Tydigheid verhoog effektiwiteit en doeltreffendheid – 2018 Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar

    1680

    In die Swellendam-omgewing boer mnre Johan en Dirkie van As. Hierdie twee dinamiese broers boer met koring, gars en kanola asook met Merino-skape wat op lusern loop. Dié kombinasie maak dit moontlik om ’n stabiele boerdery te bedryf waar die vee, aangeplante weiding en gewasse mekaar komplementeer en sodoende die beste resultate en goeie kontantvloei verseker.

    Johan en Dirkie het reeds lank terug die waarde van goeie holistiese en oorhoofse beplanning besef. Laasgenoemde word deesdae só opgestel dat dit die boerdery rig en lei. Die beplanning word jaarliks gedoen, maar meer as een keer per jaar aangepas om die voorspellings en werklikhede bymekaar te bring. Vertakkinge moet nie net oor die lang termyn winsgewend wees nie, maar moet ook die boerderystelsel se winsgewendheid verhoog. Indien ’n vertakking nie hieraan kan voldoen nie, is sy dae op die plaas getel.

    Die jonger generasie begin ook tot die boerdery toetree en Johan se seun, AJ, is reeds op die plaas. Jonger generasie produsente bring nuwe gedagtes en wie weet – dalk kan hommeltuie die effektiwiteit en doeltreffendheid help verhoog.

    Bemarking
    Bemarking is ’n deel van die boerdery wat baie aandag verg. Dit help nie daar is baie om te verkoop en die prys is laag nie – dan bly winste onder druk. Om dié rede weet die broers presies hoeveel die graan per ton kos en kan hulle ’n gelykbreekprys bepaal
    waarteen dit verkoop moet word. Vir elke gewas en vertakking word ’n bemarkingsplan opgestel om die pryse te verskans. Soms word die pryse verskans deur voorseisoenkontrakte, termynkontrakte of spotpryse en later deur die verhandeling van koring met silokontrakte.

    Beplanning sonder nougesette implementering en kontrole help absoluut niks nie. Dié twee perfeksioniste doen alles in hul vermoë om die aksies presies te laat uitvoer soos dit beplan is, maar as daar van die beplanning afgewyk moet word, sal hulle nie huiwer om dit te doen nie – mits die stap die winsgewendheid verskans of verhoog. Kontrole is vir hulle baie belangrik. Johan en Dirkie weet presies wat op elke plaas aangaan, asook waarmee die werkers hulself moet besig hou. Om self by te wees as die groot aksies gedoen word, is van kardinale belang.

    Tydigheid
    “As jy ses dae van die week vroeg opstaan en die sewende dag slaap tot die son jou uitbak, sal jy as ’n laatslaper bekend staan,” noem Dirkie. Dié lewensfilosofie dryf die broers om te sorg dat alles tydig op die plaas gebeur. “Ons poog om aksies eerder te vroeg as te laat te doen en die beleid het nog altyd vir ons gewerk,” sê hy.

    Deur altyd voor te wees, laat die werk vloei en so kan bottelnekke vermy en reggestel word sonder om produksie te benadeel. Deur aktief te sorg dat die regte goed reg gedoen word, sal die effektiwiteit en doeltreffendheid van die besigheid verhoog en meer geld in die sak bring.

    Beplanning
    Daar word nie geskroom om van spesialiste gebruik te maak nie en die beplanning word in samewerking met so ’n persoon in die omgewing gedoen. Verder word bemesting asook chemiese beplanning en kontrole in samewerking met kundiges gedoen. Spesialiste help ook met graanprysbestuur.

    Arbeid is vir die broers belangrik. Gelukkige werkers gee meer as wat van hulle verwag word. Deur erkenning en verantwoordelikheid aan senior werkers te gee, word hulle deel gemaak van die besigheid se vooruitgang. Dit bly belangrik om gereeld met die plaasbestuurders te kommunikeer. Op só ’n manier bly almal op hoogte en is die mikpunte duidelik vir almal.

    Gewasrotasiestelsel
    Alle lande op die plaas is nie dieselfde nie en daarom het die broers besluit om die gronde volgens hul potensiaal in te deel en daarvolgens te bestuur. Die lande word volgens hoë, medium en lae potensiaal ingedeel. Vir elke land is daar ’n gewasrotasiestelsel wat gars, kanola, koring en lusern insluit. Met die rotasie word sekere probleme soos onkruid, bemesting en grondvrugbaarheid aangespreek.

    Bemesting word volgens ’n holistiese bemestingsbenadering bepaal. Dit sluit in: Die grond se produksiepotensiaal vir die gewas wat verbou gaan word, die vorige gewas se bemestingonttrekkings, grondontledings en die stadium in die rotasiestelsel.

    Lusern sal een of ander tyd geplant word en daarom moet vroegtydig voorsiening gemaak word om die grondregstellings daarvoor te doen. Weens die omvang van die besigheid word gepoog om die bemesting tot ’n mate te standaardiseer sodat daar nie te veel veranderinge tydens plant gedoen hoef te word nie.

    Kopbemesting word tydig toegedien. By die gars en koring word dit ongeveer 40 dae na opkoms gedoen, terwyl die kanola met stamverlenging bemes word. As chemiese regstellings gemaak moet word, sal dit voor die plantproses gedoen word.

    Bewaringsboerdery en plaagbeheer
    Bewaringsboerderystelsels en minimumbewerking word op die plaas toegepas. Planters is toegerus met tande waarmee voorplant onkruiddoders en bemesting toegedien word. Daar word seker gemaak die saad word op die regte diepte geplant sodat dit gelyktydig sal opkom. ʼn Goeie plantestand is belangrik om onder meer onkruide te beheer en sodoende word oeste verseker.

    Minimumbewerking kan net werk as die onkruide in die somer aktief beheer word. Die bestuur van die grondbedekking is van kardinale belang omdat dit water en vog bewaar en onkruid onderdruk.

    Die broers doen alles in hul vermoë om die onkruide aktief te beheer. Klein onkruide is maklik om in toom te hou en daarom word gepoog om vroegtydig daarvan ontslae te raak (as hulle nog jonk is). Someronkruide word chemies hanteer terwyl die winteronkruide in die gewasse tydig met vooropkoms en doelgerigte bespuitings beheer word. Die grasse word gewoonlik op twee- of drieblaarstadium van die gewas beheer, terwyl die breëblare ongeveer twee weke later uitgespuit word.

    Swamme kan baie groot skade aan die gewasse aanrig en dit word tydig aangespreek. Kanolaswamme word rondom sesblaarstadium beheer terwyl garsswamme rondom agt weke tot tien weke na plant en dalk weer vier weke later bespuit word. Die koringswamme word rondom vlagblaarstadium en met aarverskyning beheer. Met swambespuitings word mikro-elemente ook toegedien.

    Luise kan vinnig die opbrengs vernietig, dus is die tydige beheer daarvan baie belangrik. Sistemiese middels speel ’n groot rol by luisbeheer. Daar word gepoog om die spuitaksie te optimeer deur sekere middels gelyktydig te bespuit, maar tog word binne die aanbevole riglyne en mengbaarheid gehou.

    Kultivarkeuse
    Kultivarkeuse word gedoen aan die hand van die werk wat deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou (Elsenburg) in die Suid-Kaap gedoen word. Die geskikste kultivar vir die potensiaal van die land word gekies. Hoëpotensiaal-lande kan byvoorbeeld met ’n kultivar wat langer groei beplant word, terwyl lande met ’n laer potensiaal ’n korter groeier sal kry. Die prestasie van die verskillende kultivars op die plase speel ook ’n rol om te besluit watter kultivars waar geplant word.

    Lusern
    Lusern maak ’n groot deel van die wisselbouprogram uit en is ’n belangrike komponent van die skape se voervloei. Dit word saam met al die gewasse, maar hoofsaaklik koring, geplant. Die gewasse groei saam en die lusern bly agter vir die volgende klompie jare as weiding. In die ou lusernlande word gras goed beheer, waarna die lusern doodgespuit word.

    Die lande word kruis diep gewerk om die grondverdigting wat die vee veroorsaak, op te hef. Gewoonlik word die lusern met koring opgevolg waarna die lande weer in die graansiklus val. Die lusern word deur die skape bewei en die drakrag word volgens die grondpotensiaal bepaal. Die skaapbelading kan tussen drie kleinvee-eenhede (KVE) en 4,5 KVE per hektaar aangeplante weiding wissel. Lusernweiding se leeftyd is ongeveer vyf jaar.

    Verantwoordelikhede verdeel
    Om so ’n groot boerdery te maak werk, word die werk tussen die broers verdeel. Dirkie is hoofsaaklik verantwoordelik vir die saai-afdeling, terwyl Johan meestal die vee en administrasie hanteer. Wedersydse respek en kommunikasie is van kardinale belang.

    Die gesamentlike doelwitte rig die boerdery en oor-en-weer-betrokkenheid tussen die bedrywe help beide broers op hoogte van sake bly. Gedurende die plant- en oestye op die plaas help albei broers om die werk reg en tydig gedoen te kry.

    Daar word gefokus op die verhoging van effektiwiteit en doeltreffendheid. Met dít as mikpunte, styg die produksie en daal die koste. Dit is hoekom hulle ook op tydigheid fokus, want dit is een aspek wat die effektiwiteit en doeltreffendheid verhoog.

    Die belangrikheid van groei kan ook nie genoeg beklemtoon word nie. Om net te groei sonder om seker te maak dat dit winsgewend is, sal egter die einde van die besigheid beteken. Die besigheid het oor tyd dramaties gegroei en winsgewendheid het hiermee saam geloop. Volhoubaarheid is van kardinale belang. As ’n besigheidsgeleentheid hom voordoen, sal die broers dit ondersoek en as dit die moeite werd is, sal die geleentheid aangegryp word.

    Vir meer inligting, e-pos vir Johan of Dirkie by vanasbroersedmsbpk@kinko.co.za, of kontak vir Pietman Botha by 082 759 2991.