Skakel in vir vroegoggend-landbounuus

    Elizabeth Botha, SA Graan/Grain medewerker

    1480

    Produsente en ander rolspelers in die landboubedryf wat vroeg uit die vere is, kan elke weeksoggend douvoordag die ketel aansit en hul oggendkoffie geniet terwyl hulle by die televisieprogram Grootplaas inskakel om die jongste landbounuus te hoor. Grootplaas word Maandae tot Vrydae van 05:30 tot 05:50 op kykNET (kanaal 144 op DSTV) en kykNET en Kie (kanaal 145) uitgesaai.

    Die ankeraanbieder, me Elsa Esterhuizen, bring kykers dan op hoogte van die nuutste verwikkelinge in die landboubedryf en interessante onderwerpe wat betrekking het op die landbousektor, soos veesiektes, die verskillende bedrywe en passievolle boerderye.

    Elsa sê die regstreekse program van 20 minute behels ’n landbounuusbulletin oor die huidige stand van sake in die landbousektor en gesprekke oor enigiets wat verband hou met landboukwessies. Selfs plaasdiere kom maak soms ’n draai op die stel.

    Grootplaas was aanvanklik deel van die radiostasie Groot FM 90.5 se gewilde ontbytprogram, Die Groot Ontbyt, wat elke weeksoggend tussen 06:00 en 08:00 regstreeks op kykNET en kykNET en Kie uitgesaai word.

    Elsa, wat sedert 2013 by Groot FM 90.5 as aanbieder betrokke is en groot agting vir rolmodelle soos Mariëtta Kruger het, is van die eerste uitsending af deel van Grootplaas. Sy is ook nog steeds die nuus- en aktualiteitsaanbieder van Die Groot Ontbyt, wat direk na Grootplaas uitgesaai word.

    Grootplaas was aanvanklik ’n kort landbou-insetsel van vier minute lank, wat deel van Die Groot Ontbyt was, maar die vervaardigers het toe besef dat ’n groot behoefte bestaan aan dieselfde tipe program wat ’n bietjie langer is. Die nuwe program is aanvanklik een keer per week uitgesaai, waarna dit uitgebrei het tot twee keer per week – en later die huidige vyf keer per week.

    “Dis vir my van die begin af ’n voorreg om die ankeraanbieder van hierdie program te wees en dit elke weeksoggend aan te bied. Ek leer elke dag iets nuuts en moet sê dat elke gesprek en antwoord net meer respek vir ons produsente by my kweek,” vertel sy.

    Volgens me Izaan Steenkamp, inhoudsbestuurder van Die Groot Ontbyt en Grootplaas, is die kykergetal gemiddeld 54 164 kykers per week.

    Graan SA is gereelde gaste
    Graan SA is een van die organisasies wat gereeld in die ateljee kom kuier om oor ’n verskeidenheid onderwerpe te gesels. Graan SA-spesialiste wat aan die program deelneem, fokus op die jongste verwikkelinge in die graanbedryf, uitdagings waarmee die bedryf gekonfronteer word, moontlike oplossings en vooruitskattings vir die bedryf.

    Dr Hendrik Smith, ’n bewaringslandboufasiliteerder by Graan SA, het al ’n paar keer op Grootplaas kom kuier. “Ek het met die kykers oor die konsep van bewaringslandbou gesels en interessante wenke oor die voordele van dié tipe boerdery met hulle gedeel,” sê hy.

    Mnr Luan van der Walt, ’n ekonoom by Graan SA, verskyn ook gereeld op Grootplaas. Hy sê Graan SA se personeel gesels op die program oor relevante inligting in die graanbedryf, wat beide mark- en insetinligting insluit, asook inligting oor ander tegniese aspekte in die graanbedryf.

    “Graan SA word vir so twee onderhoude per maand genooi, wat dan deur een van ons ekonome hanteer word. Dit is gewoonlik ek of een van die ander ekonome, dr Dirk Strydom of Corné Louw. Ek bespreek meestal die markinligting, Corné hanteer die inligting oor insette en dr Dirk behandel beide inligting oor die mark en/of insette of ander tegniese aspekte in die graanbedryf, soos koringgradering,” sê hy.

    Onderwerpe waaroor Luan al op Grootplaas gesels het, sluit in die gebruik van pariteitspryse wanneer bemarkingsbesluite geneem word, plaaslike koringproduksievooruitsigte en die internasionale koringmark, produksieverwagtinge vir die somergraanseisoen ná warm en droë toestande in die plantseisoen en die wisselvalligheid van die wisselkoers se invloed op graanmarkte.

    Corné het tydens onlangse uitsendings op onderwerpe soos die statutêre heffing op sojabone waarvolgens saadmaatskappye vir hul prestasie in die sojaboonsaadmark vergoed kan word, die gehalte van produksie-insette en die Nasionale Oesskattingskomitee se verslag oor somergewasaanplantings gefokus.

    Die program is na die tyd op die landbouwebtuiste www.agriorbit.com en ’n YouTube-kanaal beskikbaar. Belangstellendes kan ook die Facebook-blad Grootplaas of @grootplaas op Twitter besoek.