Optimaliseer die bestuur van Ramenas deur sleutelkenmerke

    1123


    Ramenas (Raphanus raphanistrum) is deel van die Brassica-familie of mosterdsoorte. Dit kom oorspronklik vanuit Noordwes-Europa en Asië. Raphanus beteken “vinnige verskyning” in Grieks, wat baie beskrywend is van hierdie probleemonkruid.

    Uitkenning
    Foto 1 tot Foto 7 toon die verskillende karaktertrekke van Ramenas op verskillende stadiums.

    Eienskappe en kenmerke
    Die eienskappe wat van Ramenas so ’n suksesvolle onkruid maak, is die feit dat dit ’n baie aanpasbare lewensiklus het, met hoë genotipiese variasie. Die plant is ook ’n groot saadproduseerder. As gevolg van dormansie leef die saad boonop baie lank en dit het ’n uitgerekte ontkiemingstyd.

    Verder is die plant ook ’n vinnige groeier en dus ’n sterk kompeteerder waar dit voorkom (Tabel 1). Saad versprei maklik in hooi, kaf en graan en is in sekere gevalle toksies vir vee. Daar is ook gevind dat groen peule in die teenwoordigheid van gewassaad allelopatiese effekte kan veroorsaak. Allelopatiese verwys na sekere chemiese verbindings (allelochemikalieë) wat deur bepaalde plantsoorte vervaardig en in die omgewing uitgeskei word, wat skadelik kan wees vir ander plante wat daaraan blootgestel word.

    Ramenas kan as ’n alternatiewe gasheer dien vir verskillende insekte en siektes. Meeste Ramenas-saad sal gestort word voor strooptyd van die graan. Weerstandbiedendheid teen sekere onkruiddodergroepe, soos byvoorbeeld Groep B (sulfonielureum), is reeds bekend en opgeteken.

    Ramenas is hoofsaaklik ’n winteronkruid. Omdat grondversteurings ontkieming bevoordeel, kom Ramenas minder voor op onversteurde plekke en weidings. Die onkruid kom voor op alle tipe gronde, maar is optimaal by gronde wat effe suur is, met hoë stikstofpeile.

    Enkele biologiese kenmerke van Ramenas
    Saaddormansie
    Tot 70% van Ramenas-saad sal met die aanvang van die kleingraanplanttyd nog dormant wees as gevolg van die peulgedeelte om die saad (Foto 6). Blomkleur word ook geassosieer met dormansie.

    Plante met die geel blom produseer gewoonlik minder dormante saad as plante met die baie skaarser wit en perserige blomme wat somtyds voorkom. Vroeë ontkiemers produseer gewoonlik meer dormante saad as laat ontkiemers. Saad kan tot ses jaar lank kiemkragtig in die grond bly en selfs langer in onverstoorde dieper grondlae.

    Ontkieming en opkoms
    Sowat 6% van saad ontkiem gewoonlik in die vroeg herfs, terwyl die grootste hoe­veelheid (73%) tydens laat herfs/vroeg winter ontkiem. Die restant van 21% ont­kiem gedurende laat winter/vroeg so­mer. Ontkieming kan plaasvind van 5ºC – 35ºC met die optimum tempera­­tuur van 20ºC – 25ºC.

    Blomperiode
    Ramenas begin blom vanaf vier tot twaalf weke na opkoms. Bestuiwing vind deur bye plaas en daarom kan geenoordraging deur stuifmeel oor lang afstande plaasvind.

    Saadproduksie en verspreiding
    Een plant kan tot soveel as 292 sade produseer. Saadverspreiding kan plaasvind deur onder meer landbouprodukte soos graan en hooi, asook deur voertuie, vee, wind en water. Die saadpeul breek tydens die stroopproses af by die vernouings in die peul, wat kan aanleiding gee tot dormansie soos bespreek.

    Die bestuur van Ramenas
    Die hoofdoelwit moet wees om die saadbank in die grond te minimaliseer. Indien daar van chemiese opsies gebruik gemaak word, maak seker dat die tipe middel afgewissel word met ’n ander middel met ’n verskillende werks­wyse. Gebruik andersins ’n kombinasie van middels met verskillende werkswyses om sodoende moontlike weerstandbiedendheid teen een groep uit te stel.

    Maak gebruik van onkruiddodertolerante kultivars, soos byvoorbeeld triasien-bestande kanola, om sodoende ’n ander tipe chemie ook in te span. Maak gebruik van voor-saai bespuitings waar moontlik, of miskien laat na-opkoms onkruiddoders wat tydens blomtyd van die Ramenas gespuit kan word om sodoende te verhoed dat lewensvatbare saad geproduseer word (Tabel 2).

    Vlak bewerking (1 cm – 2 cm) na die eerste reën bevorder ontkieming, terwyl die begrawe van saad dieper as 10 cm, ontkieming met tot 61% verlaag (Tabel 3). Hierdie beginsel kan prakties toegepas word deur byvoorbeeld vir twee jaar vlak bewerkings te doen om daardeur onkruidontkieming te bevorder en dan ’n langtermynweiding soos lusern te vestig.

    Beheerstrategieë
    Hoe kan die bogenoemde kenmerke gebruik word in moontlike strategieë in die beheer of bestuur van Ramenas?

    Dormansie
    Dormansie kan gebreek word deur ’n ligte bewerking van 1 cm – 5 cm om ontkieming te stimuleer, sodat voor-saai bespuitings dalk aangewend kan word.

    Doen na-oes beweiding om peule te breek en saad in die grond te trap sodat ontkieming na die eerste reën kan plaasvind, waarna voor-saai bespuitings weer oorweeg kan word.

    Teiken vroeg-ontkiemende Ramenas met chemiese beheer, omdat hierdie plante meer geneig is om dormante saad te produseer.

    Uitgerekte ontkieming
    Hierdie eienskap kan byvoorbeeld aangespreek word deur die korrekte gewaskeuse te doen. Die plant van lupiene of TT-kanola waar langer residuele middels gebruik kan word om die probleem te bowe te kom, is ’n voorbeeld.

    Kiemkragtigheid
    Bespuitings tydens vroeë blom van Ramenas (Tabel 2) kan die kiemkragtigheid van toekomstige saad benadeel. Alvorens so ’n bespuiting oorweeg word, moet daar met kundiges oorleg gepleeg word omdat van die potensiële middels ook nadelig kan wees as die kleingraan in die verkeerde stadium tydens bespuiting is.

    Ander moontlike praktyke

    • Opvang van saad of vernietiging agter die stroper soos in Australië reeds gedoen word.
    • Brand van kafrye (windrye).
    • Bewerkingspraktyke.
    • Plant van kuilvoergewasse waar alles op die land verwyder word vir kuilvoer. Bespuit dan moontlike hergroei of nuwe ontkieming daarna met kontakmiddels.
    • Groen bemesting.

    Chemiese beheer
    Die verskillende onkruiddoder-groepkodes (F2, C3 en M) verminder die kans vir weerstand teen die produk.

    Resolve® van Bayer (Reg. No. L8708, Wet No. 36 van 1947) is geregistreer op kleingraan vir die beheer van breëblaaronkruide soos Ramenas. Dit beskik oor ’n vinnige uitklopaksie sodat kompetisie met die kleingraangewas vinnig uitgeskakel word.

    Opsomming
    Enige beheerpraktyk moet daarop gemik wees om die saadbank in die grond te minimaliseer. Deur meer te weet van die onkruid se kenmerke, kan hierdie kennis gebruik word om ’n kombinasie van bestuursmaatreëls toe te pas om die probleem van Ramenas te oorkom.