer in Suid-Afrika, is daar ook risiko’s verbonde aan gars- en hawerverbouing, net soos wat daar risiko’s bestaan ten opsigte van die verbouing van enige ander landbougewas.

Van al die wintergrane wat verbou word, is gars die winsgewendste, maar die risiko in ’n nat oestyd om uitloopskade op te doen, is ook die grootste. Dit belemmer die gradering van gars negatief, aangesien die vermoutingsaanlegte nie uitgeloopte gars kan vermout nie. Dit moet dan noodgedwonge as voergars gelewer word wat derhalwe die winsgewendheid van die lewering van die gewas belemmer.

Die grootste risiko rakende hawer in die oestyd is windskade. Wanneer hawer ryp is, word dit maklik deur sterk wind uit die are gewaai. Die saad het ook die geneigdheid om maklik uit die are te val. Hierdie proses word dan deur die wind aangehelp.

Samevatting
Suid-Afrika voer gars en hawer in, alhoewel die potensiaal bestaan om self genoeg te produseer om aan die plaaslike markvraag te voldoen. Die gewasse bied die geleentheid vir produsente om prys- en opbrengsrisiko te versprei en ’n meer volhoubare boerderyomgewing te skep.

Daar is risiko’s verbonde aan die verbouing van die gewasse, maar die winsgewendheid daarvan kompenseer vir die risiko. Dit bied dus ’n geleentheid vir bestaande en gevestigde produsente om verbouing uit te brei. Dit bied egter ook aan nuwe produsente ’n gaping om die mark te betree op ’n gebied wat minder kompeterend is omdat daar binnelands ’n tekort bestaan.

Die konstante groei in Suid-Afrika se bevolking bring ook ’n groei in die aanvraag na hawer en gars mee. Die groei in aanvraag na die gewasse, asook die uitvoermoontlikhede na van Suid-Afrika se buurlande, het ’n positiewe invloed op die volhoubare winsgewendheid en potensiële marksegmentgroei wat die gewasse inhou.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar egter geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van hierdie inligting nie.