Swart ekonomiese bemagtiging – DEEL 1: Praktiese en volhoubare oplossings

    Johann van Huyssteen, Van Huyssteens Kommersiële Prokureurs

    1205

    Suid-Afrika se politieke en ekonomiese onsekerheid skep groot twyfel in die strategiese beplanning van beleggers en produsente in die landbousektor. Tot dusver is daar geen aanduiding dat grondhervorming suksesvol geïmplementeer sal kan word met min of geen negatiewe impak op beleggings en produksie nie.

    Die onsekerheid rondom grondhervorming, gepaardgaande met die toenemende vereistes vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB), verg innoverende en volhoubare beplanning, herstrukturering en bowenal behoorlike finansiële strukture.

    Die SEB-beginsels en die implementering daarvan word gereguleer deur die Wet op Swart Ekonomiese Bemagtiging, 2004 (die Wet) en die SEB-kodes. Behalwe voormelde moet verskeie ander regulatoriese vereistes (belasting, die Maatskappyewet en arbeidswette) deurentyd in gedagte gehou word wanneer SEB-strukture oorweeg en geïmplementeer word.

    In die privaat landbousektor is daar verskeie finansieringstrukture en modelle ontwikkel wat die sleuteluitdagings van SEB aanspreek. Die kern bly egter eienaarskap. Die oogmerk daarmee is die bevordering van volhoubare swart besighede en die oordrag van kennis wat uiteindelik ’n transformerende Suid-Afrikaanse ekonomie ontwikkel.

    Die strukture word geïmplementeer in ’n verskeidenheid van modelle, maar die wesentlike probleem bly die tekort aan befondsing. Die primêre struikelblok wat die potensiële implementering van SEB-strukture betref, is die ontoeganklikheid tot kapitaal om SEB-projekte te finansier.

    Die regering en die privaat sektor plaas toenemende druk op besighede om voordelige SEB-sertifikate te verskaf. Dit word vereis dat sertifikate nie net ’n goeie telling op die verskeie elemente/bene vir SEB-graderings moet reflekteer nie, maar ook dat besighede voldoen aan die SEB-eienaarskapelement. Besighede, veral in die landbousektor, is desperaat om deurdagte en volhoubare SEB-eienaarskapoplossings te vind.

    Daar is verskeie moontlike SEB-eienaarskapoplossings wat voorgestel kan word. Van Huyssteens Kommersiële Prokureurs verduidelik enkele strukture in meer detail hier onder. Neem egter kennis dat die SEB-eienaarskapstrukture (soos hier onder verduidelik), slegs moontlikhede is en dat elke situasie en aard van die landboubesigheid geassesseer moet word alvorens enige SEB-eienaarskapstruktuur geïmplementeer kan word.

    Besighede in Suid-Afrika sal dit gewoonlik oorweeg om SEB-eienaarskapstrukture te implementeer indien dit:

    • Bestaande markaandeel beskerm;
    • addisionele markaandeel skep (byvoorbeeld waar konkurrente nie SEB-eienaarskap het nie);
    • mededingende of bemarkingsvoordele inhou; of
    • ’n kontraktuele of statutêre (lisensie en permit) vereiste is.

    Die keuse tot en implementering van ’n SEB-eienaarskapstruktuur moet nie ligtelik oorweeg en uitgevoer word nie. Hier volg enkele voorbeelde.

    Tradisionele verkoop van besigheid of belang
    Sou ’n besigheid ’n SEB-eienaarskapelement inkorporeer, beteken dit dat die besigheid ’n belang (of ’n gedeelte van die besigheid) moet verkoop aan ’n voorheen benadeelde swart persoon. In die meeste gevalle sal die swart aandeelhouer nie in staat wees om die nodige fondse te bekom ten einde die belang te finansier nie.

    Tradisioneel kan die SEB-eienaarskapstruktuur, as voorbeeld, soos volg geïmplementeer word:

    • Die bestaande bedryfsmaatskappy (Maatskappy A in die voorbeeld) skep ’n spesiale voertuig (Maatskappy B in die voorbeeld) wat spesifiek vir die SEB-transaksie gebruik word. Maatskappy B het aanvanklik geen bates of laste nie en die swart belegger sal 26% van die uitgereikte gewone aandele van Maatskappy B teen ’n nominale bedrag van R1/aandeel kry.
    • Maatskappy A (wat aan die bestaande nie-swart aandeelhouers behoort) sal 74% van die uitgereikte gewone aandele van Maatskappy B ook teen ’n nominale bedrag van R1/aandeel verkry.
    • Maatskappy A verkoop dan sy hele besigheid en bedrywighede (alle bates en laste) aan Maatskappy B.
    • Die verkoop word gefinansier by wyse van ’n lening deur Maatskappy A aan Maatskappy B. Met ander woorde, betaling van die uitstaande koopprys word uitgestel.

    Maatskappy B se winste sal gedeel word tussen die twee gewone aandeelhouers (naamlik die SEB-belegger en Maatskappy A) ooreenkomstig hul aandeelhouding in Maatskappy B, op voorwaarde dat die kapitaal en rente op die lening eerste betaal moet word.

    Die lening kan óf gestruktureer word as ’n normale langtermynlening met ’n vaste rentekoers (byvoorbeeld gekoppel aan prima) óf as voorkeuraandele uitgereik deur Maatskappy B aan Maatskappy A om die koopprys te finansier teen dieselfde terme en voorwaardes – dit wil sê ’n vastekoeponkoers, aflosbaar oor byvoorbeeld tien jaar, en sonder enige stemreg of enige reg om andersins in enige van die winste van Maatskappy B te deel.

    Die transaksie moet baie versigtig benader word, aangesien kapitaalwins betaalbaar kan wees sou dit nie reg gestruktureer word nie.

    Omskakeling van bestaande waarde na ekwiteite
    ’n Moontlike alternatief tot die bogenoemde tradisionele verkoop, is die volgende:

    • Die bestaande bedryfsmaatskappy (Maatskappy A) verkoop nie sy besigheid (bates en laste) aan ’n nuwe entiteit nie, maar omskep eerder alle bestaande ekwiteite (met ander woorde gewone aandele) om in voorkeuraandele met eienskappe wat vir SEB-doeleindes as skuld erken word.
    • Dit is belangrik dat die voorkeuraandele kwalifiseer as ekwiteite vir belasting- en maatskappyregdoeleindes. Meer spesifiek, die voorkeuraandele moet gestruktureer word op ’n wyse waardeur dit verhoed word dat die voorkeuraandele-dividende van belang word vir belastingdoeleindes.
    • Die waarde waarteen die gewone aandele omskep word in voorkeuraandele, sal gelyk wees aan die ouditeur se waardasie van Maatskappy A. Die netto effek hiervan is dat die historiese waarde van Maatskappy A eenkant gehou word net tot voordeel van die bestaande aandeelhouers.
    • Die nuut uitgereikte voorkeuraandele sal nie stemreg hê nie en aflosbaar wees ten einde as skuld vir SEB-doeleindes erken te word.
    • Nuwe gewone aandele word uitgereik aan die bestaande aandeelhouers wat (as voorbeeld) 74% kan hou en 26% aan ’n maatskappy met swart eienaarskap.

    Die waarde van hierdie gewone aandele in Maatskappy A sal effektief gelyk wees aan die nominale waarde waarteen dit uitgereik is. Dit is omdat die totale waarde van Maatskappy A oorgeskakel word na voorkeuraandele wat deur die bestaande aandeelhouers gehou word.

    Die alternatief is soortgelyk aan die posisie van ’n verkoop van ’n besigheid soos hierbo verduidelik, behalwe dat die lening (in die voorbeeld van die verkoop van ’n besigheid) nou effektief vervang word met voorkeuraandele binne die bestaande maatskappy, sonder vervreemding van die besigheid en negatiewe belasting- en finansieringsimplikasies. Effektief finansier die bestaande Maatskappy A die transaksie.

    Werknemerskemas
    Besighede, veral in die landbousektor, besef ook dat dit belangrik is om geskoolde en kwaliteitwerknemers te behou as ’n noodsaaklike element vir ontwikkeling en groei. Afhangende van die hoeveelheid swart (voorheen benadeelde) werknemers, kan sekere winsdelingmodelle vir werknemers ook SEB-eienaarskap meebring.

    Daar is verskeie aansporingskemas en winsdelingmodelle beskikbaar om die gedrag van werknemers met dié van die aandeelhouers in lyn te bring ten einde ’n volhoubare waardeskeppende SEB-eienaarskapstruktuur moontlik te maak. Die tradisionele model om geskoolde werknemers te motiveer en behou, is ’n winsdelingmodel.

    Winsdelingmodelle kan elemente van werklike eienaarskap in ’n maatskappy insluit. Daar word tradisioneel onderskei tussen ’n winsdelingskema sonder eiendomsregte en ’n winsdelingskema met werklike langtermyneienaarskap in die maatskappy. Let daarop dat daar verskeie variasies is op die twee basiese winsdelingmodelle wat genoem word.

    Die doel van ’n winsdelingskema met of sonder eiendomsregte is om ’n proporsionele deel van die maatskappy se winste na kwalifiserende werknemers te kanaliseer. Só ’n skema kan ’n eenvoudige stel reëls wees wat in ’n beleidsdokument aangeteken is en waaroor die maatskappy besluit (gebaseer op ’n formule of metode) en ’n gedeelte van die winste as kontantbetalings aan kwalifiserende werknemers uitdeel.

    Ten einde SEB-eienaarskap daar te stel, kan die winsdelingskema met of sonder eiendomsregte ook die verkryging van ’n gedeelte van die ekwiteite in die maatskappy insluit – hetsy direkte aandeelhouding aan werknemers of deur ’n fonds of ’n trust. Die kwalifiserende werknemers sal die begunstigdes van sodanige trust word en ekonomiese belange van die trust ontvang.

    Die trust sal die aandeelhouer wees en kwalifiserende werknemers sal nie regstreeks eienaarskap in die maatskappy verkry nie, maar vir SEB-doeleindes kan die maatskappy geag word SEB-eienaarskap te hê.

    Artikel 40 van die Maatskappyewet
    In terme van die vorige Maatskappyewet was dit nie moontlik om aandele uit te reik sonder vergoeding nie. Sedert 2011 kan aandele uitgereik word voor die maatskappy geld vir die uitreiking ontvang. Die aandele so uitgereik, word in trust gehou tot tyd en wyl dit betaal is. Sou daar nie “rente” gehef word op die uitstaande skuld en die maatskappy nie die reg het om betaling te eis nie, sal die transaksie geld vir SEB-doeleindes.

    Sulke aandele word oor tyd met dividende betaal. Die beskerming vir die maatskappy lê daarin dat die aandele in trust gehou word tot betaling plaasvind.

    Private aandelefonds
    Die SEB-kodes bied ’n verdere alternatief, veral vir nuwe opkomende besighede om SEB-eienaarskaperkenning te kry.

    ’n Private aandelefonds belê kapitaal in ’n nuwe of ontwikkelende onderneming in ruil vir gedeeltelike besit van die besigheid en ’n deel van die winste. Daar is ’n toename in die gebruik van private aandelefondse om SEB-transaksies te finansier, veral wanneer bestaande blanke eienaars ’n deel van hul besighede aan swart entrepreneurs wil verkoop.

    In terme van die SEB-kodes kan ’n bestaande besigheid geag word SEB-eienaarskap te hê, op voorwaarde dat SEB-eienaarskap voortspruit vanuit ’n private aandelefonds. Met ander woorde, die private aandelefonds hou ’n belang in die besigheid.

    Die betrokke besigheid sal slegs SEB-eienaarskaperkenning kry via die private aandelefonds, op voorwaarde dat die private aandelefonds voldoen aan die volgende kriteria:

    • Ten minste 51% van enige van die private aandelefonds se stemreg wat verband hou met die belang waardeur die private aandelefonds eienaarskap besit, moet deur swart mense gehou word.
    • Ten minste 51% van die private aandelefonds se uitvoerende bestuur en senior bestuur moet swart mense wees.
    • Ten minste 51% van die winste wat deur die private aandelefonds gemaak word, moet by wyse van skriftelike ooreenkoms, swart mense toeval.
    • Die private aandelefonds moet poog om ten minste 51% van die waarde van fondse te belê in maatskappye wat ten minste 25% regstreekse swart aandeelhouding het.

    Gevolgtrekking
    ’n Kombinasie van bogemelde voorbeelde is ook moontlik. Soos reeds genoem moet elke situasie, maatskappy en boerdery op sy eie beoordeel word ten einde die beste struktuur daar te stel wat nie net die eienaar pas nie, maar ook effektief vir SEB-doeleindes werk.

    Dit is ook belangrik om te verseker dat daar voldoen word aan die regulatoriese vereistes en veral die Wet en die SEB-kodes wanneer enige SEB-eienaarskaptransaksie oorweeg word. Swak beplanning en nienakoming van wetlike bepalings kan aanleiding gee tot onvoorsiene verliese en soms katastrofiese gevolge.

    Dit is daarom belangrik om enige SEB-inisiatiewe saam met ’n kundige kommersiële prokureur te beplan voordat enige transaksie aangegaan word.

    Vir navrae, kontak Van Huyssteens Kom­mer­siële Prokureurs by 012 349 2306 of besoek www.vanhuyssteens.co.za.