Die effek van beurtkrag op besproeiingskoring

Gepubliseer: 4 Julie 2023

607
Christiaan Vercueil,
landbou-ekonoom,
Graan SA, christiaan@grainsa.co.za

Gemiddeld het Suid-Afrika oor die afgelope tien jaar jaarliks 1,82 miljoen ton se koring geproduseer. Van die totale hektare word 75% op droëland geplant met slegs 25% onder besproeiing. As daar na produksie as geheel gekyk word, sien ons wel dat slegs 53% van totale produksie deur droëlandgebiede geproduseer word en 47% onder besproeiing.

Besproeiing in geheel maak dus ’n groot deel van die land se koringproduksie uit. Die Wes-Kaap is die provinsie waar die meeste koring verbou word, met 64% van die totale koringoppervlakte en 44% van die totale tonne.

Besproeiingskoste
Gewone besproeiingskoste vir die produsent in Limpopo en in die Noord-Kaap is onderskeidelik R5 775/ton en R6 126/ton onder normale omstandighede. Normale omstandighede verwys na die vermoë wat produsente gehad het om besproeiing beter te kon skeduleer weens die ononderbroke beskikbaarheid van elektrisiteit. Dit het hulle in staat gestel om snags te besproei wanneer effektiwiteit hoër is en om nie tydens piektye te besproei nie omdat elek­trisiteit tydens hierdie periodes duurder is. Produsente kon ook besproeiing aanpas in lyn met die oes se groeifase vir wanneer waterbehoefte verander.

Met die huidige kragsituasie is dit nie meer moontlik nie en produsente is genoodsaak om te besproei wanneer elektrisiteit beskikbaar is. Hierdie situasie veroorsaak ook dat besproeiingsisteme vir korter periodes aktief is en meer gereeld aangeskakel moet word, wat arbeidskoste verder opjaag. In die meeste gevalle is hierdie kort periodes nie genoeg om in die oes se besproeiings­behoeftes te voorsien nie en moet alternatiewe gevind word om krag aan stelsels te voorsien. Kragopwekkers is tans die mees praktiese en effektiefste manier. Hierdie vorm van elektrisiteitsopwekking kan die produsent se besproeiingskoste met tot 20% laat toeneem.

Grafiek 1: Koring: % bydrae van droëland teenoor besproeiing (ton).

Sensitiwiteitsanalises
Die sensitiwiteitsanalise toon die veran­dering in wins aan met die verandering in opbrengs weens die gebrek aan besproeiing, en die verandering wat kan plaasvind indien ’n produsent besluit op ’n kragopwekker, wat sy besproeiingskoste kan laat toeneem. Tabel 1 dui duidelik aan dat indien opbrengs nie beïnvloed word nie en besproeiingskoste slegs met 10% toeneem, die produsent kan beweeg vanaf ’n wins van R309/ton na ’n verlies van R269/ton. Indien besproeiingskoste konstant bly en die opbrengs word verlaag met 0,5 t/ha, kan ’n produsent van ’n wins van R309/ton beweeg na ’n beduidende verlies van R2 590/ton. Dit is wel belangrik om te noem dat die winsgewendheid van besproeiings­koring meer deur ’n verlies in opbrengs beïnvloed word as ’n toename in besproeiingskoste en indien die oes geplant is, dit beter sal wees om die besproeiingskoste te verhoog as om opbrengs in te boet.

Tabel 2 dui duidelik aan dat indien opbrengs nie beïnvloed word nie en besproeiingskoste slegs met 10% toeneem, beweeg die produsent se winsgewendheid vanaf R503/ton na R197/ton wins. Indien besproeiingskoste konstant bly en die opbrengs word verlaag met 0,5 t/ha, beweeg die produsent se wins­gewendheid vanaf ’n wins van R503/ton na ’n beduidende verlies van R2 433/ton.

Indien dit nie meer winsgewend is om koring onder besproeiing te produseer nie, bestaan die moontlikheid dat produsente daarteen kan besluit om wel die gewas aan te plant. Indien produsente wel besluit om nie te produseer nie, kan dit die vraag na invoere van koring verhoog. Tabel 3 dui die verlies in produksie aan indien produksie van koring ingeperk word weens ’n gebrek aan wins­gewendheid. Hierdie ingevoerde koring gaan direk gepaard met valuta wat die land verlaat, wat eerder in die land kon gebly het en deur produsente ontvang kon word.

Samevatting
Die kragsituasie in Suid-Afrika is tans ’n groot klip in die skoen vir produsente. Indien hierdie situasie voortduur, is daar ’n definitiewe moontlikheid dat dit die produksie van baie verskillende gewasse negatief sal beïnvloed. Die grootste gevaar lê wel waar produkte soos mielies en koring, wat as goedkoop en stapelvoedsel dien, beïnvloed word. Voedselsekerheid kan so bedreig word. Die verlies aan valuta en gepaardgaande risiko’s soos werksverliese en stygende voedsel­inflasie as direkte gevolge van die kragsituasie is slegs enkele van vele probleme wat ons sukkelende ekonomie moet trotseer.