Graantrusts ondersteun volhoubaarheid – DEEL 3: Proteïennavorsingstigting

    Mariëtta Cronjé, SA Graan/Grain medewerker

    1290

    Die Proteïennavorsingstigting (PNS) se doel is om die gebruik van plaaslik geproduseerde proteïen teenoor dié van ingevoerde proteïen te bevorder. Dit word gerugsteun deur proaktiewe stimulering en befondsing van toepaslike en doelgerigte navorsing, asook die bevordering en implementering van sodanige navorsingsresultate deur tegnologie-oordrag, ten einde in die toenemende proteïenbehoeftes vir dierevoeding in Suid-Afrika te voorsien, asook die benutting daarvan te bevorder.

    “Navorsing word befonds ten opsigte van die toepaslike verbandhoudende gewasse en ander proteïenbronne asook die aanwending en benutting daarvan deur die belangrikste akwakultuur-, dier- en pluimveespesies eie aan die Suid-Afrikaanse mark,” sê mnr Gerhard Keun, hoof uitvoerende beampte van die PNS.

    Die PNS verbind hom onder meer tot:

    • ’n Kritiese ingesteldheid ten opsigte van die nuutste ontwikkelings in proteïenvoorsiening en -aanwending;
    • die bevordering van koste-effektiewe navorsing;
    • die dinamiese bevordering van die implementering van navorsingsresultate;
    • die effektiewe, volhoubare benutting van natuurlike landbouhulpbronne;
    • die vermindering van buitelandse valuta wat die land uitvloei; en
    • die skep van werkgeleenthede deur ingevoerde proteïen so ver moontlik te vervang met proteïen wat plaaslik geproduseer word.

    Die stigting stel ook jaarliks fondse vir beurse beskikbaar ten einde verdienstelike aansoekers by te staan om ’n meesters- of doktorsgraad te behaal. Die doel is om te verseker dat die bedryf op beskikbare en bekwame navorsers kan staatmaak.

    Verder doen die PNS tesame met die Olie- en Proteïensaadontwikkelingstrust (OPOT), Graan SA en die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) jaarliks inkomste- en kosteramings vir kanola en sojabone. Die doel van dié inligting is om as ’n riglyn te dien vir produsente en sodat hulle dit kan vergelyk met hul eie gegewens. Aanpassings kan dan gemaak word ten opsigte van die pryse en opbrengste van gewasse asook die onderskeie koste-items om die situasie vir hul eie ondernemings na te boots.

    Die inligting verskaf, benewens die koste om ’n gewas te produseer, ook die winsgewendheid daarvan. Die relatiewe winsgewendheid van sekere mededingende gewasse in die vorm van bruto marges word ook aangebied.

    Hierdie begrotings kan ook aangewend word om ’n geheelboerderybeplanning, kontantvloeibeplannings asook ’n kredietbehoeftebepaling vir die onderneming te doen indien inligting ten opsigte van al die ander potensiële vertakkings beskikbaar is.

    Besoek www.proteinresearch.net vir meer inligting.