Graan SA ’22-kongres op NAMPO Park gehou

Gepubliseer: 8 Februarie 2022
Nico Vermaak, hoof: Maatskappysekretariaat, Graan SA

1102

Graan SA se Kongres word vanjaar in persoon op 2 en 3 Maart te NAMPO Park aangebied.

Tydens die besluitneming het die Dagbestuur alle faktore in ag geneem, insluitend die huidige tendense wat daarop dui dat die vierde COVID-19-golf in Suid-Afrika afgeskaal het tot aanvaarbare vlakke; die huidige regulasies van toepassing en die fasiliteite te NAMPO Park om Kongres aan te bied.

Terugvoer van produsente dui verder daarop dat hulle ’n kongres in persoon te NAMPO Park verkies bo ’n virtuele kongres soos in 2021.

Die kongrestema vir 2022 is “Verantwoordelikheid in verandering/Responsibility in change”.

Fokusbesprekings
Kongresbesprekings sal fokus op die eskalerende insetkoste wat die volhoubaarheid van graanproduksie onder druk plaas. Twee paneelbesprekings word aangebied met deelname van kundiges en leiers uit die insetbedryf.

Tydens die eerste fokussessie sal navorsing en ontwikkeling asook tegniese aspekte en nuwe tegnologie vir oesbeskerming, agrochemie en saad bespreek word. ’n Beleidsomgewing om die volhoubaarheid van plaaslike graanproduksie te ondersteun, is noodsaaklik. Ramasodi Moketsa, Direkteur-generaal van die Departement van Landbou, Grondhervor­ming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD) het die uitnodiging aanvaar om Kongres by te woon en deel van die paneelbespreking te vorm.

Die tweede paneel- en groepbespreking sal spesifiek op die kunsmisbedryf gefokus wees. Toonaangewende leiers uit die kunsmisbedryf, die Departement van Handel en Nywerheid (DTI) en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC) sal ook hierdie bespreking ondersteun.

Dag een van Kongres word afgesluit met ’n bespreking oor grondhervorming binne ’n vryemarkomgewing. Aanbevelings sal gemaak word oor ’n gemengdefinansieringsmodel (blended finance model), wat nuwe geleenthede vir kommersiële produsente vir deelname aan grondhervorming kan skep.

Op dag twee van Kongres word wegbreekgroepe gereël vir die onderskeie graanbedrywe om sake van spesifieke belang vir produsente van mielies, koring, gars en kanola, sonneblom, sorghum, sojabone en grondbone te bespreek. Terugvoer van bedryfsaksies oor die afgelope jaar sal ook tydens hierdie werksessies gegee word.

Kongres word afgesluit met ’n toekomsblik en scenariobespreking wat gelei sal word deur dr Morne Mostert.

Afgevaardigdes na Kongres
Kongres is gekonstitueer met 374 afgevaardigdes van 33 streke. Die af­vaardiging word bepaal deur die driejaar- skuiwende gemiddelde vrywillige heffing, wat deur die onderskeie streke oorbetaal is. Ledegelde is jaarliks van toepassing vanaf 1 Maart tot einde Februarie en die status van lidmaatskap word op 28 Februarie 2022 bevestig. Geen ledegelde sal tydens Kongres aanvaar word nie. Indien ledegelde nie teen 28 Februarie oorbetaal is nie, sal afgevaardigdes Kongres as waarnemers sonder stemreg bywoon.

Die huidige lidmaatskapfooi vir kommersiële lede beloop R1 000 plus BTW asook die vrywillige bedryfsheffing betaalbaar op die onderskeie kommoditeite. Navrae oor lidmaatskap kan gerig word aan Patricia Zimu by 086 004 7246.

Enige navrae oor Kongres kan gerig word aan Nico Vermaak by 086 004 7246.