
Wêreldwyd is daar groot druk om produksieprosesse meer organies en omgewingsvriendelik te maak. Groot dryfvere agter die beweging is omgewingskwessies soos aardverwarming en die noodsaaklikheid om voedselproduksie in ooreenstemming te bring met die bevolkingstoename.
Een van die belangrikste redes is egter om die langtermynwinsgewendheid van die produsent te verhoog. Dit het die fokus geplaas op herlewingsboerderypraktyke om ’n groter opbrengs te probeer kry en dit te handhaaf deur minder op chemiese insette staat te maak. Die enigste manier om dit reg te kry is deur grondgesondheid op ’n natuurlike manier te bevorder.
Hier speel die vermeerdering van die grondbiologie en die inbring van lewendige wortels in die produksiestelsel ’n groot rol. Na jare se navorsing – gedoen deur onder meer 9five Integrated Nutrient Systems en ander instansies – gebaseer op die beginsel van die wêreldbekende Soil Food Web van dr Elaine Ingham, is daar produkte beskikbaar om die grondgesondheid weer te herstel, ongeag die historiese gebruike van daardie grond. Alle insette moet egter binne herlewingsboerderypraktyke pas.

Grond is die oorsprong van bykans alle lewe op aarde – dit is die basis van alle voedselproduksieprosesse. Grond bestaan nie net uit abiotiese materiaal en chemiese prosesse nie, dit is ook die basis van ’n hele ekosisteem van lewende mikroörganismes, wat die meeste van die prosesse in die grond reguleer. Die biotiese en abiotiese dele van die grond is dus direk afhanklik van mekaar om gesonde grond te verseker.
Hoogs gespesialiseerde organiese produkte is deur verskeie organisasies soos 9five ontwikkel juis om hierdie biotiese deel van die grond weer op te bou deur die ekosisteem in die grond te hervestig. Die basis van heelwat van die produkte (groeimediums) moet organiese materiaal wees wat dien as ’n koolstofbron wat met biologie gekombineer word. Dis belangrik om te onthou dat ’n diverse ekosisteem van mikrobiese lewe afgebreekte plantmateriaal as koolstofbron en voedingstof benodig.
Mikrobiese lewe
Grondkunde en spesifiek die ekologie in die grond is ’n baie ou konsep, maar dit is relatief nuut in moderne boerdery. Dit is egter van kardinale belang wanneer dit kom by grondgesondheid. Die mikrobiologiese lewe binne die grond is uiters divers, maar kan opgedeel word in vier hoofgroepe: bakterieë, swamme, Protozoa en nematodes.
Hierdie vier groepe moet in ’n spesifieke verhouding in die grond teenwoordig wees om optimaal as ekosisteem te funksioneer. Die bakterieë en swamme vervul funksies binne die voedingstofsiklusse deurdat hulle minerale opneem en dit omskep in ’n wortelopneembare vorm. Verder vervul predatore soos Protozoa en nematodes ’n addisionele rol deurdat dit die bakterieë en swamme verorber en verwerk, en so word die voedingstowwe dan aan die plante beskikbaar gestel. Hierdie mikrobiese organismes vorm ’n simbiotiese verhouding met die wortels in die risosfeer deurdat die organismes en wortels met seine kommunikeer om tekorte in die plant te identifiseer.


Die mikrobes in die onmiddellike omgewing van die wortel kan die pH op mikrovlak verander om sodoende die element of voedingstof aan die plant beskikbaar te stel. In ruil daarvoor groei die plant beter en is dus in staat om suikers aan die mikrobes te voorsien in hierdie simbiotiese verhouding. Die verhoging van die voordelige mikrobes in die grondekosisteem verbeter die plante se gesondheid deur die BRIX-waarde te verhoog en maak hulle minder vatbaar vir parasiete.
Sekere bakterieë soos Bacillus sp. dien ook as stikstofbinders om die stikstofvlakke in die grond te verhoog. Verder is daar sekere swamme wat help om parasitiese swamme te onderdruk. Een so ’n voorbeeld is die gebruik van Trichoderma sp. om parasitiese swamme soos Sclerotinia sp. en Alternaria sp. teen te werk. Hierdie mikrobiese ekostelsel word verder bevorder deur die gebruik van dekgewasse in die winter, wat sorg vir genoegsame organiese materiaal in die grond om die simbiotiese verhouding tussen plante en organismes voort te sit.
Vervaardiging
Met die vervaardiging van die produkte word twee produksieprosesse gevolg. Beide moet onderhewig wees aan streng kwaliteitsbeheermaatreëls en die gebruik van ’n aërobiese sisteem. Die eerste produksieproses vervaardig ’n ten volle gekomposteerde organiese komponent, wat verseker dat die materiaal heeltemal afgebreek word en dus genoeg humiese en fulviese sure bevat vir die bevordering van voedingstofopname deur die plantwortels. Die afgebreekte plantmateriaal dien as ’n koolstofbron en dus voedingstof vir die diverse ekosisteem van mikrobiese lewe wat deur verskeie inokulasieprosesse in die materiaal gevestig word.
Die tweede komponent van die produkte is die erdwurmafval of vermikompos (vermicast), wat ryk is aan mikrobiese lewe en mikro- en makro-elemente bevat. Die erdwurms wat gebruik word vir die proses verwerk die hoogs gespesialiseerde wurmkos teen ’n hoë tempo en produseer ’n vermikompos wat meer as 95% suiwer is. Hierdie bogenoemde twee komponente vorm die basis van 9five se produkte.
Derdepartytoetse
’n Groter variasie van spesies binne die produk wat toegedien word vir grondgesondheidverbetering het ’n voordeel bo ’n enkelspesie. ’n Enkelspesie word soms voorgestel in agronome se programme, maar is slegs ’n korttermynoplossing omdat die proses nie volhoubaar is nie. Sodra ’n groot verskeidenheid organismes saam met ’n koolstofbron toegedien word, vestig ’n hele ekosisteem van biologiese lewe. Verkieslik moet die diversiteit van die plaaslike omgewing verskaf word en daarom word inheemse organismes bo laboratoriumorganismes verkies.
Dit is belangrik om te fokus op die kwaliteit van die produk wat gelewer word. Om dié rede moet die hele proses gekontroleer word en daar moet seker gemaak word dat die produk op standaard is en bly. Produkte moet verkieslik elke paar maande vir DNS-toetse deur ’n derde party gestuur word om te bepaal hoeveel spesies binne die produkte voorkom.
Volgens die resultate van 9five se ontledings is daar tussen 1 200 en 1 900 verskillende spesies bakterieë en tussen 240 en 420 verskillende spesies swamme in hul produkte. Die kanse op oorlewing van die organismes is dus soveel beter, siende dat die produkte oor meeste van die biome in Suid-Afrika gebruik word. Alle mikrobiologiese lewe in die produkte is inheems en is nie in ’n laboratorium gekweek nie. Hierdie diversiteit van organismes binne elke groep werk saam om te verseker dat alle noodsaaklike prosesse in die grond optimaal plaasvind.

Kwaliteitbeheer
9five se produksieproses behels streng kwaliteitsbeheermetodes en slegs organiese materiaal word gebruik in die vervaardiging van al die produkte. Mikrobiese tellings word gereeld gedoen tydens die vervaardigingsproses om te verseker dat die regte hoeveelhede en verhoudings van organismes gehandhaaf word. Volgens die Soil Food Web word ’n rekenaarprogram gebruik om hierdie tellings te doen. Hierdie program (SMAPP) is die finale stap om te bepaal of die komposteringsproses voltooi is. Die produksieproses volg standaarde soos voorgeskryf deur Europese, Japannese en Amerikaanse standaarde. Alle produkte is ook Ecocert gesertifiseer en het ’n DALRRD Groep 2-registrasie.
Produkte
’n Wye verskeidenheid organiese produkte word vervaardig om die beste moontlike resultate te lewer. Groeimediums soos ’n blokmengsel, ’n saailingmengsel, ’n potplantmengsel en korrels (granules) word alles vervaardig met die komposmateriaal as basis. Hierdie mengsels is die resultaat van jare se navorsing en verfyningswerk in samewerking met kwekerye en snyblomvervaardigers.
Die korrels word vervaardig om maklik toegedien te kan word, en dit word in verskeie groottes vervaardig. Hierdie korrels kan deur middel van strooiers, planters en hommeltuie toegedien word. Dan is daar ook ’n vloeibare ekstrak wat bestaan uit ’n diverse mengsel van verskeie mikroörganismes, asook humiese en fulviese sure. Die ekstrak het ’n aktiveerder om die mikrobiologie daarin te voed, en die ekstrak dien as ’n mikrobiese inokulasie vir die grond. Die ekstrak werk veral goed saam met die korrels as ’n addisionele hupstoot tot die hervestiging van die ekologie in die grond.
Opsomming
Die beginsel van die Soil Food Web is die herstel en opbou van die grondekologie. Die toevoeging van organiese materiaal in die grond tesame met die biologiese komponent, lei tot hierdie herlewing van die grond. Die struktuur van die grond word opgebou en sodoende word waterhouvermoë verbeter, loging word verminder en minerale bly langer in die wortelsone.
Hierdie verbeterde grondstruktuur, tesame met koolstof, bevorder ook die biologiese komponent. Die mikroörganismes in hierdie sone bevorder verskeie noodsaaklike prosesse in die grond vir ’n beter groeitempo. Die voedingstofkringloop word verbeter deur die opbou van die grondstruktuur en die ekologiese werking in die grond. Die herstel van die grondekologie lei dan later tot gesonder plante wat opbrengste bevorder.



























